6/28/2011

Cambria - Damsedrift

Gisteraand se swemsessie het my nie goed gedoen nie, met die nat klere die laaste 6 km die Baviaans koue trotseer. Voel nie goed vandag nie, nie krag nie, met elke hoes voel dit of my borskas oopbreek, dis vrek seer en vordering is maar stadig en by dit is my fiets ook besig om uitmekaar te val, die baie water en modder is besig om met sy gal te doen.

Tim dog dis my kniee wat so kraak toe is dit al die tyd my trap wat oppad uit is, ratte werk ook lankal nie meer nie. Smaak my die Sondvloed was hier deur, van 'n pad is daar geen sprake meer nie, die pad is in 'n groot rivier verander en al wat oorgebly het is die bolders  waaroor ons nou soos klipspringers met ons fietse van die een klip na die ander is. Die Baviaanskloof is toegemaak vir alle verkeer behalwe vir die Freedom Challengers, hoe dan anders. So 30 km van Dam se Drift ry ons vir Tim van Coller raak, hy hoor hoe ek van die pyn kreun met elke hoes en red my met 'n TransArc pleister. Willomore verdwyn soos 'n doringboom in die Sondvloed en ons besluit toe maar om by Dam se Drift te stop om al die probleme reg te sien, Tim sort sommer sy papwiel ook uit.

Ek dink dis die vroegste wat ek nog ooit by 'n Support Station gestop het 15H00, maar die vroeë stop se tyd word gebruik om kragte te herwin en om my verwoeste fiets te probeer red.

Ek mis my vrou en my kinders en dit voel of alles teen my werk om klaar te maak, ek het nie krag nie, my ribbes is so seer ek wil huil as ek net aan hoes dink. Het vanaand 'n veearts gesoek om te kyk wat aangaan. My skouer en ribbes is potblou van die val en dit voel of iemand my keer om asem te haal.

Die Baviaans is betowerend mooi na die baie reën, die manne wat die Trans Baviaans ry kan moontlik voel hoe dit voel om in 'n donga te ry, soos die riviere die paaie in dongas verander het. Al verskil dis 'n mooi donga met Kudu's aan die kante.

Indien julle dink my twakpratery is die moeite werd, click op die Miles for Smiles logo, maak 'n donasie en sit 'n moerse smile op my gesig

No comments:

Post a Comment