6/18/2010

Dag 1 Pietermaritzburg - Centocow







Spring weg en alles gaan voor die wind, ons ry goeie tye, dis nou ek, Crous en August.
Ek doen so liggiese kramp oppad na Minerva, gelukkig het Marita se strek oefeninge my so los soos tastic rys gemaak en die kramp is gou vergete.

Hela Hela bly 'n bliksem, veral as jy van ons plat wêreld kom, gelukkig is Tim James daar om ons met 'n lekker koue Coke te groet. Carl stoei die opdraande uit, lelike krampe, August dokter hom met Kalsium pille en ons klok voor 16H00 by Allandale in.

'n Halfuur later is ons oppad na Centocow alles werk 100%, aangesien ek die vorige jaar 'n paar kringe in die bos gemaak het, gee ek die spoorsny leisels oor aan Crous, dis immers sy derde Freedom Challenge en hy sê hy weet waar om ons te vat......

Ons hervat toe weer my kringe in die bos draaie van die vorige jaar, gelukkig onthou ek waar ek die vorige jaar kringe gemaak het en ons vermy dit ten alle koste. Ons maak nuwe kringe in 'n nuwe bos, so nou en dan kruis ons een van my ou kringe en dan retireer ons, vra die locals waar is die Centocow en hulle beduie oor die berg en ons storm die berg, verdwaal soos Hansie en Grietjie nooit kon dink om te verdwaal nie. Bel vir Jaco Strydom om op die tracker te kyk waar die moer ons is, Jaco krap kop en probeer 'n roete beplan, die tyd loop en ek besluit ons gaan links om, ons vat my verdwaal pad van verlede jaar, dis lanker maar ek weet dit gaan ons op die regte plek uitbring.

August se kragte is aan die kwyn, hy is flou, dis laat nag en bitterkoud, die ryp knars onder die wiele en in die verte verskyn Centocow se liggies. Ons bereik Centocow na middernag, 'n hele paar ure gemors met nuwe kringe in die bos en ons grootste probleem is om die mense van Centocow wakker te kry, sodat hulle vir ons kan oopmaak.

Na 'n hele ruk se geskree en gefluit verskyn iemand in die laatnag skynsel en ons word gered uit die kloue van die bibber koue. Ons het so 80km se ekstra kringe in die bos afgelê  in subzero temperature, August het nie gedink ons mission, wat skeef geloop het, is snaaks nie, 'n goeie jongman wat nog gaan leer dat alles op die Freedom nie noodwendig volgens jou plan verloop nie.....

No comments:

Post a Comment