Die Duiwel se wind waai alweer, waai my gemoedstoestand in sy moer in. Hier is heeltemal te veel mense wat ek ken en as 'n man gatvol is vang 'n man maklik n lift. Ek is flippen seer, doodmoeg, my fiets is gekrok en ek is baie gatvol, te veel. Ek mis my vrou en kinders verskriklik en dit voel vir my ek baklei die Duiwel of is dit dalk David ? Ons begin 3H00 ry, na gister se vroeë stop is on gedwing om vroeg uit die vere te wees, die plan is weer 'n groot dag na gister se getommelry, ons mik vir Prince Albert en as alles goedloop behoort ons dit laat aand te maak, dis nou te sê as die helse wind wil saamwerk en gaan lê......
Ons ry in 'n Antartika vrieskas, dis donners koud en ons betree elke waterstroom met groot onsag, springnnn soos 'n kat van klip tot klip, by die Baviaans inligting sentrum besluit ons om 'n breek te maak van die koue se aanslag. Ons stop vir koffie om die flees en gemoed op te warm, Tim ondek die deur van die herberg vir backpackers is oop en voor jy mes kan sê lê ons albei onder 'n warm kombers en luister na die sis van die ketel. Tim het 'n beter plan om sy gevriesde voete te ontdooi, met die gekarring vir water vir die ketel, kry hy die gevriesde pype ontvries en eensklaps sit hy met sy gevriesde voete onder die warm water in die wasbak.
Hoe dit ookal sy ons planne verloop nie en ons moet heeltyd aanpassings maak. Die beste is maar om op die gekrokte fiets te klim en klaar te maak.
En ek wonder, wonder oor baie dinge, oor wanneer die bliksemse wind gaan lê, en ek wonder wat de donner soek ek al weer op die challenge, ek wonder hoekom Tim so klein is en hoekom hy so min skuiling teen die wind bied en ek wonder hoe lank dit nog gaan neem om by Willomore uit te kom teen die dooie slakke pas. Om so baie in stilligheid te wonder in die oorverdowende gedruis van die wind is glad nie goed vir 'n man se gemoed nie, ek en Tim se gemoed word verpletter op die grond met ons aankoms in Willomore teen so teen 11H00, albei baie lus vir ophou.
Dis Tim wat met sy rustige oorredingsvermoë, my weer aan die gang praat, almal van ons veg die wind net op verskillende plekke, Tim kla nie oor baie dinge nie, hy vat dit soos dit kom en in plaas van op die wind te fokus, fokus hy ons aanslag op Martin en Andrew wat heel moontlik dieselfde wind nou baklei. 'n Ou vegter Tim, hy word nie sommer ondergekry nie en na 'n lekker brunch val ons weer in die pad, die wind gaan ons nie onderkry nie, dalk omwaai, maar ek weet ons sal weer opstaan en verder veg.
Ek sal klaarmaak vir die kinders van Miles for Smiles solank julle die nodige donasies maak, enigiets sal help. Elke kind verdien om te Smile en met die liedjie kinder gesigies soos die sterre se liggies verdryf ek die wind.
So 22H00 by Rondawel eet gou en gaan veg weer die wind, redelik moeg en gatvol geveg teen 1H30 en besluit om onder die sterrehemel stelling in te neem. Trek tog al jou klere aan wanneer jy dit doen, dit word vrek koud en reën dalk later wanneer jy in droomland is.
Johan Rissik verras ons met lekker koffie en beskuit, soos hy sê enigiemand sal koffie drink as dit so koud is. 8H00 in Prince Albert, ek en Johan bou my gekrokte fiets oor en teen 11H00 trek ek daar weg met 'n amper nuwe fiets, danksy Johan ! Tim het so net na 9H00 in die pad geval, ek dink hy is ook nou al redelik gatvol en lus om klaar te maak, hoepelik sien ek die geleerde man weer op die pad.....
Weet nie waar ek vannaand slaap nie. maar klaarmaak wil ek klaarmaak !