6/16/2011

Dag 1 Marnitz leer swem PMB - Centocow

Die 3de jaar wat die die Freedom Chellenge aanpak, die vorige twee jare het my baie geleer en groot gemaak vir die jaar, ek is amper oorgereed, ek weet ek kan dit in 12 dae doen. Die fiksheid soos nog nooit tevore bruis deur my are, ek is selfverseker en gewapen met 'n slaapsak, gereed vir die aanslag, die jaar is my jaar......

So trek ons weg, ek en Alex Harris, en dit met n moerse spoed, die longe is maar nog lekke toe van die verkoue van die vorige week, jy sien net snotbolle trek soos ek die landskap dekoreer. Besluit toe maar om terug te val, August het iets gepraat van ek's nog jonk en ek het nog groen koring op die land wat moet groot.

Soos ek gedink het maak Alex die pap dik aan en gou-gou vang ek die manne wat saam met hom weggejaag het. Ek los hulle by die sement afdraande oppad na die Umkomaas, soos gewoonlik probeer ek die rivier op ons gewone plek oorsteek, die rivier is in vloed, volgens David is daar blykbaar al 'n paar manne wat die rivier suksesvol vroeer die week oorgesteek het, daar is 'n alternatiewe langer roete wat David eerder voorstel. Ek is vol selfvertroue, my beker loop oor en 'n rivier in vloed gaan my nie stop nie, alles gaan goed kniediepte word heup diepte en die volgende oomblik verander ek in n duikboot met 'n fiets op my rug.

Die spulletjie dryf nogal lekker en ek spoel toe maar weer aan die verkeerde kant uit, ek nat en my sak en my goed papnat. Ek weier volstrek om oor te gee en probeer weer met die selfde resultaat, steeds weier ek en probeer 'n derde keer en toe die rivier my onder die water in die takke van 'n doringboom vaskeer en ek vir lewe begin veg gee ek oor. Papsopnat stert tussen die bene klim ek die wal uit, die nat sak maak nogal n aardige verskil in rygerief, blykbaar heelwat stadiger, die ander manne het my weer verby gesteek, ek vang hulle by die Hela Hela brug en met my ekstra nat gewig bekruip ek die Hela hela pas. Hulle dink ek is mal om die rivier in vloed te trotseer, is seker maar bietjie mal, maar 'n mens moet seker maar bietjie mal wees om aan die Freedom Challenge deel te neem.

Gelukkig kon ek vir Glenn en Tim waarsku om nie my truuks te probeer nie. Vroeg lugdag by Allandale, en tewyl ek wag vir my slaapsak en klere om droog gemaak te word geniet ek Dana se lekker rooster broodjies. Die Kruger broers besluit om saam met my die tog aan te pak na Centocow, die verdwaal deel het ek gegoogle, gekaart en gedroom, August het die deel vir my verken en ek is seker ons gaan nie weer verdwaal nie. Maak Centocow teen middernag op die regte pad vir die eerste keer met net n klein detour, Alex se fiets wag ons in, hy was al 18H00 daar, ek weet nie wat sy planne is nie, kom ons kyk maar wat more oplewer.

No comments:

Post a Comment