Ek stap by my beskerm engel Oom Gawie van Ganslei se deur uit en betree 'n sprokieswêreld, spierwit sneeu lê die hele wêreld vol. Ek het nog nooit so baie sneeu in my lewe gesien nie, dis oral en ek neem die een foto na die ander.
Al ooit gehoor van kraak vars, wel dis kraak vars sneeu en ek maak die eerste nuwe spore in die sprokiewêreld. Van ry is daar nie sprake nie die sneeu is te diep en jy weet nie wat onder die sneeu skuil nie en ek stoot my fiets al huppelend voort. Die sneeu knars onder my voete en die fiets rol redelik maklik daaroor. Bogekom besef ek hoe gelukkig ek eintlik was, Oom Gawie moet 'n regte engel wees, hy was reg op plekke lê die sneeu regtig 'n meter diep, die hele pad is toe gesneeu, ek sou verseker vir rageltjie hier onmoet het. Ek neem 'n paar foto's wat my sekerlik weer sal teruglok vir meer, aan die Coetzerskloof kant van die Schufteberg lê die sneeu nie so dik nie, maar dis nogsteeds prentjie mooi. Mens moet seker maar baie suffer voor die Freedom challenge jou in nooi om sy prag te kan geniet.
Op pad na De Doorns support station neem ek so kort draai seker so kilo of wat afgedwaal, maar ek is glad nie spyt daaroor nie, sien eers twee rooikatte en toe die lang verlore ou chevy, ou bakkies het nog altyd diep spore in my hart getrap. Ek verlang na my ou Ford F250 4x4, dis nou 'n regte bakkie, nee mens kan dit nie 'n bakkie noem nie, 'n hond eet uit 'n bakkie, dis 'n trokkie en my ou Trokkie sou nou lekker hier gery het.
By de Doorns aangekom bevind ek my voor 'n toe deur, daar is nie sein nie en ek dwaal al om die opstal opsoek na 'n inkom plek, moedeloos gaan sit ek op die stoep en wag vir die boer, 'n half uur gaan verby en sielsongelukkig sit ek en wag en ek kry 'n besieling en voel aan die voordeur en wragtig dis oop. Ek stap in al roepende, daar moet iemand binne wees, jy los mos nie 'n huis netso oop nie en toe kom ek op die brief in die kombuis af. Dis 'n self sorg opstal, maak jouself tuis eet genoeg en sterkte vir jou tog vorentoe, o ja maak net die deur toe wanneer jy die huis verlaat. As jy jou huis in jou tuisdorp ooplos sal jy baie bly wees om die mure oor te hê nadat weldoeners die binnegoed oor die aarde versprei het......
Ek maak vir my 'n lekker bord kos warm, drink 'n glas coke of twee en val vernuwe in die Freedom pad, op pad na Vandeventers kraal, nou vir die Struishoek portage, moet die begin in daglig maak, dis glo nie grappies in die nag nie, die hele plek word deur hoë kranse omsingel. Dit word weer 'n dolle gejaag na die laaste ligstrale, ek was nog nooit bang vir die donkerte nie, maar die Freedom Challenge bring 'n versigtigheid in my mee, eintlik meer 'n ontsag vir die donker, alles gebeur stadiger en geskied met baie respek.
Ek betree die Struishoek portage met laaste lig en jy sal dit nie glo nie, iemand het die plek met wit kalk klippe gemerk, en ek beweeg van die een gebleikte klip na die ander. Die portage is nie baie lank nie, seker so vyf kilometer en dis afdraande, maar ongenaakbaar ongelyk en dit sluk tyd in soos ek water van my bottel insluk. Dit hou net aan en aan, onrybaar aan, jy kan stoot of dra maar dit gaan jou dieselfde tyd vat en baie daarvan. Onder aangekom sien ek iemand met 'n flitslig, ek draai om en ontmoet vir Oom David Hobson die baas van Struishoek. Oom David is die man met die briljante gedagte om Struishoek met kalk uit te merk, en nou nooi hy my vir 'n oorslaap, en ek kan sien dis aardse mense die en ek oorweeg dit. Die gedagte dat Carl warm op my spoor is dwing my die donkerte in, dis nog net 40km verder en ek wys Oom David se offer van die hand.
My sel lui, dis Eduard, hy verneem net hoe dit gaan en lig my sommer in dat die boere vir Carl aanhits en opsweep om my in te haal, en ek ken vir Crous, hy het nie baie aansporing nodig nie. Crous het 'n hele peleton opgesaal en dryf nou sy nuutgevonde peleton deur die vlaktes, en wanneer die een ryer afval saal hy die volgende troep op. Carl was lank in die valskerm batejon en ek kan net dink hoe hy sy nuwe troepe aanhits......
So 20km van Vandeventerskraal kry ek die geur van gebraaide skaap tjops, die boere braai en my mond water, drup eintlik vir so skaap tjoppie, man dit sal nou lekker wees en ek ry baie stadig verby in die hoop om raakgesien en jammer gekry te word, maar helaas is die geur van lekker gebraai skaap tjops al wat ek sal smul. Ek kom op die plek waar Vandeventerskraal veronderstel is om te wees, die pad is vars geskraap en ek soek die afdraai na die opstal, maar van 'n afdraai is daar geen sprake nie. Ek ry tot teen die T-aansluiting, draai om retireer terug op my pad soek die afdraai, maar niks. Bel vir David, hy verduidelik iets van 'n paal met die naam Vandeventerskraal in yster letters uitgekerf en 'n Freedom Challenge bokkie bo aan, wat duidelik langs die pad staan, ek moet net daar indraai, wat kan nou so moeilike wees ?
Ek soek die verdomde paal, daar is geen teken van afdraai nie, bel weer vir David en hy verseker my ek moet naby wees want daar is net sein naby die afdraai en soos 'n bloedhond snuffel ek die pad vir engige afdraai. Die skraper wat die pad so lekker gelyk geskraap het, het 'n skouer geskraap en die afdraai toegeskraap, so 10 m weg van die pad in die stuk donkerte vind ek die paal met die yster gekerfde letters, ek sug van verligting en pak die laaste deel van die pad aan na die opstal. Een ding wat my dwars in die krop steek en hoog dedonner in maak, is wanneer ek onndige tyd verspil, jy weet jy's daar, dit moet naby wees, maar jy is nie daar nie, ek het sopas 'n halfuur van rus gemors na die afdraai.
Teen 22H00 betree ek Vandeventerskraal se opstal, smaak my hier het eens op 'n tyd reuse gebly, die plafoone is seker 4 meter hoog, ek dwaal van die een vertrek na die ander, vind die kombuis en begin dadelik smul aan die lekker boere kos. Pensie vol, klaar gestort daal ek in my eie opstal op 'n bed neer, en ek wonder waar bevind Carel Crous en sy peleton hulle nou ?
No comments:
Post a Comment