6/27/2010

Dag 10 Sleeping Beauties Bucklands


7H00 by Bucklands, 26 uur en 295 km later, ons het 'n moerse fout gemaak om so lank aanmekaar te ry, maar dis nou gedane sake, nou moet ons die gemors herstel en dit gaan 'n slim plan kos.

Ons eet 'n lekker ontbyt en verwarm my geroeste binneste met 'n warm stort. Ek sak soos 'n vrag beesmis op die bed neer en binne sekondes slaap ek, te moeg om eers te droom. August wonder vir 10 sekondes hoe hy aan die slaap gaan raak met die snorkende beer langs hom, toe is hy ook weg.

Raak 15H00 wakker, my klein tongetjie voel soos 'n rasper, my ogies geswel soos pofmuise, maar ek is weer gecharge, reg vir more wanneer die wind en weer verby is. Die klere is gewas, Rinie het my broek gestop, my pens is vol kos en ek het genoeg slaap.

Ons weet waartoe ons instaat is, 295 km in 26 uur, en van more af raak verdwaal al minder. En dit my liewe vrind is hoe mens met die swaai van die Freedom staffie die eens magtige boere komando in die Sleeping Beauties verander, maar wees gewaarsku die race is nie verby tot die vet meisie gesing het nie, en ek sien nog nie 'n vet meisie nie.

No comments:

Post a Comment