6/20/2009

Dag 5 Vuvu - Chesney World




Lekker warm geslaap in my hut, spring 6H00 weg, Gawie het gister aand gevra of hy saam kan ry, enige geselskap en roete kennis is nou baie welkom. Mark Mitchell sluit ook by ons aan en ons val in die pad.
Dis 'n hobbelpad, laat my dink aan die Romeinse paaie van ouds, met sulke ronde klippe gemaak.
Dis ysig koud, 'n snerpende wind waai, dalk 'n teken van wat op ons gaan wag in die komende dae. Uit geskiedenis weet ek dat ons nie tyd moet mors op Lehana's nie en so vinnig as moontlik van die berg moet af en verby Rhodes moet kom, as dit hier begin sneeu sit jy vas, Andrè Britz moes al per geleentheid omdraai omdat die mis op die berg hom verblind het.

Die spikkel container links bo op die kruin.
Mark besluit om af te draai, die roete aanwysing sê so, Steven het my vertel jy kan die container op die berg sien en ek sien hom nie, Mark draai af en ek en Gawie ry voort tot ons die container, 'n spikkeltjie op die kruin in die verte raak sien. Die container, 'n nood slaap plek en weermag vesting, is regtig net 'n spikkeltjie op die berg, baie ver bo ons en ek wens ek was 'n arend......

Ek en Gawie vat pad container toe, die pad is nie so moeilik nie, ons volg 'n lekker uitgetrapte skaap padjie, 'n pakdonkie met sy drywer steek ons verby en Gawie wonder vir 'n oomblik of ons nie die donkie drywer moet betaal om ons fietse op te vat nie. My antwoord is dadelik nee, dis teen die reëls en wat as die donkie drywer met die fietse padvat, ons sal hom nooit vang nie.

Halfpad op, ons kom doer ver van onder.......
 Ons sien van die ander manne wat 'n aangrensende kruin klim, lyk vir my op 'n staduim of hulle ry en ek weet sommer wanneer ek volgende jaar terugkom vat ek hulle roete. Ons sluit almal bymekaar aan op die hoof kruin, Mark het ook sy foute agtergekom en is ook oppad, op Lehana's maak jy jou eie pad, volg maar die kruin en besluit op jou eie links- of regsom. Die pad word al hoe styler en die wind al hoe ysiger, halpad vind ek en Mark skuiling in 'n skaapkraal, tyd om iets te eet en moed te skep vir die volgende deel, Lehana's is 'n 1000m klim oor ongeveer 5km, jy kan self besluit of jy dit langer wil maak. Die skouers is lekker moeg, die fiets voel of hy al hoe swaarder raak met elke tree in jou skouers insny, jy sien hier stoot jy nie jou fiets nie, jy dra hom op jou skouers.

Gawie vat pad, en ek en Mark voltooi die opfok in 3H30, ons doen aan by die sprokie mooi Tena Head vir die lekkerste koffie wat ek in 'n baie lang tyd gehad het. Op pad na Rhodes sien ons 'n foto geleentheid op die Naude's nek pas, dis 'n gou foto want die ysige wind sal jou vries voor jy ys kan sê.

Naude's nek is die hoogste punt op die Freedom Challenge, hier waai die wind met mening, as jy nie ge-anker word nie, kan jy sommer gou-gou baie ver van hier eindig. My duursaam noukeurig nagevorste skoene is besig om baie ernstig houe te vat, my linker skoen se sool is besig om te skeur, ek weet nog nie wat ek gaan doen nie, maar ek sal dringend 'n plan moet maak........

Rhodes Hotel
Vroegdag by Rhodes, my eerste aanklop, al baie van die plekkie gehoor en dit lyk na 'n lekker plek om bietjie af te saal, maar ek is gewaarsku om nie daar rond te hang nie, as die sneeu jou vasval sit jy, Gawie besluit hy bly, Mark besluit hy val in, ons kry padkos en daar gaan ons. Mark is my tipe mens, 'n harde baard, hy hou van adventure, hy het al aan die Augrabies Bull of Africa race deelgeneem, nie iets wat jy met kaal hande aanpak nie. Mark leer my van klein doelwitte, breek die pad op in dele, jy mik vir 'n bos, 'n opstal, 'n kruin en so bereik jy elke nou en dan 'n sukses. By die Bottelnek afdraai sak die donkerte op ons toe, nie net die donkerte nie, maar 'n ysigheid wat ek nie ken nie en ek is baie bly ons is van die berg af....

Net na 19H00 kom ons by die warmte van Chesneyworld aan, Christo Botha het 'n Aca stoof en ek kan my
Christo Botha van Chesney World
nie van die stoof wegskeur nie, ek is tot in my diepste binneste koud. Baie gasvrye mense die, aardse mense hulle nooi ons in hulle harte in, bedien 'n konings maal, vertroos en versorg ons en prop ons vol nuwe moed.

My linker skoen is moertoe, ek het nie meer 'n sool nie, die Freedom het die sool aan vlarde geskeer en 'n plan moet ek vinnig maak. 'n Boer maak 'n plan en die boer gaan nie lê voordat daar nie plangemaak word nie, ek sny gate langs die kante van die oorblywende sool, wurm twee groot cable ties deur en trek hulle vas in 'n poging om 'n sool te maak van die nerwe. Om die sool verder te versterk daar ek so paar sukke duct tape om, my skoen lyk nou soos 'n Christmas tree en ek hoop vir die beste........








No comments:

Post a Comment