5/26/2011

Sani2C saam met my boet



So gebeur dit dat ek en my boet, eintlik 'n bergklimmer, aantree vir sy eerste stage race, die Sani2C. Nou kyk toe ek besluit het om saam met my boet te ry, het ek gedink dit gaan rustiger as tevore wees, die dat hy wat Werner heet net 'n jaar of wat gelede begin fietsry het vir so bietjie cross training vir die berge.

Werner bly in Richardsbaai waar dit net so plat is soos in Klerksdorp, hulle king of the mountain is blykbaar 'n suikerriet hoop. In Desember maak hy 'n draai en ons ry toe so ent saam net om die fiksheid te toets, en ek merk dis baie plat in Richardsbaai, sommer baie, baie plat. Ek verduidelik toe aan my boet dat hy so bietjie meer sal moet oefen, anders gaan ons die heel dag in die saal spandeer.

April maak hy weer 'n draai, ons ry so 70km draai met 'n klimmetjie hier en daar, en ek ry sommer met my Freedom kit en my tong hang uit om by te bly, neem toe maar aan dis die ekstra gewiggies wat ek saamry, maar kleinboet lyk heel oraait.

Dag 1 Sani2C

Ons spring weg met 'n lekker pas, nogal heel lekker sonder die Freedom kit, elke nou en dan vra ek vir boet hoe gaan dit en hy antwoord : OK
Op 'n kol vra ek hom wat sy heart rate is en hy antwoord toe "so 181" en dis toe wat wat ek die pas so bietjie stadiger maak. Ou Werries sê hy het die eerste dag bietjie getjop, so 4 valves gebrand en baie gesukkel met die hoogte bo die see, ek moes my boet maar die laaste drie bulte uitstoot. Gelukkig was ek glad nie haastig nie, die aand vra ek vir boet wat gebruik hy so op die race en hy antwoord toe :" Water en hy eet so ietsie by die waterpunte " Ek verduidelik toe die man van supplements en wat hy moet eet en drink en staan toe maar van my goedjies af vir die man, ek kan mos nie my kleinboet so laat suffer nie.

Dag 2 Sani2C

Met 'n krag kom ek kom toe agter, hoe goed my goedjies werk, daar is nie keer aan die man nie en ek moet jaag om by te bly, my boet is besig om my binne in my moer in te ry, en om die kersie op die koek te sit is my hanger gebuig en ek sit met net drie ratte, een grootte en twee kleintjies. Werries het Gummyberry juice by Asrix gekry en Obelix moet byhou selfs teen die lang afdraandes. Ek lyk soos 'n oos Iendies ingevoerde resies hoender soos ek spin om by te bly, en my boet ry, ek vermoed Commander Crous het iets in sy oor gefluister, daar is nie keer aan die man nie. Elke nou en dan vra hy my of ek OK is, gelukkig het ek die endurance en aan die einde van die dag het ons 72 plekke opgeskyf en my bene is lam.

Dag 3 Sani2C

Na R400.00 is my fiets gefix en vandag gaan boet moet byhou, ek is reg vir hom, maar toe ek my ogies uitvee toe gaat hy alweer, ek wou nog waarsku oor die nukkerige links draai toe is hy lankal al deur, die stof het nog nie eers gaan lê van die 2 girls voor hom wat nie die draai gemaak het nie. Ek besluit toe maar dat ek hom by die Heartrate bulte bietjie staal sal wys en dalk so videoclip of wat van die man kan neem, maar nee, daar is hy ook voor my uit. By die waterpunt besluit ek dat ek darem net vir my boet sal moet wys ek kan ook ry en dis mos meer afdraende van daar na die einde, ek skraap my laaste kraggies bymekaar en daar trek ons weg en ek ry dat die rook op my draai.

Boet is vir 'n slag bietjie agter en ek voel baie beter, deur 'n lang afdraande kom die man weer verby my teen die opdraande en ek hoor die magic woordtjies " Nou's ek klaar " Ek beduie toe maar vir boet om bietjie agter my in te val en hy maak so. Teen so klein klimmetjie beduie hy iets van hy het nie ratte nie, ek dog eers sy bene is lam maar toe sien ek sy ratkabel het gesnewel en die bunch van 30 snel verby.

Vinnig besef ek dat ek baie vinnig moet planne maak vir daai laaste bult, en terwyl Werries weer die K@#$ uit die aarde ry met sy nuwe singlespeed soek ek 'n gegewe klippie om in die derailer te druk sodat hy darem 'n bietjie makliker rat teen die bult het. Op die teer posisioneer ek die klippie in die derailer en boet het darem 'n bietjie makliker rat en daar wil hy al weer gaan, ek verduidelik toe aan hom van die groot bult aan die einde en hy skaal so bietjie af. Ouboet kon darem weer vir so stukkie vir Kleinboet die opdraande uitstoot en so maak ons klaar.

Werries sê hy's baie bly dat hy nie die vorige dag soos ek net met 'n paar ratte moes ry nie, dis blykbaar nie baie lekker nie, maar dis darem baie lekker om vir Ouboet weg te ry.....

Ter opsomming

My boet was baie fikser as wat ek gedink het, ek is seker Carl het iets in sy oor gefluister, want hy haal dieselfde nukke as die man uit, ek het nou heelwat meer beenspoed as wat ek gedink het. My boet is 'n baie kompeterende donner, dit loop maar seker in die familie. Jy benodig Astrix se Gummyberry Juice as jy vir Obelix wil wegry.

Volgende jaar maak ons weer so !!!!!!!

5/10/2011

Pofmuis se maatjie Oom Pofadder




So ry ek toe mos Sondag om die agterstewe bietjie gewoond te maak aan die saal en vind toe vir Oom klein Pofaddertjie in die son lê en bak, ek dog eers een Oom Boer se bakkie het hom moertoe gery, want sy agterkant was maar baie plat. Ek toets hom toe so met die voorwiel en niks gebeur nie, toets toe maar weer en steeds niks nie, net toe ek hom wou optel ontwaak Oom Pofaddertjie.

Blykbaar baie die bliksim in omdat ek hom uit sy slaap gehaal het, dis toe wat ek hom toe maar afneem om vir die manne en vroue van die Freedom Challenge te wys hoe lyk 'n regte Pofadder, hulle praat mos altyd van die "snakes" racing snakes en Cobra's en Podadders en nog 'n paar DIK snakes.

Boys en Girls, hier is nou 'n regte, Freedom Pofadder, verradelik vinnig, tantjies nog so bietjie min vir my voorwiel, maar oorgenoeg om jou in jou spore te stop, wees maar op die uitkyk vir die outjies.

Ek hoor daar is 'n hele paar snakes op die Freedom