6/24/2009

Dag 9 Romansfontein - Elandsberg


Trek laat weg by Romansfontein weet nie of ons oor Aasvoëlberg mag gaan nie, die duiwel se wind waai weer en die groep kan nie by hou nie. Ek vind my weereens stoksiel alleen, hulle het iewers gaan hoor of hulle oor die berg mag gaan en of hulle 'n ander pad moet neem.

Sneeu of Aasvoëlberg !!!!
Ek besluit ek donner alleen voort bo oor die toegesneeude Aasvoëlberg, Sien vir die eerste keer sneeu, soos 'n opgewonde kind wat die eerste keer sneeu sien pluk ek my kamera uit en neem 'n foto. Dis bietjie sneeu, maar dis sneeu ek kan daaraan vat en opgewonde soek ek die Homeyr 100 myl perde uithou roete. Aasvoëlberg se piek is sprokieagtig toegsneeu en as dit nie so hoog was nie het ek daar uitgeklim en 'n sneeuman vir Melanie en die kinders gebou. Sukkel so bietjie om Hofmeyr 100 myl perde uithou roete te kry en ek kan nie die Hemelse vader genoeg bedank toe ek dit kry nie. Ek weet nie hoe hou die perde dit nie, dis 'n berg vol klippe baie, baie ongelykte klippe en op 'n mtb voel dit maar bra kak, ek is maar net te bly ek gaan daar af en nie op nie......

Die duiwel se snerpende wind waai weer, gaan dit nooit ophou nie ? Ek jaag vir die vale, want net voor Elandsberg is daar weer 'n portage en ek is nie lus om weer te verdwaal nie, die paaie is beter en meer begaanbaar, maar jy wonder die heel tyd : " Is ek op die regte pad " Ek betree die Vlekpoort, dis so asof die Karoo voor jou oopmaak, vlakte en vlaktes so ver jy kan sien, hierdie is mos meer my tipe plat wêreld, wêreld waaraan ek gewoond is en wat die verskil in my race kan maak, hier kan ek dalk bietjie jaag....

Die Vlekvlakte
Iewers in die vlaktes het hulle oer oorskot van die mensdom uit gegrawe, is dit dan die beginpunt  van die mensdom wonder ek ?

Ek snel verby Hofmeyr, sal volgende keer 'n pie kom eet, maar nou moet ek jaag vir laaste lig, dis so asof jy die heel dag die son jaag, nie dat die son die pad duideliker vir jou uitspel nie of makliker maak nie, dis net die donker huisves die in jou moer in verdwaal ongediertes. Ek jaag soos 'n besetene die laaste deel van die grondpad net om die vertroosting te kan hê dat ek darem die portage reg begin....

Sukkel baie om die begin van die portage te kry, in die kwynende strale van die son bepyns ek weereens die kaart, bepaal my rigting, identifiseer my landmerke, kry 'n fokus punt in die verte en moer toe maar voort. Dit word donker en ek bliksem deur die een donga na die volgende, my fokus punt 'n nek in die verte, drie koppie aan die regtekant en Elandsberg aan die linkerkant, ver in die donkerte is 'n ligskynsel vermoedelik Cradock se ligte kring en dis vir die skynsel waarvoor ek mik en die een doringbos na die ander trotseer.
Uit die donkernag verskyn 'n jeep track en al waaraan ek kan dink is : " Dankie Here, baie baie dankie dat U my op die regte spoor geplaas het !" en ek volg die jeep track moeiteloos tot by die Elandsberg opstal.

Weereens vind ek 'n veilige vesting,  buite loei 'n snerpende Duiwels wind, daar is nog 6 ryers wat pad soek na Elandsberg, hulle bel my op die sel al soekende na pad, ek probeer verduidelik, die sein raak weg en ek kan maar net hoop hulle vind die plek. Dis 12 uur en ek lê dankbaar in 'n snoesige bed in my eie kamer en wag vir  Klaas Vakie om sy werk te doen.

No comments:

Post a Comment