6/22/2014

Dag 7 Stormberg Blokhuis na Skaap Skeer stoor naby Tam Safari's

Die Kaki's is so bang vir die boer, hulle het nie eers naby gekom nie. Dis weer vrek koud, water bottel en Camel Bak pyp vries weer. Gelukkig is Mel net 'n oproep weg om my warm te hou.

Dis jaag, jaag en jaag en al waaraan ek dink is hoe om die 15 dae ding te breek en minder te maak. Vlieg soos  woeste warrel wind deur Romansfontein. Vlieg oor Aasvoëlberg en met die afgaanslag ry ek amper oor 'n likewaan in die middel van niks en nêrens. Wat maak 'n likewaan in die middel van niks op die Freedom Challenge roete.


Ek verlang huis toe, ek verlang my vrou en my kinders en bel sommer elke nou en dan net om beter te voel. Jaag, jaag Hofmeyr toe, lus vir 'n lekker koue coke, Hofmeyr hou blykbaar van die goed aan, kry sommer 2 van die goed en geniet 'n bietjie niksdoen by Karoo Bos. Hulle was klaar toe, maar vir my sal hulle oopmaak. Sit op die bankie en trek warm aan, dis nog 'n entjie Elandsberg toe, bel vir Mel, kry die nodige inligting en ons besluit op 'n plan vir die oorblywende deel van die dag. Ek mis haar, vir haar en die kinders, en dis nie sommer net mis nie, dis erg verlang. Mel is my ligpunt wat die Freedom Challenge roete aanmekaar werk, sonder haar sal dit maar sukkel gaan.

Ek en Mel bespreek die sub 15 dae ding en sy kom met 'n vreeslose plan voor die dag. Al wat oorbly is ek moet die plan volg. Oppad na Elandsberg draai ek op Glen se verdwaal paadjie af, gelukkig besef ek dit en verloor so uur, jy voel half magteloos in die donker maan, ek weet ek is op 'n pad, maar ek weet ook ek is op die verkeerde pad, ek kan enige plek slaap, maar as ek nou slaap verloor ek baie tyd.......

Draai maar om en soek die regte pad tot jy hom kry, bietjie meer as 'n halfuur is ek op die regte pad, alles lyk meer bekend, ek besef ook vir die eerste keer die portage na Elandsberg het ek nog net in die donker gedoen, sal seker in my moer in verdwaal in daglig.......

Vlieg deur Elandsberg en oppad na Stuttgaurd sien ek ln verkietende ster, einlik meer soos 'n ster wat ontplof, eem helse vuurbol wat die hele wêreld verlig en ek dink aan my vrou en ek wens ek was al klaar en by die huis. So entjie verder kry ek Steven se Aardvark, 'n bakoor jakkals wat vir my knipoog en 'n ystervark, die hele wêreld is wakker.

Daar's 'n nuwe hek aangebring by die Spekboobberg afdraai oppad na Andrew Jordaan se plaas, skielik is ek onseker, die pad lyk reg maar ek ken nie die hek nie en huiwerig ploeter ek voort, by Andrew se opstal weet ek, ek is op die regte plek en kies 'n pad tussen die werkers huise deur. Ploeter so 2km aan teen die koue wind, die plan is om agter die muur van Tam Safari's se ander hek naby die teerpad te slaap. Ek twyfel in die pad, draai om terug opstal toe, kry 'n ander pad, maar dis nie dieselfde wildshek wat ek ken nie, draai weer om. Ek is moeg, dis laat en ek is nie lus vir verdwaal en rond donner nie, kies die skaap skeer stoor, dis uit die wind en sommer 'n lekker slaap plek......

No comments:

Post a Comment