6/22/2010

Dag 5 Rhodes - Slaapkranz


Baie min slaap ingekry, net 2H30, spring net na 7H30 weg almal lekker moeg en glad nie baie spraaksaam nie, energievlakke te laag om te praat.
Dis op dae soos vandag wat jy wonder.... Hoekom doen ek dit ? Waarom doen ek dit aan myself ? Jy het dit nou mos al gedoen, wat wil jy nog bewys ? Vrae van die aard maal in jou kop sonder antwoorde, en dan kom die antwoorde glashelder, dis nog altyd daar ek moet net my oë oopmaak.
Dis die kameraadskap en samewerking tussen oud stryders, 'n ongeïnkte bond, dis die wonderlike mense langs die pad wat jou in hulle lewens in nooi en deel van jou ervaring word, mense soos Christo en Minky van Chesneyworld, André en Joyce van Slaapkranz.

Ons is almal lekker moeg, daar word nie te veel gepraat nie, net die geknas van die wiele op die grondpad is hoorbaar, by Brankstone slaan on hinderlaag, ons lê baie laag en hinder niemand nie. Na 'n ander half uur ontwaak ons uit ons hinderlaag eet iets en val weer in die pad. Die tog tussen Rhodes en Slaapkranz is altyd vir my moordend, deel seker omdat Lehana's en die opmars na Rhodes goed met jou gal werk en deels omdat dit nie baie plat wêreld die is nie, dan is daar nog doe polisiehond turf ook. As dit hier reën word dit letterlik 'n kakspul, die swart turf wag om elke hoe en draai om die lewe uit jou te wurg en as dit vasvat los dit nie, dit vermenigvuldig net tot jy eenvoudig nie verder kan of wil nie, gelukkig reën dit nie vanjaar nie, nog nie......

Ons doen by Christo en Minky aan, Christo verlustig hom in verlede jaar se aanhutsing en opstoking aan, lang lekker oor die wilde jaagtog tussen my en Crous en hy stop nie daar nie, die boere word aangehuts om die Ingelse te oorwin. August staar met groot oë en wonder wat nou vir hom gaan wag, sy Freedom toer is besig om vinnig 'n wilde jaagtog aan te neem. Mark en sy bende is net voor ons en as dit van ons afhang eet ons vanaand aan dieselfde tafel.

Die berge is besaai met sagte sneeu van die vorge week, die hemelruim mik mik om nog sneeu te saai en plek plek begin die modder byt, en dis nog 'n lang moddertog na Slaapkranz, ons vorder goed en wonderbaarlik stry ek en Crous nie oor links of regs roetes nie, daar is blykbaar net een roete....

Die Spitskoppe begroet ons met 'n wonderlike sonsondergang wat die berge al die skakerings van oranje tooi terwyl die kapok saggies op ons neerdaal, onbeskryflik mooi, ek vang dit vas op kamera en weet dis hoekom ek terug gekom het. In die stille verwondering dink ek aan die Miles for Smiles kinders wat nou breed sou glimlag in aanskoue van diebetowerende sonsondergang, hulle tekort aan glimlaggies maak my aanhou ry, elke nuwe glimlaggie maak elke dag die moeite werd. Met die antwoorde wonder jy nie meer nie, nee dan dank jy die Liewe Vader nederig vir die geleentheid en vermoëns wat Hy aan jou gegee het om deel te kan neem.

Jy wonder ook nie meer hoekom jou prostaat so groot soos 'n volstruis eier voel nie, jy wonder ook nie meer hoekom jy so bitterlik mistroostig nat en koud moet wees nie. Dan waardeer jy net die feit dat jy daar kan wees tussen manne soos Christo, Carl en August wat so bietjie kleur en oemf in die challenge sit.

Mark en vernote het die oggend vroeg uit Rhodes weggespring, ons is 'n groot groep by Slaapkranz en ons deel die buitekamer met Mark en sy bende, more gaan 'n taai dag wees, die manne is lus vir ons en die Boere komando gaan moet uithaal en wys, ek weet sommer dit gaan nie speletjies wees nie, verseker nie !

No comments:

Post a Comment