Met die wegtrek slag begin dit liggies reën, die wind steek op en soos ek vorder klim die Duiwel agter die berg uit, dit voel of ek in 'n monsoon vasgevang word. Die reën val in vlae neer, die wind waai my rugsak se reën mantel weg, my rugsak en alles binne in is pap sop nat en ek gooi sulke wilde esse in die modder soos die wind my probeer wegwaai. Ek word kinderlik gatvol, ek is moeg vir die reën, gatvol vir die modder wat oral inkruip en alles opdonner, en van die Duiwel se wind wil ek nie eers praat nie. Vir sewe dae swoeg ek elke dag teen 'n geweldadige Weste wind, en op die agtste dag, die dag wat ek saam met die wind moet ry sal die Duiwel 'n Ooste wind afvuur wat die reën so horisontaal in my in my oe in steek........
'n Man se kop moet sterk wees vir die race, want as die kop nie wil nie dan wil die lyf ook nie, die alleen swoeg teen die wind, reën en modder is besig om my stelselmatig af te breek en ek bereik breekpunt, ek gooi die fiets eenkant en ek wonder wat de donner soek ek hier, is dit my straf omdat ek 'n lift by die polisieman gekry het ? So staan ek seker vir 10 minute in die gietende reën, die reën is eintlik besig om my skoon te was en ek besef dit help nie om maar net daar te staan nie, ek kan niemand bel nie en niemand ry die god verlate paaie nie, al genade is ek moet maar opklim en aanry......
Die groot besluit op Osseberg uitkykpunt, gaan ek huistoe of ry ek aan. |
Ek is verstom geslaan, my wonderlike vrou wat my altyd in alles ondersteun en motiveer sê ek moet maar huistoe kom, het ek so afgeleef en negatief geklink. Ek besluit dan gaan ek maar huistoe, en die pad na die huis is deur die Grootrivier poort, dieselfde pad as die Freedom Challenge s'n, gelukkig is dit 'n lang pad met lekker styl opdraandes en baie dinktyd. Ek bereik die uitkykpunt en in plaas van reëndruppels word daar 'n arsenaal sms boodskappe op my afgevuur, my wonderlike vrou het al my pêlle ingelig van my mismoedige gemoeds toestand en ek besluit om af te trek en die wêreld te bekyk en die reën bedaar en die son se strale breek deur en ek kry weer nuwe moed.
Osseberg in sonlig. |
Ek kom by die support station " The Haven" volgens die roete aanwysings aangedui by dooie mans deur aan, hier is verseker niemand nie, nie 'n siel nie, hier was ook nie 'n siel vir 'n lang tyd nie, die plek is ook nie oop nie, wat nou wonder ek. Ek besluit toe maar om aan te ry na die volgende support station Dam se Drift so 80km verder, ek behoort seker so na middernag daar aan te kom. Uit die bloute lui my selfoon weer, dis Eduard wat baie besorgd oor my doen en late uitvra, hoe voel ek, sien ek nog kans om aan te gaan en waar is ek ?
Ons het nog nooit sein hier gehad nie en hier is ek nou in 'n gesperk met 'n goeie pêl, en die vlammetjie brand sommer baie helderder. Ek bel vir Melanie, bedank haar vir haar geloof in my en al haar ondersteuning en liefde en belowe sommer om baie vinnig te ry, ek mis haar regtig baie.
Ek besluit toe maar terwyl ek nou sein het om uit te vind waar ons nou eintlik moet slaap en waar ek my roomysbak met voorrade gepak kan kry. Ek kan sommer hoor hoe lekker David lag toe hy die oproep antwoord, die oornag plek is geskuif na Kudu Kaya, so entjie verder aan, hy prewel iets van hy het ons gesê die oornag plek het geskuif die aand voor ons weggespring het. By Kudu Kaya aangekom besluit ek om maar oor te slaap, vandag was 'n harde dag vir my gewees, baie amper te hard.....
Ek probeer uitvis waar Crous is, niemand weet nie, hy praat nie en die aarde swyg ook oor sy doen en late.
No comments:
Post a Comment