6/21/2009

Dag 6 Chesney World - Moordenaarspoort

Vadersdag Marnitz en Mark by Spitskop opstal.


Wanneer is genoeg genoeg en wanneer kan jy nie meer nie?

Lehana's pas is 'n bliksem ek het respek vir enigiemand wat net daar uitloop wat nog te sê van 'n rugsak en 'n fiets in die hoogvoor met stomsterk rukwinde. Nadat ek Lehana oorwin het sien ek sommer vir baie kans en ons mik sommer vir Vaalbank, hoe dan nou dit kan moes nie erger word nie.

Ek word wakker met die gedruis van reën op die sinkdak, eintlik lekkerder om na die reën op die sinkdak te luister onder die warm snoesige komberse as om die koue aan te durf, maar ek is nie hier om te lê nie, ek is hier om te race. Die reën bedaar en ons val in die pad, lekker modderig en vordering is maar aan die stadige kant, ons gly-gly ons pad oop na Kappokkraal en ek sien iets broei in die verte.....


So halpad op teen die portage bars die broeisel en ontaard in 'n helse storm, net betyds om ons reënjasse aan panser veg ons die ysreën, jy kan nie verder as 15m voor jou sien nie, gelukkig weet ons, ons moet op boontoe na die nek wat ons nou glad nie meer kan sien nie. Die hele plek is blykbaar uit swart potklei aanmekaar gesit en so beur ons drie tree vorentoe net om vyf tree terug te gly. Met die bokomslag is die storm net so vinnig verby as wat dit gebore is en die son skyn weer. Eensklaps besef ek dis Vadersdag, vra Mark of hy kinders het en wens hom toe sommer 'n baie gelukkige Vadersdag toe, nadat ek van sy steunpilaar seun verneem.

Die storm het die vallei in 'n kleiput verander, gelukkig is dit afdraande na Slaapkranz en so gly ons die berg af tot by die volgende warm support station, Joyce verwelkom ons met vuurwarm gasvryheid en baie lekker kos, ek probeer die swart klei van die fietse verwyder met 'n ysige tuinslang. Nog twee portages oor, gelukkig skuin die son en behoort dit nie te erg te wees nie, ek sou my woorde gou opvreet. Slaapkrans portage is 'n bliksem, dit begin gelydelik en bliksem dan reguit teen die berg op, reguit sê ek jou, niks se gezig zag nie, pyl reguit en om dit nog moeiliker te maak is dit met polisiehond modder besaai. Jy weet mos wanneer 'n polisie hond byt los hy nie, hy wurg die laaste bietjie energie uit jou uit en dit smaak my ek sleep 'n paar van die honde die berg uit.....

Een by moertoe skoen...
Bogekom het my skoen die gees gegee, hy's dood daar is niks meer oor nie, ek loop op my kous wat langs die kant uitpeel al soekende na vastrap plek. 'n Wonerwerk gebeur, my sel lui en dis Eduard Herselman, my getroue vriend van my tuisdorp, hy pak so droe laggie weg toe hy hoor van my dooie skoen en vra wat gaan ek maak. Wel al wat oorbly is ek sal iewers skoene moet bedel, die boere ry nie regtig fiets nie, maar ek is seker ek sal 'n verlore army boot iewers opspoor wat my voet sal pas, dis al genade.....


Dit word weer 'n gejaag na die kwynende so se strale, die son is besig om water te trek, ja water wat in donder wolke ontaard en ons nou-nou weer gaan wegspoel. Bontehoek portage is weer met polisiehond klei besaai en dit gaan maar skoen skeur, my pogings om my skoen te herstel is netso power as my pogings om vorentoe te beweeg en ek begin wonder of ons in die kleispul vasgevang gaan word en daar gaan oornag.

In die verte onder die drygende donder wolke sien ons die pad, die probleem is om daar uit te kom, ons maak dit net in die doodsnikke van die laaste lig, dit begin weer reën, dis ysig koud en donker, ons gly die berg af, letterlik. Ek dink die boer het van dieselfde padvinder as by Slaapkrans gebruik gemaak, of daar was nie genoeg geld om zig zag padtjie te maak nie, dis reguit af ondertoe in die modderspul, die polisie honde het hulyster greep laat gaan en ons boender die berg af.

Onder by die plaas opstal besluit Mark hy het genoeg gehad, hy slaap nou net daar, dit kos baie motivering om hom te ootuig dat ons moet aansterk na Moordenaarspoort, daar is darem warmte en kos en dis baie beter as in die ysige kloue van die nag sonder kos.

Dit begin vir my soos 'n army opfok voel, die vlae ysreën sak neer op ons, weerlig verlig die donker nag, ons gly die wêreld vol en dit raak 'n eindelose geploeter wat voel of dit nooit gaan ophou nie. Rossow verkyn in die donker nag, die weerlig het die krag uitgeslaan en self ek begin wonder of ons nie maar in een van die bouvalle moet toevlug neem nie. Uit my Google navorsing onthou ek dis 'n gelydelike klim en dan 'n lekker afdraande na Moordenaarspoort, al probleem is die polisiehonde en die koue het al my energie gesteel en met moeite beur ek voor al stotende in die modder. Vaalbank is nou vergete, my fokus is op Moordenaarspoort en 'n stel army boots en warmte, iets om die koue en die ysreën te verjaag.

Moordenaarspoort voel vir my of dit nooit wil kom nie, smaak my die aarde het die plek ingesluk, dis stuk donker, nie 'n liggie nie, nie 'n sterretjie nie, nee niks nie net die ysige donker nag wat ons al dieper in die donker insleep. Eindelik kry ons die plek in die donker en ploeter van die een opstal na die ander, dis baie laat nag 12 uur, en ons is by warmte maar ons weet nie waar om in te kom nie, Andrè Britz een van die ander manne maak sy verskyning en lei ons na beskutting. Ek vang 'n koue bad, Mark ondek 'n windspastei en ons vul ons wurgende honger, ek ondek 'n oop kamer en steel baba beertjie se bed, moertoe moeg raak ek aan die slaap. 60km het ons net 10 ure geneem vandag, wat gaan more oplewer ? 

No comments:

Post a Comment