6/29/2009

Dag 12 Van de Venterskraal - Bucklands



Nie te goed geslaap nie, ek het 'n allemintige hoes aan my, ek hoes nou al so dat jy net sterretjie sien spat eklke keer wat ek hoes. Ek het antibiotika by my, maar dis vir 'n noodgeval en eers wanneer ek naby kom om 'n aar te bars sal ek dit oorweeg. Gedurende die dag kan ek die hoes onder dwang hou, maar in die nag rebbeleer hy en hou hy my die heel nag wakker, iewers gaan ek iets aan die hoes moet doen.


Val so net na 12H00 by Toekomst in, ek val weg aan 'n lekker bord kos wat Phillip Henderson se vrou Lisa vir my voorberei het, ek word tot in die afgrond bedelf en oorlaai met padkos. Ek oorweeg om myself 'n BCO inspuiting te gee, maar ek is bang my alie ruk homself weg voor ek die naald inkry, maar daar is altyd 'n eerste keer. Phillip vra my wat wil ek maak, en ek verduidelik hom ek benodig 'n BCO inspuiting om my imuniteit op te bou en die ondraaglike gehoessery te verjaag. Hy het al baie volstruise en beeste ingespuit en ek buk sodat hy die mal mountain biker kan inspuit.

Vertrek 13H00 kry die damwal maklik, sukkel my gat af om versteekte padjie na die Gwaas vallei te kry, op en af ry ek opsoek na die padjie. Die roete aanwysings sê dis 'n baie swak padjie, maar dit sal verbeter soos ek verder in die vallei opbeweeg. In my geharwar op soek na die padjie verloor ek my waterbotter, los die fiets en sak en hol so 5 km terug, dit was my spaar waterbottel, my eerste een het ek op Struishoek verloor en nou het ek niks. Kry nie die bottel nie skeeu dat die berge antwoord gee. Gelukkig het ek darem 'n pad gekry wat ek vermoed is die Gwaas vallei se pad.

Ek stop by 'n houthuis drink ou  brakwater, wurg die water in, die volgende water is seker 40 km verder by die Draaifontein opstal en ek hoop ek hou tot daar, gister was 'n lekker dag, vandag is besig om baie vinnig skeef te loop. Dis warm in die Gwaas vallei, stowwerig, die son brand meedoonloos op my neer en vir eens is ek bly die donkerte sak op my toe, maar met die donkerte keer die welbekende hoes terug, die hoes kom diep uit my longe uit, dis seer en ek snak na asem ek het nou retgte medisyne nodig.

In die donkerte ploeter ek voort, al hoesende 'n polisieman van Kleinpoort ontferm hom oor my en bied aan om my na Hannes van Bucklands te neem, die koue lug is nie goed vir my nie en ek gee in. Uitgedroog al hoesende stap ek by Hannes in, my race is nou eintlik verby, jy mag nie van gemotoriseerde hulp gebruik maak nie. Hannes prop my vol pille en hoes medisyne en dan lekker kos, ek vat 'n lekker bad en kom sit voor die vuur. Ek is nou eintlik baie spyt ek het van die polisieman se hulp gebruik gemaak en Hannes wil weet wat gaan ek nou maak. Wel daar bly net een ding oor, ek moet David inlig oor wat ek aangevang het, ek sal maar op my fiets moet klim en terugry na die plek waar die polisieman my opgelaai het, dis al genade. Hannes bied aan om my terug te vat na die plek waar die polisieman my opgelaai het, daar is nie sein nie en ek stuur dadelik 'n boodskap vir David om hom in te lig oor my oortreding en wat my plan van aksie is. Ons sal more weet wat sy besluit is wanneer hy die boodskap kry, maar nou het ek rus nodig ek moet die hoes op 'n manier afskaf anders gaan ek in 'n hospitaal opeindig.

 



 More oggend vat Hannes my terug na plek waar poliesman my opgelaai het sodat ek die stuk kan ry, en daar begin dit weer reën en dit hou nie op nie, en die wind waai en dit hou nie op nie, en ek raak gatvol sommer baie gatvol en dit gaan verby.
Die dag wat die wind van agter moet wees, is dit 'n plat oosterwind wat die reën horisontaal in my oë steek. Die pad is al so deurdrenk ek ry in 'n modderbad en ek kry myself baie jammer, die lang dae op my eie begin nou byt. By die selfoonmas naby Doringfontein besluit ek, ek het nou genoeg gehad, bel vir Melanie en sê haar ek is klaar. Sy ken my malligheid in my kop en sê toe sommer dat ek dan maar moet huistoe kom, in die wete dat ek nooit doen wat sy sê nie. Sy bel inderhaas al my pelle en vertel hulle van my voornemens en die reën verander in sms boodskappe. My sel piep-piep onophoudelik so asof dit die reën verjaag en soos dit sagter reën en ek weer die mooi kan sien kry ek nuwe moet - ek dink dis al die gebede.
Sit op die oomblik bo op die berg en kyk na die ossewa roete na Cambria. Dankie vir julle boodskappe, sonder julle sou ek nie aangegaan het nie, dankie vir julle Moerse ondersteuning, mis julle baie !

No comments:

Post a Comment