6/23/2009

Dag 8 Brostelea - Romasfontein

Die duiwel het 'n kopwind afgevuur om ons op te donner, as jy baie gelukkig was kon jy dalk 12km/h teen 'n moerse afdraande kry. Ek het so bietjie na die ander manne weggespring, maar vang hulle sommer gou voor die eerste afdraai, die manner redekawel weer om te besin of hulle op die regte pad is en ek laat hulle in hul innige gesprek agter, vorder goed tot by Stromberg.

Was gou die ergste polisiehond modder van my fiets af en val weer in die pad, dis vrek koud en die wind waai my siel uit my uit, stadig maar seker vorder ek teen Stormberg op al soekende na die pad, hier is baie afdraai padjie en toe ek my kry is ek bo in Stormberg ver van enige begaanbare padjie. Nooit gedink die wind sal my gewese 90 kg lyfie kan omwaai nie, sommer 2 keer op Stormberg. Beplanning....... wat's dit ?
Die regte Stormberg Blokhuis
Oor so lang race speel die elemente so groot rol dat enige beplanning vir 'n bol gaan, in die verte in die vlaktes sien ek 'n Engelse blokhuis en ek donner teen die berg af na die blokhuis. Iets sê my ek moes vroeër afgedraai het, gelukkig weet ek, ek is op die regte pad, by die blokhuis aangekom bepyns ek weer die kaart en in die verte gewaar ek nog 'n blokhuis, die blokhuis waar ek eintlik moes wees en so maak ek my eie Freedom zig zag padtjie. Die roete aanwysing praat iets van mik vir die Stormberg Blokhuis, watter een van die twee sal dit dan nou eintlik wees, die versteekte een of die alleenstaande duidelik sigbare blokhuis ?
Dis toe die versteekte blokhuis naby die handelspos........
Die verkeerde Blokhuis.........

Maak 'n wille draai op die Sandfontein plaas, moes blykbaar nie daar afdraai nie, hervat toe maar weer die regte pad, eintlik is dit maklik om die regte pad te identifiseer, soek net die modderigste spoorlose pad jy sal weldrae uitkom waar jy moet uitkom of nie moes uitkom nie, dis so half of moertoe verdwaal verpligtend is op die Freedom.

Die donder wolke pak wees saam en ek durf die laaste 8 km na Romansfontein in die ysige reën aan, te bly om aan Stefanie en Wil se deur aan te klop. Dis so asof die warboel van modderige paaie, die bedrieglike afdraai padjies, die wind en die weer agter jou toegesluit word met die toemaak van die deur, jy betree 'n nuwe wêreld vol warmte, gasvryheid en liefde agter die skanse van die toe deur......

Die race is hard, eintlik fokken hard, jy moet bietjie mal wees om dit te doen, ek dink ek is nou al baie mal, want ek praat nou al self in tale wat ek nie eers verstaan nie.

Beplanning vir more, moontlike temp 1 tot -14, enkel diepte sneeu, beplanning na vandag se 6,6 km per uur worsteling, niks ek gaan net my kop sak en voort donner, hoop ek haal Hofmeyr...

No comments:

Post a Comment