6/20/2015

Dag 5 Vuvu - Chesneyworld 11H00

Spring 4H00 weg en ons vorder goed, sien die mooiste sonsopkoms. Ou Jack Black sou vandag baie trots op my gewees het, ek het vandag sy tigerline gevat oor Lehanas,  moet sê dis nogal styl daar op. Ek het eintlik nie beplan om die tigerline te volg nie, maar Ivor was so entjie voor ons, Stuart se knieë het hom terug gehou en in 'n poging om die groep bymekaar te hou het ek van die middel bevel geskree, die wind het egter van my bevele weggewaai en Ivor bevind hom toe op die tigerline. Al wat oorgebly het was vir ons om hom te volg, halfpad op sien ek Ivor het sy fout korregeer en dit laat ons toe met 'n opsie, of ons sak met 40m na die kontoerpad, volg vir Ivor en klim dan weer 60m  langs die container verby, of ons klim die laaste 40m tot bo op die kruin en vat die pad na Tena Head. Stuart en Ann besluit op die makliker pad agter Ivor aan, ek maak somme en besluit op die baie styl 40m klim, ek sal hulle by Tean Head kry. Ek moet sê dis 'n parmantige klim, 'n gras gladde styl klim besaai hier en daar met los klippe. Die swewende groep Kaapse Baard Aasvoëls hou my bewegings fyn dop, ek is bo op die kruin voor die res van die geselskap onder die container ontmoet en ek moet sê die bietjie ekstra suffering is elke sweetdruppel die moeite werd !!! Die gesig van die swewende aasvoëls oor die berge en dale, elke tree die moeite werd, priceless soos die ingelsmanne sê.

Skielik dink ek aan Jaco Strydom, 'n gevalle Freedom Challenge makker, en ek wonder waar sy gedenksteen opgerig is, die plek waar ek nou staan moet die plek wees, dis hemels en soekende deur die sneeu na Jaco se steen beweeg ek na die swaar belaaide jeep track. Ek gedenk vir Jaco, Jaco wat altyd behupsaam was in die begin jare om ons weer op die regte spoor te plaas, Jaco wat ten spyte van die kanker wat sy been opgevreet het, moedig die tog van Beitbrug op die spoor van die Freedom Challenge aangepak het Kaap toe, Jaco wat die Freedom Challlenge in reverse klaargemaak het en Jaco wat nooit, nooit ooit gekla het nie. Dis was vir my 'n groot eer om Jaco elke jaar te bel met sy verjaardag, nog 'n groter eer om sy borrelende stem te hoor en sy vrae te antwoord oor wat my planne vir die volgende Freedom Challenge is. Jaco sal soos die Freedom Challenge sterre van die nag altyd deel van my aanslae op die Freedom Challenge wees.

* Jaco se gedenk steen is opgerig by die klipstapel, die ideale plek om sterre in die nag se hemelruim te pluk en sommer baie ver die freedom Challengers te sien aankom.

Stop by Tena Head vir twee koppies koffie, Stuart kry 'n message vir sy seer kniee. Ek val in die pad, wil Slaapkranz nog vandag maak, die wind is besig om op te steek en die pad is nog lank. Stuart, Ivor en Ann smaak nog so bietjie koffie en ek besluit dis tyd om te gaan, ek het bietjie alleen tyd nodig, ek worstel regtig erg met die spoed waarteen ons beweeg, ek moet vrede maak met die feit dat Stuart en Ivor my borg en in ruil daarvoor moet ek die pad vir hulle vind.

'n Boer se woord is sy eer en ek sal by my woord moet staan en die spoed pil maar sluk......

Stuart lyk nie goed met sy aankoms in Rhodes nie, die man het al agt pyn pille vandag gesluk, ek ken die tekens en simptome en die uitslag van die situasie en ek weet wat gaan een of ander tyd gebeur...

So paar kilo's uit Rhodes besluit Stuart se kniee, hulle het genoeg gehad. Ek ken die gevoel, het dit al voorheen beleef en ek sien die tekens, die man wil met sy hele siel en hart voortgaan, maar die lyf wil nie. Kleinboet Werrie het dieselfde deurgegaan, ek onthou die trane en die kyk, gelukkig weet ek hulle sal weer terugkom.

Die Sweepers bestaan nou uit twee boere, ons het vanaand net een Castle Light gedrink, die prooi is in sig, gaan ons, ons titel afstaan, of gaan ons more twee biere drink en seker maak ons maak die laaste spore op die Freedom Challenge.....


http://matlaabana.co.za/freedom-challenge.php

1 comment:

  1. Geniet die Bier! Hou moed!!!!!
    Dis koud in Engeland ook.....en dis somer!!

    ReplyDelete