6/26/2010

Dag 9 De Doorns - Bucklands







Die 26 uur dag. Spring 5H00 by De Doorns weg, ons volg Carl se kraakvars nuwe spoor, hy het weer 'n regsom maneuver gemaak, gelukkig vinnig sy fout reggemaak. Vroeg oggend by Otom David en Tannie Verity van  Struishoek, Oom David oortuig ons om ontbyt te eet en ek stem in, daar het 'n rustigheid oor die oorblywende krygers neergesak en ons geniet die goeie geselskap, Ek verneem van oom David dat Carl 'n uur voor ons daar verby is, baie haastig gewees en nie tyd gehad vir ontbyt nie. Dis regtig 'n voorreg om tyd saam met Oom David, Tannie Verity en Tim en sy gesin te spandeer, aardse omgee mense die en ek sou graag langer omgee geselstyd saam met hulle wou spandeer. Stijn Laenen of Seven Bernette reken is nie maklik moontlik om De Doorns na Bucklands in een trek te doen nie, maar ek het volle vertroue dat ons dit vandag gaan maak en met nuwe krag val ons weer in die pad.

Op pad na Van de Venters kry ons 'n ou Singer naaimasjien langs die pad en verander dit dadelik in 'n roete wyser. Nuttig middagete by Van de Venters en net na 17H00 by Toekomst vir 'n smul lekker ete, dis wys om oor te slaap maar daar is 'n front op pad en ons stoot aan. Phillip verduidelik die pad so goed dat ek die pad al geselsende ry sonder om te verdwaal. Die aandlig is bedompig warm, ons ry sonder warm klere, August word die kalf vanger van Darlingtomdam toe 'n stuk of 100 kalwers hom agtervolg.

Sukkel bietjie om die skelm ingang tot die Gwaasvallei te kry, dis altyd 'n moeilike ingang om te vind en in die donker tas ons vir 'n paar minute rond voor ons die padjie in die duister vind. Ek sien hoe die front inkom en hoe die helder maan agter die wolke gaan wegkruip, ons so 02H00 in Bucklands wees maar toe kom die duiwel en donner al my beplanning op.

'n Fyn deurdringende stringetjies reën sak uit, August begin amps trek, ek sien hoe hy kwyn, hy besluit om by Dooringfontein te gaan slaap. August is moertoe, en ons val verder en verder terug, ek bied aan ons sy fiets te stoot en by die verlate opstal net voor die Perdepoort afdraai vind ons skuiling teen die reën. My water is klaar, ek het dit vir August gegee, die windpomp by die opstal knars in die wind en ek wonder of hy nog water pomp, maar die gat is lankal droog of die pyp is vol gate, geen water nie net die deurdringende reën.

Ek oorweeg om dalk 'n rukkie op die stoep te slaap sodat August weer van sy kragte kan herwin, minute word 'n uur en in die gietende stringetjies reën val ons in die pad. August is op soos baie ou skoene, wag -wag vorder ons tot by Doorfontein, ek is moeg gewag, moeg gery en haastig om in die pad te val na Bucklands. Ek  is jammer om van August afskeid te neem, maar daar is nog 'n baie lang pad na Diemersfontein en ek gaan nie vir Crous met die slakke van ons vang nie. Ek skud blad en val in die pad, August herroep sy besluit,en in 'n oogwink kos ek ons 2 ure.

In plaas dat ek omdraai na die afraai donner ek af teen die berg en neem die volgende afdraai, na 3 km besef ek my fout en draai om, die vinnige woerts warts teen die berg af word nou 'n baie stadige modderige slakkepas terug. Baie stadiger as ons slakkepas to by Doorfontein, kruip ons die berg weer uit tot by die regte afdraai, ek is moeg debliksem verby vir myself, dit was onnodig en kos ons nou baie tyd.

Die Duiwel is lustig, dit reën harder en die wind loei nou, die eens wonderlike pad verander in 'n modder geveg, August leer nuwe woorde. Ek oorweeg om by Doringfontein te slaap, maar reken dat ons nie so laat iemand moet opklop nie en dat ons maar moet aanstoot terwyl die modder geveg nie te groot is nie. Die koedoes spring en ek is nat van binne en buite, gatvol en moeg, dis 'n moerse fout gewees en so ploeter ek aan, al wonderend oor hoe ek so onnosel kon wees.

By Kleinpoort maak ek my bottel vol reënwater, raak 6 keer op die fiets aan die slaap, nogal 'n groot voordeel, die pad was heelwat korter. 26 uur en 295 km verder stop ons in Bucklands, dit sluit nou die verkeerd ry en die 7 km links afdraai na Bucklands in, wat nie in die aanwysings verskyn nie.
Tot my groot verbasing is Crous ook nog nie daar nie, so half uur later val hy daar in, hy het lekker snoesig in sy slaapsak op die stoep van die Algemene Handelaar in Kleinpoort geslaap en hy is nou oppad na Cambria, net 'n vinnige ontbyt dan vat hy die pad.

Ek moet besluit wat om te maak, ek is moertoe en August is nog verder heen, ons het slaap nodig, Osseberg in die donker is nie 'n speletjie nie, en ek besluit toe maar om hinderlaag te lê, ons lê laag en hinder niemand nie, en laat Crous sy jaagtog voortsit, gaan dit my latere spyt word ?

No comments:

Post a Comment