6/23/2010

Dag 6 Slaapkranz - Brostelea

5H30 in die pad, August maak kennis met die gevreesde  swart modder, jou fiets word sommer gou-gou baie swaarder en jy besef sommer vinnig dis baie beter om te dra as om te stoot. Dis baie kouer vanjaar, en ek is 'n man wat van die winter hou, maar dis darem heeltemal te koud, jou wasem fries amper voor dit jou mond verlaat, ons is voor Mark en sy bende en met hul liggies kort op ons hakke weet ek vandag is maak of breek.

Ons stop by 'n opstal na Slaapkranz portage, iemand het ons 'n smeeulende vuurtjie gelos, August steel die laaste bietjie hitte van die smeeulende vuurtjie om sy gevriesde voete weer nuwe lewe in te blaas, Crous eet 'n lemoen en beduie ons moet gou maak, Mark en sy bende is oppad. Crous kies 'n nuwe direkte roete na die kruin van Bontehoek portage, dis baie styler en meer ongelyk, ek vertel hom van die jeep track, maar Crous oortuig my dis die vinnigste pad en gedwee volg ons. In die verte sien ons vir Mark en sy bende besig met hulle opmars en ons stoei moedig die styl klim uit en voor ons weet is Mark en sy bende verby ons, hulle ken seker 'n baie vinniger kort pad.

Bontehoek is een modder spul, geen vastrap plek en ons gly die berg af en in die verte verdwyn Mark en sy span, 'n klap geluid, die geluid wat elke Freedom challenge vrees, die meegee van metaal wat jou fiets aanmekaar hou breek die stilte. Carl se Ibis het hom sopas ingelig dat hy nou genoeg gehad het van die swaar vrag en die modder wat hy moet trotseer, een van die links wat die agtestewe van die fiets aan die voorkant vashou het morsaf gebreek, 'n skoon breek soos die dokters sal sê. Ons is tussen niks en nêrens, daar is nie sein nie en planmaak sal ons vinnig moet maak, dis net 'n kwessie van tyd voor die ander link ook die gees gaan gee. Ons stop by die opstal onderkant Bontehoek, 'n jong vrou maak oop en Carl nooi ons vir koffie, die boer is nie by die huis nie en sy gereedskap is toegesluit, ons sal maar langs die pad 'n plan moet maak.

Carl is hardkoppig soos ek hom ken, en oppad Rossow toe oortuig ek hom uiteindelik om te stop sodat ons 'n boere plan kan maak, ek leun 'n stukkie bloudraad van een van die grensdrade en siedaar 'n nuwe bloudraad boere link, dit gaan nie vir altyd hou nie, maar dit gaan ons by die volgende opstal met 'n nuwe plan uitbring.

Ons top by die polisiestasie in Rossow, die enigste plek met hopende 'n landlyn wat werk, Carl bel vir David om hom in te lig van st sutuasie, die oplossing volgens david is eenvoudig, maak die ou fiets reg met 'n boereplan of kry 'n ander fiets en geniet 'n " time penalty ". Die tyd van die time penalty moet nog bepaal word, maar daar sal verseker een wees. Met die woorde begroet Crous my na sy oproep, hy het besluit hy kry 'n ander fiets, sy broer is reeds oppad en die race om te wen is nou in my hande, hy gaan 'n penalty kry...

Die gemoed is somber, almal is stil, niemand sê niks en in die stilte jaag ons voort, dis so asof Carl van bedonnerdgyt sy fiets in die grond in wil ry en met elke trap tel ons spoed op, ons vlieg vinnig by Danie van Moordenaarspoort in vir 'n baie vinnige bord sop. Die sop het skaars maag gevat toe word die wilde jaagtog voor gesit, ons stel 'n nuwe rekord met 'n bloudraad gelapte fiets op na Slaapkranz in 2H16 en dit teen 'n jongerige Freedom Challenge wind.

Carl het met Willie sy broer gereel om die spaar fiets by Brostelea af te laai, Sandra se lekker kos word afgewurg en opgestapel vir die jaagtog wat voorlê en weereens val ons in die pad die broodkrummes en konfyt hak nog op my baard vas, sal hulle later aflek wanner die opgestapelde kos gesak het. Ons sny die aarde oop, daar is nie eers kans vir poep nie, opstalle flits verby, ek ontwikkel 'n ongemaklike pyn in my lies en die jong Freedom Challenge wind word groot. Ons voer sulke rol maal bewegings uit, iets waaroor die Springbokke elke dag droom, jy slaan die wind so hard as wat jy kan en dan is dit die volgende man se beurt en so slaan ons gate in die wind. Die pyn in my lies briek my, Crous sê ek moet net hang en bo op die plato besluit ek, ek het nou genoeg gehad van die jaagtog, sê vir Crous en August hulle moet gaan, Carl praat iets van ons moet saamwerk en ek sê hulle moet gaan, ek ken die pad en daar bly ons toe maar almal saam op my pas.

Net na 22H00 in Brostelea, alles gevries, die waterbottels, my hande en tone, tot my balaklawa is vasgevries, maar teen -5 is enigiets moontlik. Willie is nog nie daar met die spaar fiets nie en ek en Crous is moeilik met mekaar, hy dink ons moet maar ons eie padjies gaan en ek voel ook so. Ons ia altwee ewe hardegat en eiewys, kon seker maar dieselfde mens gewees het met verskillende name en twee diamante maal mekaar nie rond nie, hulle breek mekaar.......

Ek weet nie wat more vir ons gaan inhou nie, Carl is nou sterker as die ou Rusland, more voel ons dalk ander en as ons saamry gaan ons nou-nou 200 km per dag doen.



No comments:

Post a Comment