6/25/2010

Dag 8 Hofmeyer - De Doorns





Begin 4H00 met die rol maal bewegings, kom vroegdag by Elandsberg aan, dis nogal baie voordelig om die vorige jaar so al op jou eie te gery het, jy weet waar jy die vorige jaar foute gemaak het en hoe om dit nie weer te maak nie. Ons eet 'n lekker ontbyt by Elandsberg, August het hoeka gekla dat vis en chips nie genoeg is vir hom nie. Alles loop voor die wind en ons eet 'n vroe middag ete by Stuttgaurd, ons val in die pad en Carl beur regs, ek sê links, maar ons bly regs aan donner. Ek probeer Carl oortuig ons is verkeerd maar in die proses oortuig ek myself dat ek dalk verlede jaar 'n verkeerde pad gevat het, links of reg ons kom tog altyd op dieselfde plek uit.......Alles lyk baie vreemd, Carl is oortuig ons is op die regte pad en ons donner voort die berge uit en toe ons sowat 15km weg van ons oorspronklike afdraai is gee Crous toe dat ons dalk nie op die regte pad is nie. Na 'n wilde 2 ure draai bevind ons onself op die regte pad, alles lyk nou vir my en Crous bekend en ons maak weer goeie vordering.

Oom Gawie van Gansvlei, my redder van die sneeu storm verlede jaar is nie tuis nie en in die laaste lig pak ons die Skufteberge aan. August se battery is pap, die jongman sukkel om by te hou, dalk poog hy om nie te na aan die warm stryery tussen my en Crous te kom nie. August raak agter, ver agter en ons wag wag die berg uit, by Skufteberg opstal  trek ons warm aan, die vrieskas is alweer oopgelaat. Die plan is nogsteeds om Van de Venterskraal te haal.

Die damwal bars by Coetserskloofspruit, Carl wil regs en ek sê links langs die spruit, 'n woorde wisseling vind plaas en ons trek regs, na 'n halfuur skop ek vas, ek is hierdie keer dood seker ons is verkeerd. Dis donker en twee groot manne pak mekaar met groot woorde en arme August bevind hom in die middel, hy weet self nie waar hy homself nou bevind nie. harde woorde weergalm teen die kranse uit, die donkerte sluk die harde woorde in en August bevind hom in 'n doodse stilte en  stadig beweeg die liggies uitmekaar en links en een regs. My bloed kook, Crous se bloed kook, August se bloed is yskoud, hy weet nie wat homself nou getref het nie en in die stik donker stilte beweeg die liggie uitmekaar. August moet 'n keuse maak, ek dink sy grootste vrees was ons saam met enig een van ons te gaan, die woorde was vuurwarm en hard, maar hy kan nie alleen daar bly nie en besluit toe maar om links te gaan......

Met ons aankoms by De Doorns is Crous nog nie daar nie, ek weet hy moes seker iewers besef hy is op die verkeerde pad, ek wonder waar hy homself nou bevind en of ek hom weer gerurende die race sal sien ? Twee ure later begroet 'n bebloede Crous my, die doringtakke het hom opgekerf, en sy enigste woorde aan my : JY WAS REG !!!!

Crous is moeg debliksem in en ons besluit saam om ons eie paaie te gaan, hy vra om verskoning, ek vra om verskoning en August hou groot oog die gesprek dop. Carl vra my hoe laat ek more gaan ry, ek sê 4H00 en hy sê dan trek hy 3H00 weg en so in die knetter van die kaggel onstspoor die eens magtige boere trein ten goede, die volgende argument so dalk nie met vuurwarm warm bulderende woorde ge-eindig het nie.

150 km vir die dag gedoen, was van plan om by Van de Venterkraal te slaap, maar 'n klein omswerwing hier en daar laat ons gestrand voor 'n somber kaggel. Terwyl ek so in die vuur staar pak die verlange my beet, ek mis my Ingelsman Melanie en die kinders Alison en Danielle, gelukkig het Melanie 'n stel prag foto's vir my gemaak wat ek so op die rugsak saam piekel.

Andrew en Tim is ysters, om elke dag so hard te ry vat aan 'n man, later in die dag  worddie gat en die ander goed maar bra seer, maar dis wanneer dit donker word wanneer die ou diesel inskop, ry dan baie beter, voel ook sommer baie beter.

Die boere trein het sy laaste rit gedoen, twee van dieselfde generaals kan nie een trein stuur nie, ons doelwit is dieselfde, maar ek het 'n links en Crous 'n regs en elkeen glo en weet hy's reg, en kom op sy manier by die plek uit.

Sterkte ou maat sien jou by die einde in Diemersfontein, ek gaan linksom.



No comments:

Post a Comment