6/23/2011

Dag 7 Slaapkranz - Brostelea


Teen 1H00 hoor ek die bekende brul geluide, gelukkig die keer nie my eie nie, dis iemand anders wat dieselfde kiem as ek opgedoen het, en met die opstaanslag sien ek dis August wat nou spraypaint en ek weet dit gaan net ek en Tim wees wat in die pad gaan val. Gelukkig is August in Andrè se goeie hande en ek weet hulle sal hom sommer gou regruk, hulle het mos die nodige oefening met my gehad. So val ons 3H00 in die pad, grommende maag en al, met die hoop dat daar geen spraypaint sessies is nie.

Lyk my al wat goed is vir 'n sprayende maag is race, my maag skrik so groot toe ek saam met Tim James wegtrek dat hy al sy nonses los. Ek en Tim ry lekker saam, Tim het 'n erg verkoue gekry en is nog op medikasie en ook nog nie lekker nie, vir my is dit 'n moerse voorreg om saam met Tim te kan ry. Tim is my Freedom Challenge race mentor, hero en inspirasie, sonder om te vra het ek al baie van hom geleer en dis nou my geleentheid om nog meer van hom te leer. Tim is 'n grasieuse ryer doen alles sonder veel inspanning, kla oor niks nie, altyd tyd vir 'n grappie, op hoogte van wat in die race gebeur en baie gefokus op wat moet gebeur, hopelik kan ek lank saam met hom ry en nog van sy goeie kwaliteite van hom leer.

Soos julle weet is ek gebou vir downhills, ek en my lyf is glad nie bang vir hulle nie, Tim in sy kundigheid is versigtig vir sommige van die Freedom Challenge se berugte downhill en Bontehoek is een, dis styl en modder glad. In my pogings om in Tim se skaduwee van ervarings te bly probeer ek hom beïndruk deur my malle downhill skills, iewers in my mondering moet ek erens iets beter as Tim kan doen en soos 'n vernuftige Gregg Minnaar vat ek die afdraande sonder vrees aan. Alles loop goed, ek het beheer oor my fiets en hy het beheer oor die klipbesaade snotgladde modder afdraande, wel dit het alles goed geloop tot ek 'n watergevriede deel in die skaduwee misgekyk het. Ek weet nou nog nie wat gebeur het nie, maar dat ek soos weerlig neergebliksem het is 'n feit, hierdie keer val ek so hard dat ek nie eers wil beweeg nie, my linkerskouer en drie ribbes voel of hulle af is, my saal is in sy moer in. In 'n hopie lê ek daar te bang om te beweeg, die pyn deurskiet my hele liggaam, ek sukkel om op te staan en kreun eintlik orent toe Tim daar aankom met sy woorde : " That was on hell of a spectacular fall " my lyf vertel my ook so......

My saal is in sy moer in, die linkerkantste rail het heeltemal afgebreek en die saal het in die middel geknak, gelukkig het ek niks in my linkerskouer gebreek nie, maar ek kan nie my arm lig nie en ek dink daar is 'n paar ribbes moertoe, heeltemal te seer om asem te haal. En so maak ek 'n indruk op my hero deur 'n helse val en al wat oorbly is aanhou en dit gaan maar moeilik, ek hou Tim terug en sny toe maar die band en laat hom gaan, nie dat ek ooit gedink het ek sal die hele pad by hom kon bly nie.


By Moordenaarspoort maak boer Danie 'n plan met die saal, bou 'n plaat met 2 skroewe in en daar gaan ek met my nuwe flex saal, nie so goed vir die boude nie maak ek kan darem sit !  Ek val in die pad na Kranzkop en motiveer my seer lyf in 'n poging om Tim weer te vang. Laat middag kom ek by Sandra aan, Tim is nog daar en vra uit na my planne, my plan is Brostelea en hy besluit om vir my te wag sodat ons die donker saam kan aanval. Smaak my die hele Freedom het in 'n moeras verander, een modder papperasie en dit het nog nie eers gerëen nie, oppad na die James Town teerpad kruising raak ek en Tim die pad lelik beister in ons soeke na die jeeptrack wat na die teerpad lei. Die keer besluit ek op regs en hy op links, dis donkermaan, ek en Tim verloor mekaar en op 'n staduim donner ek sover regs dat ek James town se liggies baie duidelik kan sien, ek donner toe maar weer heel links in die hoop om Tim se liggie iewers raak te ploeter, maar daar is niks van die man te siene nie. Ek kry die jeeptrack en val weer in die regte pad, enige hoop om saam met Tim te kon ry is nou vergete, hy is seker lankal in Brostelea, net voor die afdraai op die plato besluit ek dis tyd om die sterreprag te aanskou tewyl ek 'n lemoen nuttig. So in my bewondering van die prag heelal sien ek 'n liggie in die verte aankom en al wat ek kan dink dit is August wat sy maag aandoen suksesvol afgeskud het.

Tot my verbasing is dit Tim, hy het ook vir James Town se liggies gaan kuier en 'n paar wille draai gegooi, snaak hoe twee Freedom Challenge veterane nogsteeds die pad byster kan raak met al die ondervinding tussen ons. Wys jou maar net, die Freedom Challenge het tog altyd 'n byt en 'n versteekte angel wat om elke hoek en draai vir jou wag al dink jy, jy is baas.

Die wind begin weer aanstoot en soos gewoonlik reg in die gesig, gelukkig is ons nou twee en maak ons beurte om sy aanslag te breek, kom net voor 3H00 by Brostelea aan.

1 comment:

  1. jy kan maar jou fits breek ---- pasop net vir die yster in jou been-----sterkte pa

    ReplyDelete