6/22/2011

Dag 5 Rhodes Slaapkranz

Die beplanning was Moordenaarspoort, maar my fiets het alles kom omkrap. 'n Moerse lekker dag sonder die Duiwel se wind, trek 7H30 weg uit Rhodes met baie min slaap, ry goed tot in Chesneyworld, Christo reël gou spanners om alles op die frame vas te maak wat los geworstel is.

Glenn kry my daar en in 'n oogwink is hy weg, ek maak seker my fiets is weer in een stuk en val in die pad om Glenn te vang in die hoop dat ons saam kan ry. Glenn  is rateltaai op sy singlespeed, ek moet trap om hom te vang, ek vang hom by die ingang na Kappok kraal, sy maag is omgekrap en hy gaan 'n blaaskans vat. Singlespeed is geen grappies nie en nog minder op die Freedom Challenge, Glenn is 'n ware heer, 'n stil sagte man, altyd tyd vir sy medemens, 'n regte ambasadeur vir die Freedom Challenge, ek hoop regtig om tyd saam met hom op die freedom te kan spandeer en van sy kwaliteite aan te leer.

Oppad na Slaapkranz koop ek vir my 'n moerse plaas, my derailer het mos besluit om kabels te eet, en as jy singlespeed wil ry moet jy die momentum hou. Kyk my lyf is mos gebou vir n afdraande en so vang ek moerse spoed teen die afdraande, ek dog nog ek kruis 'n waterstroom toe sien ek net "sparks" vlieg. Ek moer nie neer nie, ek bliksem sommer neer toe my voorwiel onder die water wegraak en ek doodstil stop teen die oorblywende semet. Nodeloos om te sê vlieg ek kop eerste die grond in, 'n lekker knop op die linkeroog en 'n tweede knie op my linkerbeen en 'n moerse seer linker skouer. My goed lê die wereld gesaai, ek sien net sterre en hoor 'n sisgeluid uit my voorwiel kom. Ek vlieg op om te kyk of alles nog werk, spin die voorwiel om die slym hulle ding te laat doen en kry my gesaaide bagasie bymekaar, karring toe maar aan met die half pap voorwiel na Slaapkranz.

Wat 'n mens nie alles sal doen om glimlaggies op die kinders van www.milesforsmiles.co.za sal sit nie.

Andrè en Joyce van Slaapkranz is my tipe aardse mense, hier word nog gebid  voor ons die kos aanval en dis lewendige smul lekker krag kos, ons sit aan groot eetkamer tafel en ruil planne uit. Marten en Andrew daag daar op, Andrew se fiets se raam het gekraak en sy pa is oppad met 'n ander fiets, daar word oorleg gepleeg met David en 'n tyd straf van 6 daglig ure gaan by die volgende support station uitgedien moet word.
Die beste plan wat gemaak kan word is om Slaapkranz 2H00 te verlaat en dan 6 daglig straf ure by Moordenaarspoort uit te dien en dan weer in die pad te val. Andrew vra ek moet saam met hulle in die pad val en dit klink na 'n bak plan vir my, moet net eers my fiets fix, dan kan ons drie saam die verwoesting van die Freedom Challenge trotseer, en ek het die opsie om weer alleen aan te gaan wanneer Andrew die tydstraf uitdien.......

No comments:

Post a Comment