6/30/2014

Prince Albert - Anysberg

3H00 in die pad, gaan 'n lang dag wees......Die mis waai stringetjies oor my en Swartberg is 'n lekker lang klim, bo gekom wil ek met Melanie praat, niks sein nie, te veel wolke. Klaas Vakie spring op my rug en soos 'n bok wat die doodskoot ontvang het val ek neer en slaap vir 20 min........

Voel sommer baie beter toe ek daar opstaan, nog steeds nie met my wonderlike vrou gepraat nie en daar is nogsteeds nie sein nie en ek mis haar baie, vrek baie...... Neuk maar in die kloof af en daar waar daar nie sein moet wees nie, daar kom die boodskappe deur, en ek en my wonderlike vrou kan praat. Vol nuwe moed sien ek 'n pragtige sonsopkoms en raak weer lus vir ry.



Van hier af is daar net een woord en dis AFKAK, geen ander term of beskrywing nie net AFKAK. Ek weet as ek gelukkig is gaan ek meer as 2 ure per nag slaap, ek weet ek gaan soos 'n oos indiese resies hoender moet trap en daar gaan nie eers tyd wees vir blog skryf nie.

Die duiwel se kombuis vlieg verby, tannie Ronel van Rouxpos se water tand waffels steek lekker vas en die moerse lang 40km klim van Roupos na Anysberg draai my brieke heeltemal vas. Jy weet Anysberg is net daar, maar dit kom nie. Jy's moeg en gatvol en jy wil graag slaap maar Anysberg kom nie. Jy trap harder, vloek meer, skree maar die aarde gee nie antwoord nie, en Anysberg kom nie nader nie. En dan uit die donker, soos 'n spook verskyn Anysberg se kantore. Tyd vir 2 ure slaap.......



No comments:

Post a Comment