6/28/2015

Willomore - Prince Albert in 'n briesie..

Gisteraand besluit om eers 5H00 te ry, die wind lyk nie of hy te erg gaan waai nie, wel in elk geval nie soos verlede jaar nie.

Dis 'n dooie lewelose stuk pad, vol sand, verspoelings en sinkplaat, en as die wind begin waai kyk jy net vir die lewelose stuk grond voor jou. En wanneer jy so vir die pad staar, klim die dooie stuk grond saam met die wind in jou karakter in. 

Om dit te vermy dink ek aan die mooi dinge van die lewe, my wonderlike vrou en kinders en die pad word plat en die wind gaan lê, al is dit net in my gedagtes.

Die jaar is ons gelukkig, dis 'n briesie van 15 km/h en die hele tog neem ons 9 ure, verlede jaar se geveg het 7ure langer geneem.

Die pad raak mistig en 'n ligte windjie begin pluk-pluk aan my gesig, die ander manne het vroeg weggespring, en hier lê baie vars spore in die pad, so vars ons ruik die manne amper. Die racing snake borrel uit my uit, en ons vat die spoor, van die eerste man lank voor Rondawel, die mistigheid pla met sy bril, Mike Roy vang ons so 5km later en die Banana Boyz vang ons by Rondawel.

Die Banana Boyz is reg vir die pad, my neusgate is oopgesper, my ore ingevou, hier kom 'n dice, ek voel dit in my linker toon, ek sluk my kos so vinnige af die vurk word amper saam gesluk. Die kettings het ek al ge-olie met die stop slag, al wat nou oorbly is om die spoor te vat en te jaag, die Banana Boyz te vang en dik kuite vir hulle te wys. Die wind blaas weer reg van voor en die tenk vang maar stadig spoed, nie altyd so baie vinnig nie, maar so blerrie konstant as ek dit self mag sê.

Ivor het my op sleeptou, moet sê dis 'n lang sleeptou, hy is so kilometer voor my, maar hy bly net 'n kilo voor my, die spore wat ons jaag word duideliker, die manne kan nie te ver wees nie. Hoe vinniger ons jaag hoe harder blaas die wind, dis 'n ysige wind, maar dis weer lekker om iets te jaag, my hart klop sommer warm, Lindsay van Dennehof verskyn, die kookwater vir die koffie is nog nie reg nie en hy deel ons die baie goeie nuus mee, die Banana Boyz is net om die draai. Ons besluit die koffie kan wag vir Dennehof, hierdie dice is nou heeltemal te dik en ons val in die pad, moet sê die Ingelse was baie gaaf gewees, hulle het ons sien aankom en soos dit hulle betaam die hek vir ons oopgemaak en 'n erewag gestaan, ons voorspoed toegewyf en die hek agter ons toegemaak.

En toe sit ek die hammer neer, ordentlik neer bedoel ek, ek sit voor en Ivor agter, die man verwonder hom aan waar my kragte vandaan kom, ons begin 'n rol maal beweging en met so 10 kilometer oor roep Ivor halt, nie eintlik halt nie, ons moet ons kragte spaar vir more die Banana Boyz is hy seker gaan ons nie vandag vang nie. Ivor is verbaas oor die spoed wat ek uit die 26 duim fiets kan haal, ek lyk blykbaar soos 'n Oos Indiese resies hoender op die fiets soos ek die trappe klits, baie mense is seker verbaas oor my vermoëns, ek lyk blykbaar nie soos 'n racing snake nie, ook nie die gewoontes van 'n racing snake nie, maar diep binne my is ek baie moedswillig hardkoppig en dis 'n kop race die.....

Voor ons, ons oë kan uitvee is ons 14H30 in Prince Albert in tyd vir 'n middagslapie... en soos elke keer moet ek verduidelik hoekom ons die tyd van die dag stop, wel ek het 'n middagslapie nodig, 'n biertjie of twee, my fietsie het 'n was nodig, my kleertjies ook en die baas ook en op die hele Freedom Challenge is dit die plek om nie verby te ry nie, dit moet 'n dice om lewe en dood wees om nie te stop nie.......




Life is a journey, make it count and donate

No comments:

Post a Comment