6/20/2011

Dag 4 Die Duiwelse wind en Lehanas pas

Teen 3H00 verlaat ek die parafien liggies van Malekholonyane, in die stuk donker vorder ek goed deur die donker donga, breek my ketting en buig die derailer in die proses, maak 'n boere plan met die goed, gaan nie vandag big blade nodig hê nie. Dis snaak hoe goed skeef loop wanneer alles reg loop, dis 'n spik splinter nuwe ketting, nuwe derailers en tog breek die goed om 'n duistere rede, seker maar die Freedom Challenge wat so bietjie wil brieke aandraai.....

Met met nuwe lig is ek by Blackfountain, my ontbyt, 'n blikkie sardiens, krag vir die oggend skof en vir die wind wat begin waai. Oppad na Tinana besluit die nou baie ernstige wind hy is lus vir my kaarte en roete aanwysings en met een teug sluk hy alles in, ek poog nie eers om die kaarte agterna te sit nie, so waai die wind, gelukkig ken ek die pad. Op pad na Vuvu versterk die wind sy aanslag op my, alleen veg ek, niemand om te praat nie, net ek en die wind en ons albei praat baie duidelik hoorbaar met mekaar, teen 6km/h stoei ek om die beskerming wat die Vuvu vallei bied te haal.

Windverwaai kom ek  14H30 in Vuvu aan, ek praat nie meer terug met die wind nie, ek gaan nie oorgee nie, alleen sal ek die wind oorwin. Ek weet op Lehana's gaan ek gekasty word en in stilligheid berei ek my voor op die geveg, dit gaan 'n gesukkel wees om die berg te klim met die Duiwelse wind. Teen 15H10 sit ek my geveg voort, gelukkig weet ek elke Freedom Challenger stoei teen die wind, dit neem my 45 min om 8 km na die begin van die pas te ry, moes toe al geweet het dit gaan hel wees. Ek troos my met die gedagte dat die wind maar more ook so kan waai, die bliksemse duiwelse wind waai my en my fiets in die hoogvoor telkemale van my voete af, ek begin woorde gebruik, lelike woorde terwyl die wind net met meer mening die verwoestende geveg teen my voortsit. Ek en my fiets veg die geveg alleen teen die wind, dis 'n helse kopwind en daar is nie tyd vir rus nie, ek poog om die skaapkraal in daglig te haal, maar die wind het ander planne met my, hy probeer in my kop inklim in die aleennigheid, in die proses fokus die wind my meer.

Ek word telkemale deur die wind omgewaai, leopard crawl dan na die naaste beskutting, kry my kop in rat en veg dan voort, dit word donker en die wind se verwoestende aanslag bekruip my om elke hoek en draai, ek koes agter die kruine oppad na die skaapkraal sonder enige verslapping van die aanslag teen my, dit voel of ek van alle kante aangeval word. In my geveg met die duiwelse wind verloor ek fokus op my pad en skielik bevind ek my op 'n kruin wat te styl is om te klim, jy volg die kruin na die skaapkraal en swenk dan links, maar hier in die donker nag met die wind se aanslag uit alle hoeke bevind ek myself op onbekende terrein. Ek kan nie die container sien nie, dis stik donker en as jy jou kop lig in soeke na bekendheid dwing die wind jou op jou kniee. Ek kan onmoontlik nie reeds verby die skaapkraal wees nie, ek kan nie die kruin volg nie, dis heeltemal te styl, linksom wil ook nie werk nie en to beer ek maar regsom, dit voel of die wind my in die afgrond gaan afwaai, ek maak dit en kom so 100m van die skaapwagtershut uit. Dank Vader ek is nog op die regte spoor, die Berg behoort meer beskutting te bied teen die snerpende verwoestende wind, ek swenk links in die skaap padjie, die wind is matiger, maar dwing jou steeds tot oorgawe met 'n geboë hoof. Ek volg die kontoer, die beskutting teen wind laat my vergeet om stadig te klim na die container, ek doen 'n ekstra kilo of wat en weereens bevind ek myself op onbekende terrein in die stik donker met die wind wat my uit alle rigtings aanval, ek weet waaragtig nie waar ek is nie, ek is op die berg op die punt van 'n kruin. Ek kan nie verder links nie dan gaan ek af, in die verte aan my linkerkant sien ek helder ligte van 'n beskawing, aan my regterkant sien ek die rooi ligte van die selfoontoring in Vuvu, waar de moer is ek ???

Al genade is op, boontoe teen die verwoestende wind, die wind kom uit die weste en ek moet wes gaan teen die wind en boontoe tot ek iets bekend raak ploeter. Ek vind 'n heining wat vaagweg bekend lyk en ek volg die heining tot op 'n plato en steeds het ek nie 'n idee waar ek is nie, al gendade is maar om die heining te volg, die heining sal my een of ander tyd by 'n pad bring wat my na beskutting sal lei. Ek vermoed ek het dalk in die duister bo oor die container geploeter, dis dalk die plato aan die agterkant van die container, die rigting van die heining voel reg en 'n gerustheid sak oor my neer in die dolle geveg met die wind. Nog 'n kruin verskyn in my lig, wat de donner nou ? My gerustheid dat ek op die regte spoor was word eensklaps van my weggeskeur deur die donker duistere wind, al genade wat oorbly is maar om met die lewensaar van 'n heining aan te moer, die grensdraad beur links en neem my saam op die onbekende pad en in die duister verskyn 'n spoor in die sneeu, hier was mense !!!

Ek volg die sneeu spore langs die genslyn, 'n afdruk van 'n fietswiel verskyn en ek skeur my gerustheid terug uit die kake van die duisternis, ek weet waar ek is, ek bevind my in die gully agter die container, iewers het ek 'n baie wilde draai gemaak. Daar is niks soos die gevoel van gerustheid op die Freedom Challenge wat oor spoel en rtustigheid oor jou bring soos die wete dat jy op die regte pad is nie, ek dank die Here dat Hy my op die regte pad geplaas het, die verwoestende wind en die duisternis het plek gemaak vir vrede.

Wat 'n 70 km/h afdraande na Rhodes moet wees word 'n 11 km/h ry en stoot sessie, vat my amper 10 ure om net 50 km af te lê, die wind het geen genade nie, dit wil nie los nie, ek weet ek is op die regte pad, maar die wind probeer meet ten alle koste breek. Ek verloor dit amper in die laaste 10km na Rhodes, dis 'n meedoënlose geveg teen die wind en moegheid en dit voel of die beskutting van Rhodes net nie nader wil kom nie.1H00 die oggend bevind ek my in die snerpende koue voor dooiemans deur in Rhodes Hotel, moeg geveg teen die Duiwel se wind, gatvol gesukkel met niemand wat oopmaak en my na warm beslutting wil lei nie. Na 'n halfuur se gesukkel maak die opsigter vir my oop, ek verorber 'n bord lewelose kos warm gemaakte kos, vang 'n warm bad en sak soos 'n dooie os op die bed neer vir 3 ure slaap, ek nodig om kragte op te bou vir more se geveg, want die wind gaan nie maklik lê nie.

No comments:

Post a Comment