6/25/2011

Een of ander dag van die race Romansfotein - Elandsberg - Stuttgaurd

Trek 5H00 weg by Romansfontein, ysig koud alles vries op en die Duiwelse wind maak dit kouer. Die klipperige Hoffmeyer afdraande anderkant Aasvoëlberg is glad nie goed vir my potblou lyf nie en ek vat dit maar baie stadig. Onderkant die berg terwyl ons op 'n besigtigings en begroetingsroete is besluit ons om by die opstal aan te doen, dis 'n bejaarde egpaar wat ons gasvry in nooi na hulle huis, die oom het 'n week of wat vantevore in 'n stroompie geval en sy been ernstig beseer, amper verkuim in die koue, maar hy is ook nou weer reg om te boer. Sy kinders bly in Bloemfontein en wil hulle graag van die plaas afhaal en in die veilige bewaring van 'n ouetehuis plaas, maar die oom en tannie sê daar is nog baie veg in hulle oor en hoe prop mens nou twee ou mensies in 'n klein huisie in die stad as hulle net gewoond is aan die vryheid en vars plaaslug wat hulle bloedgewete grond hulle bied.

Verloor Tim anderkant Aasvoelberg teen die wind en die klim, die kameraspan duik op en met die kamera's wurg hulle die laaste energie uit ons uit, Tim ry met 'n plan, ek ry nou om klaar te maak. Raak lekker gatvol, mis vir Melanie en die kinders wens ek kan hulle vashou, race pace skop in vinnig vind ek my op die stoep van Hoffmeyer se bekende pastei resturant. Die kameraspan wag my in, wil hoor hoe ek die skade aan myself aangerig het en met groot vermaak verduidelik ek hulle van my manewales. Op die vraag : Hoekom doen ek weer die Freedom Challenge ?, antwoord ek : Dis omdat ek komberse nodig het om warm te bly en die kameraspan skater van die lag. Richard vra wat met my helmet gebeur het, en dis toe dat ek sien dat Bontehoek 'n hele hap van my helmet gevat het, gelukkig het ek die helmet aangehad want so hap uit my kop sou nie goed gewerk het nie.

Tim was net weg uit Hoffmeyer met my aankoms, maar 3 ure later sien ek hom weer by Elandsberg sy plan is Stuttgaurd.  Tim is weer voor my weg, maar vang hom weer so 35 km verder. Saam trotseer ons die donkernag en die duiwelse wind en gister se ysrëen modder, 24H00 in Stuttgaurd eet en slaap na 200 km en 19 uur in die saal, mat gat voel soos 'n omgekeerde Jeep tyre, eers my eie saal, toe my eie gebreekte piesang flex saal en nou Wil se saal, elkeen met sy eie nuwe drukpuntjies !!!

No comments:

Post a Comment