6/24/2010

Dag 7 Brostelea - Hoffmeyer








Ek en Crous het stilswyend besluit om ons verskille te los, saam staan ons op en saam val ons in die pad, die tyd straf hang nog oor Crous se kop, maar ons vermoed dit gaan 12 ure wees, Derick Baard het die vorige jaar homself 'n 12 uur straf op die hals gelê. Ons bevind ons weer in die midde van 'n dolle jaagtog, moet nou opmaak vir wat ons gister verloor het, stop by die Vegkoppies opstal om ietsie te eet en met nuwe menig val ons in die pad. Middag ete word vinnig ingewerk by Romansfontein, my nuwe mikpunt wat ek vir die boere krygers stel, is Elandsberg, ek weet ons kan dit maak en ek ken net die dankerpad na Elandsberg, nog nooit in die dag gesien nie.

August alias jongman het 'n ruil transaksie met die oumanne aangegaan, in ruil vir ons linksom - regsom stryery, wat in any case op dieselfde plek uitbring, sal hy die 5621 en 'n halwe hek vir ons oopmaak indien ons, ons stryery vir onsself los. Op die manier stoomroller ons voort sonder om enige momentum te verloor, gelukkig is daar nie baie links- of regsom opsies nie. Op Aasvoëlberg besluit Crous ons moet op die jeep track bly oppad boontoe, ek vertel hom van 'n kortpad linksom, August maak die hek oop en ons bly toe maar op die jeep track wat ons in ons moer in laat klim tot amper bo op Aasvloëlberg, Crous gee toe, my pad sou korter en minder inspanning geverg het.......

Ons informante deel ons mee dat ons groot oog dopgehou word, wat sal ons volgende move wees ? Dis soos ek verlede jaar gesê het, jy kan nie beplan nie, nog minder met twee hardebaard boere generaals en 'n junior ryer wat nie eers mag saamstem oor links of regs nie.

Ons krap mekaar se planne om, wanneer ek wil stop wil hy gaan en andersom, en in die proses donner ons, ons junior ryer se 21 dag plan op, te minste geniet hy die twee hardegat generaals. Ek kan sy familie verseker dat hy in baie goeie leer gebruide hande is en dat ons na hom omsien asof hy ons eie vlees en bloed is.

Met laaste lig betree ons Hofmyer se liggies, ek wil aangaan na Elandsberg dis so 3 of wat ure weg, maar Carl weier botweg, ons gaan verdwaal en dis beter om in Hofmyer te slaap en more vroeg weg te spring. August bied aan om vis en chips vir ons te gaan koop en ek gee in, op voorwaarde dat ons baie vroeg more wegspring. Ek was my klere en diens die fiets, sluk die vis en chips met 'n lekker coke af en wonder oor more....

Wat hou more vir ons in ? 'n Wonderlike dag met God's rykste seëninge, prentjie mooi natuur en gasvryheid soos net op die Freedom Challenge te bespeur. In my snoesige warm bed in Karoobos lê ek en wonder waar ek more gaan slaap ......

Die boere trein het weggetrek en is nou besig om goeie spoed te vang, nie eers die bokke kan so rolmaal beweging uitvoer nie. Brostelea na Romansfontein 75 km 5H55, Romansfontein na Hofmeyer 95 km 5H35 @ 'n gemiddelde pols van 114 b/min 6200 kcal.


No comments:

Post a Comment