6/16/2009

Dag 1 Pietermaritzburg - Centocow






Marnitz, Eduard en Carl
Ek voel weer soos net voor die 2007 Cape Epic start, bottervlieë in die maag, alles draai, ek weet so bietjie wat om te verwag maar die onsekerheid is groter, het ek genoeg ge-oefen, het ek die regte gear, gaan my GT dit hou, maar nog erger, gaan ek dit hou. My pa het nie bang kinders groot gemaak nie, net versigtig en ek is baie versigtig vir die race. Die Freedom Challenge pak mens met baie ontsag aan, sommer sakke vol daarvan.

Carl is 'n harde man en daar skuil altyd so bietjie kompetisie tussen ons, so in die stilligheid hoop ek om hom weg te ry, my mikpunt Ntsikeni.......

Sommer die eerste ding wat ek agterkom is dat hier regte berge is, moerse opdraandes en ek is net gewoond aan die vlaktes van die Wes Transvaal en ek suffer sommer lekker teen die opdraandes. Carl praat iets van dis nog niks wag vir Hela Hela, dan praat ons weer......

Maak net seker ons is nog op die regte pad....
Die nuwe deel wat Mike Woolnough langs die Umkomaas vir ons uitgelê het is woes, jy kan nie ry nie, dis dra en stoot, gelukkig kry ons die rivierkruising maklik en toe ontmoet ek vir Hela Hela.
Hela Hela is in die ware sin van die woord 'n BLIKSEM, 'n moerse opdraande wat jy nie eers sonder kit moet aanpak nie, ek wonder of hulle dit nie 'n 4x4 pad moet maak nie. Halfpad op kry ons vir Tim James en hy lawe ons met Coke, man warm Coke het nog nooit so lekker geproe nie......

Ek en Crous sop by Minerva
Carl begin suffer teen Hela Hela en ek begin wonder of ek nie maar moet aanstoot nie, maar aanstoot op my eie betekin alleen in die race en ek bespiegel daaroor, moet ek nie maar vir Carl wag nie ? So 20km voor MacKenzie breek die band, Carl sê ek moet gaan en ek sien my kans. Dana maak lekker broodjies en ek verlaat MacKenzie net toe Carl daar aankom. Gelukkig is ek op 'n gedeelte van die Sani2C roete en ek vorder gou, maar o wee nadat ek die Sani roete verlaat bevind ek my op onbekende terrein en sommer gou-gou is ek op my eie pad iewers in die plantasie. Gelukkig het die army my baie geleer, nie net om rond te hardloop agter die verkeerde blaar nie, maar ook om kaart te lees, ek kap my eie nuwe roete uit en nam omswerwinge bevind ek my in Donnybrook weer terug op die Sani pad !!!!

Alles loop goed, ek jaag jaag die eerste 12 km op die Sani pad in kwynende lig in die hoop om die regte afdraai te kry, ek kry die afdraai in sterk skemer, die narratives praat iets van 5.5km kruis jy 'n stroompie, ek kruis meer iets soos 'n plassie water en dan slaan dit my op die voorkop, ek is op die verkeerde pad in die pik donker in 'n plantasie waar ek nie sterre kan sien nie, geen landmerke kan uitken nie net Dennebome, dis al wat ek sien. Na ure se kringe in die bos besluit ek om op 'n manier by ligte in die verte uit te kom, die ligte so ek na nog 'n paar kringe in die bos agterkom is Creighton, verkyn nie eers op my kaart nie. Ek stop by die gerage en probeer uitvis waar ek nou eintlik myself bevind. Nadat ek oorleg met myself en die kaart gepleeg het besluit ek toe maar weer op 'n nuwe roete en na nog 'n paar wilde draai vind ek eindelik vir Centocow. Ek slaap nie by die hospitaal nie, maar by 'n ene Dlamini, blykbaar nie ver daarvan nie, soos David vir my verduidelik 'n dubbelverdieping huis aan die linkerkant, ek ry net verby die klooster tot by die hospitaal en volg die pad.

In die donker soek ek na iets met 'n toring, die klooster, maar ek sien nie so iets nie, kry die hospitaal, maar 'n groot dubbelverdieping huis aan die linkerkant glad nie en so donner ek die nag in, stop by mense vra vir Mnr Dlamini, maar niks nie, neuk net voor en verder al in die rondte. Na vele oproepe na David en Mnr Dlamini kry ek hom eindelik nie te ver van die hospitaal nie, hy bly in 'n gewone enkel verdieping huis, plat op die grond.

Mnr Dlamini is baie gasvry, van kos is daar geen sprake die tyd van die nag nie, ek neem sy dogter of iemand se kamer van haar af, te minste is ek warm onder dak, nou vir slaap, maar slaap kom nie.
Daar is 'n baba in die huis en ek het die baba en ma van hulle kamer afgerokkel, en nou huil daai baba omdat ek in sy bed slaap, verder is daar 'n eskader muskiete wat my aanval, dis seker maar waaroor die Freedom gaan.......





No comments:

Post a Comment