6/27/2011

Dag 12 Bucklands - Cambria


Kom 1H30 by Bucklands aan, my gat voel soos 'n omgekeerde jeeptyre, lekker seer. Groot beplanning vir die dag, ons gaan Dam se Drift toe. Slaap 2 ure, eet en val in die pad, kan maar sien die vorige dag was maar lank geewees, praat nie baie nie, staar net die verte in. Onder die helder sterre lig vorder ons stadig op die klip padjie na Tretyre, ek wonder wanneer ons Tim van Coller gaan vang, ek wonder oor baie dinge, oor een ding wonder ek egter nie, en dis die feit dat dit vrek koud is, gelukkig hou die koue ons aan die beweeg, want as jy stop sal jy in die gevriesde pilaar van die Freedom Challenge verander.

Ons betree die Grootrivierpoort en die waarskuwings teken oor die vreeslike slegte paaie wat voorlê lieg nie, die lank vergete erg verspoelde pad sal 'n ordentlike 4x4 baie lank besighou, hulle het 'n stortvloed gehad so week of wat te vore en die geweld van die storm is duidelik sigbaar. Ek en Tim bevind ons in 'n erg verspoelde Grootrivierpoort, Alex Harris het dit Mordor gedoop en hy lieg nie, die storm het volgroeide doringbome uit hul jare lange staanplek geruk en oral in die vallei neergegooi. Die rivier is heup diepte en Tim vrees dat hy meegesleu gaan word na die hel wat vir ons wag in die Osseberg, mense oordryf gewoonlik as hulle iets op die Freedom Challenge beskryf, maar dit wat ek hier sien is glad nie oordryf nie, dis veel erger...

Met groot nagapie oë loer ek die verte in, waarvoor het ons, ons vandag ingelaat en ek dink so by myself, hulle moet die Freedom Challenge se naam verander na die Freedom Donga race, ons ry in een moerse ongelykte gat.

As ons gedink het die die Grootrivierpoort is erg, is dit niks in vergelyking met wat vir ons wag in die Osseberg nie, die verwoesting is oral sigbaar, van 'n pad is daar niks meer oor nie. Iemand wat nog nie hier was tevore nie, sal waaragtig nie weet waarheen om te probeer gaan nie, dit moes 'n helse klomp water gewees het, die doringbome versper die hele rivier en stadig vind ons ons pad deur die wit dorings. Die nuwe doringbesaaide hindernisbaan verorber tyd in 'n oogwink, ons weet nie waar Tim van Coller hom bevind nie, vir al wat ons weet hang hy soos Absalon van ouds iewers in die kloue van 'n verspoelde doringboom. Ek en Tim weet waar ons veronderstel is om te gaan, maar die doringbome versper ons pad en verander dit in 'n doolhof om elke hoek en draai loop jy jouself vas in 'n verpoelde doringboom, ons jaag om uit Mordor te kom en maak dit net-net in laaste lig, van Tim van Coller is daar geen sprake nie, nie eers 'n voetspoor nie, niks nie.

Om die dag te kroon is dit afgesluit met 'n swemsessie, wat vroeër jare 'n droë driffie was is nou 'n oopgespoelde rivier kruising, ek is gatvol en in bulldzing mode. Tim soek naarstigtelik na 'n plek om die nuutgevonde rivier te kruis, maar oral is dit diep, lekker diep, vir my lyk dit swemdiep en ek besluit om nie langer te wag nie en donder die water in. Dis diep, vrek diep net my kop steek uit en ek is heelwat langer as Tim wat beteken dat hy verseker gaan swem, sopnat op ander wal soek ek 'n plek vir Tim om deur te kom. Ek vind 'n plek en begelei Tim met my lig deur die diep water, Tim maak dit net-net, ook hy is sopnat en skielik word dit sommer baie koud. Ons jaag vir Kudu Kaya, dis verbasend hoe gou jy ernstig koud raak met nat klere, die nat rugsak met sy addisionele watergewig help ook nie regtig nie, alle planne vir Dam se Drift is nou verlore. Dis nou baie nodig om eerste warm te word en dan om alles droog te maak wat nat is en die kaggel by Kudu Kaya sal die ding doen.

By Kudu Kaya aangekom is daar nog steeds geen teken van Tim van Coller nie en ons begin vrees vir waar Tim homself nou bevind, Mordor is verseker nie 'n plek waar ek vanaand vir my 'n bed wil maak nie. Ek maak vuur en pak al die nat goed uit om droog te word en 'n uur of wat later daag 'n jubelende Tim van Coller daar op, hy het 'n hele nuwe pad ontdek, met die verspoelings en doringboom versperrings, het hy besluit om aan die regterkant van die rivier te bly, hy het 'n hek gevind met 'n pad wat hul direk na die warmte van Kudu Kaya gelei het. Ek en Tim is baie bly dat hy dit ooreef het en nou veilig saam met ons om die warm kaggel vuur sit, more sal ons weer die geveg voortsit.

David sal die racers nooit daarvan sê nie, maar begin maar baie vroeg oppad na Cambria, pak vir jou vuurhoudjies in om die helse plek aan die brand te steek indien jy verdwaal, dis nie maklik nie die 100km het ons 14 ure geneem.....

No comments:

Post a Comment