6/26/2011

Dag 11 Struishoek - Vandeventers - Toekomst - Bucklands


Trek weer vroeg weg, maak goeie vordering. Kan nie glo die Singer wat ek verlede jaar opgehang het is nog steeds daar nie, Tim het sommer gou sy buff reggemaak. Dis Freedom Challenge weer, dan reën dit, dan trek ons aan en dan trek ons uit, lyk kompleet soos 'n modeperade van vuil modder kleure.

Om saam te ry verg sy eie unieke uitdagings, Tim is soos 'n resies perd in die dag en ek is soos 'n bulldozer in die nag, ons kragte is nie altyd dieselfde nie, maar wanneer ons gel dan vlieg ons soos arende en vandag is een van daai dae ons vlieg. Die wind pla so bietjie maar die geselskap is goed en vroeg middag bevind ons, ons by die kospotte van Phillip Henderson van Toekomst, Liza pomp ons vol nuwe energie voor ons in die Phillip ons op die seepgladde modderpad begelei na die rivierkruising, hy wil sy beeste gaan kyk. Dis erg modder en gelukkig is ek en Tim naby toe Phillip met sy Landcruiser vasval in die modder, Phillip is bekommerd oor sy beeste wat moonlik ook in die modder kan vasgevang word. Ons verlaat die moddervlaktes van Darlingtondam en betree die uitgedroogte Gwaas vallei met laaste lig, Tim maak 'n oproep na sy vrou wat ons op hoogte hou met ons vordering en skrikmaak sessies van die ander challengers. In die donker vorder ons goed ek is nou weer in Bulldozer mode, ons maak 'n koffie breek by my en August se verlate plaas opstal voor ons die Perdeberg betree. By Kleinpoort maak ons weer 'n koofie breek om die energie vlakke aan te vul, ek en Tim is nou lekker moeg en begin slangetjie padjies ry, Klaas Vakie hang erg aan die oë. Ons spaar my ligte en ry met Tim s'n, die plan is om net vinnig by Bucklands te stop en dan aan te stoot om Martin Dreyer en Andrew  Barnes 'n bietjie skrik op die lyf te jaag, hulle hou ons vordering glo baie fyn dop en is glo baie bang om wakker te word met ons fietse wat teen hulle s'n geparkeer is. Klink my Martin slaap al met die inteken lys op sy bors net om seker te maak wanneer ons opdaag.

Die laaste 50 km na Bucklands voel soos 'n ewigheid, 1H30 die oggend betree ons Bucklands se stoep, Hannes wag ons in, hy het gedink ons behoort al vroeër daar te gewees het, maar Klaas Vakie het my en Tim se brieke lelik aangedraai. Ek en Tim besluit om maar eerder 'n uiltjie te knip en dan weer 4H00 in die pad te val na Dam se Drift of verder. Tim van Coller 'n klipharde gryskop spring weg toe ons gaan slaap, die Osseberg het hom bang gemaak en hy wil nie in die donker daar gevang word nie.

Dis 'n mooi dag in die saal, my boude weet egter nie wat aangaan nie, net as hulle amper gewoond is aan die een saal dan verander ek dit. Gelukkig het my ali al 'n imprint van 'n Gobi so dit behoort vinnig weer reg te wees.



1 comment:

  1. DAAI SINGER!! ouma gerda het so een gehad !!EN HY HET DEKSELS GOED GEWERK !!! SAL HOM HOM MOET GAAN UITTOETS!!!!

    ReplyDelete