6/25/2009

Dag 10 Elandsberg - Gansvlei



Lekker geslaap, lus vir 'n goeie skof, alles begin goed, wind matig, ry teen 'n lekker pas en dit lyk of dit regtig 'n wonderlike dag vereens gaan wees. Ek is weer op my eie, maar daaraan is ek al gewoont, niemand luister tog na my klagtes nie, in die verte sien ek snaakse wolke< lyk eintlik soos 'n foto geleentheid en ek stop en nee die onheilspellende wolke af......
Spekboomberg onweers wolke

Die duiwel se wind begin weer waai, die reën steek soos bye, die modder byt soos polisie honde, bring my tot stilstand. Ek gooi die fiets eenkant neer, ek is gatvol vir die wind,  ek is gatvol vir die reën en ek is baie gatvol vir die modder, dit hou net nie op nie......

Sit 'n rukkie, rus 'n rukkie, eet ietsie, dink bietjie oor die race, jaag die polisiehonde weg sak die kop en trap dat ek voorkom. Die enigste manier om die warboel te oorkom is blykbaar om klaar te maak en dit gaan nie gebeur as ek my fiets neer moer en op my gat sit nie.

Maak Stuttgaurd in 6 ure, was die fiets, jaag 'n bord sop deur ek gaan De Doorns toe, Amanda waarsku my teen die sneeu op die Schufteberg,  en my informante waarsku my teen Carl Crous  en ek besluit ek sal eerder die sneeu storm aandurf as om die aftog voor Carl te blaas. Ek donner aan, op teen die berg, PJ 'n boer oppad boontoe stop my en sê ek's mal, steeds donner ek aan, hy verstaan nie lekker die diepte van die wortels van kompetisie tussen en Crous nie, ek is mos op die regte pad.

Ek beland pens en pooitjies reg in die middel van my eerste verwoedelike sneeu storm en dis nie lekker nie, die sneeu steek soos bye op die oop plekke, dis vrekken koud, die sneeu vries op die voue van my baadjie, op my fiets enige plek waar dit kan vashou. Van ry bly daar niks oor nie, ek worstel op die grond voort, beur voorwaarts, kan nie 10m voor my sien nie, maar ek beur voort want Crous is op my spoor.

Ek stop by die laaste opstal in die vallei, ek moet nog warm klere aantrek, dis vrek koud, ek vind beskerming in die opstal se stoor, terk alles aan wat ek het, trek die kaart nader om seker te maak waarna toe ek eintlik moet gaan. Ek vra een van die plaaswerkers, hy verwys my na die baas van die plaas, Oom Gawie van Gansvlei.
Schufteberg sneeu storm
Oom Gawie van Gansvlei stop my en weier dat ek verder gaan, ek gaan Rageltjie de Beer se vernoot word. Dis - 7 C, die wind waai die hel uit my, ek is koud en nat, die sneeu vries oral op my en ek betoog, dis 15H00 en Crous is op my spoor ek moet aangaan, het nie 'n keuse nie. Oom Gawie praat iets van die sneeu gaan 'n meter dik wees op die kruin, hy wys my verimpelde bibberende pers hande vir my uit en ek begin wonder. Ek vra Oom Gawie of ek my klere kan was en hy sê dis regso, maar ek moet myself eers in 'n baie warm bad kry voor ek heeltemal opvries. Ek stop toe maar, vat 'n warm bad en besef toe eers hoe na ek aan 'n ontmoeting met Rageltjie was. My klere word gewas, Oom Gawie deel sy wildspastei met my ek hang my klere voor die kaggel op, luister na die draadloos, hoor hoe die passe een na die ander toegemaak word. Verneem van 'n ambulasns wat vasgeval het in die Cradock pas oppad na mense in nood, en ek, ek dank die Here vir die beskerm engel wat hy vir my gestuur het !!!

No comments:

Post a Comment