6/30/2009

Dag 14 Cambria - Willomore





David se ma maak vir my die lekkerste oats pap, en ek eet nie eers oats nie< te veel darvan in die army gehad, maar ek moet sê die oats geniet ek sommer baie.

6H00 trek ek weg op bekende terrein, moet sê die "mother of all climbs" is heelwat maklike van Cambria se kant, ek ry bykans die hele pas uit, dalk is ek net baie sterker en meer moedswillig.
Amper bo neem ek een van die mooiste sonsopkomse af in 'n lang tyd, moet sê die laaste paar dae was maar baie bewolk en reënerig en dit het seker die sonsopkoms baie meer spesiaal gemaak.

Onthou my as ek weer gaan jag om dit op 'n mtb te doen, ek het vandag 'n kudu surprise en kon 'n foto op 30m neem, 100m verder surprise ek 'n vrou wat bietjie water terug gee aan moeder aarde, nie dat die aarde eintlik water nodig het nie. Ek wys toe maar aan hulle uit dat daar ook nie 'n te skaam kudu net om die draai is.

Die Baviaans bly mooi, nat of droog, dis altyd 'n plesier om hier te ry en ek ry sommer met nuwe krag na Dam se Drift. By Dam se Drif lig Estelle my in dat daar iemand op my spoor is, hy het glo 9H00 in Cambria aangedoen en dit kan net Commander Carl Crous weer soos Fiona hom nou gedoop het. Soos wat ek vir Crous ken het hy sy troepe tot op die uiterste gedryf en nou gerebelleer hulle, Crous is nou warm op my spoor. Ek besluit om die laaste deel uit die Baviaans gas te gee om die aanval te stuit, en ek trap vir die vale, soms wonder ek of ek nie maar moet oorgee aan die wilde jaagtog en maar saam met Crous die laaste deel moet aanpak nie ?

Ek besef dat die Trans Baviaans eintlik 'n moerse lang afdraande is oppad na Jeffrey's Baai, dit voel nie altyd so wanneer jy daaraan deelneem nie, my hier waar ek nou ry is dit 'n grenslose lang sinkplaat opdraande, ek wurg die fiets om 15 km/u uit hom uit te kry, waar is gister se ooste wind nou ? Net voor Nuwe Kloof pas maak iemand  Antartika se deure oop, die son skyn nog maar die warm strale word deur die berge verberg en ek stop om warm klere aan te trek. Ek val die Nuwe Koof pas aan in laaste lig en dis so asof dit makliker gaan in die donker, dis eintlik 'n baie gemaklike mooi pas en ek verwonder my aan die skaduwee's van die rotsformasies wat moeder aarde in boë gebuig het.

Willem WP stop my by sy hek, hy beloer my liggie al van ver af, hy nooi my in vir koffie en koffie klink vir my baie lekker veral in die helse koue. Willem vertel my van Steve Honey een van die challengers wat hy gister in die ysreën te hulp gesnel het, Steve het aan erge hipotermie gely toe hy hulle vind, was nie eers meer instaat om te praat nie, wat te sê van loop of ry. Willem dompel hom toe maar in 'n warm bad en nadat Steve ontdooi het, prop hy hom toe vol warm koffie en kudu biltong. Steve ken ook nou vir Rageltjie de Beer, hy was blykbaar in 'n noue ontmoeting met haar betrokke, Willem kerf van die biltong, dis warm in die kombuis en ek geniet nog 'n koppie gasvrye koffie. Willem sit musiek aan, nogals U2 een van my gunstelinge en ek geniet die musiek tot in my klein toontjie, suiwer musiek met die regte woorde, ons begin gesels oor jag en hy verneem ek het nog nooit 'n kudu gejag nie. Ek moet net keer, Willem wil my vat vir 'n Kudu jag, sommer dadelik, 'n man kan nie die Freedom Challenge doen en nog nooit 'n kudu gejag het nie, moet sê Willem het my amper oortuig........

Ek val weer in die vriesende pad, nou baie kouer na die warm kombuise met ekstra spesiale koffie, biltong en goeie geselskap en ek kan net dink hoe Steve gister in die ysreën moes voel. Willem stuur nog medisyne saam vir Steve en so ses wilde stukke biltong en my kruik loof oor van gasvryheid, net na 20H00 val ek by die Willow's in, ek maak my staan voor die kaggel, trek die laaste hitte uit die lawende vlamme, hier sal 'n man regtig vir Rageltjie ontmoed as jy nie versigtig is nie.

Ek ontmoet vir Steve en hoor sy ontberings aan, die man is baie bly om my te sien en vra of hy more kan saamry en ek dink dis 'n goeie plan, ek het bietjie geselskap nodig en so wonder ek oor Crous, waar is die man, gaan ek voor hom bly tot die einde of gaan hy my more vang ?




No comments:

Post a Comment