Ons vertrek netso voor 3H00 ek so ent voor Tim, hy sal my weer teen die klimme vang, ons ry teen tyd moet voor 13H00 by die Baviaans hek wees om begely te word vir die gevaarlike buffels, as die manne van die Baviaans maar net weet waar en tussen wat ons al alles deurgery het, maar nou ja dis vir ons eie veiligheid. As dit van my afhang het ek die hele deel uit die roete gesny, Modor is nie 'n lekker plek nie en dis so asof die katusse weet ons hou nie van die plek nie, want hulle word al meer......
Tim vang my teen die steil klim uit die Grootrivierpoort, ons ry so entjie in mekaar se spore tot by die volgende opdraande, ons doen weer die klere dans, trek aan, trek uit, trek weer aan en weer uit, snaakse weer, warm en vrek koud.
Dankie aan Expedition Africa se 160 spanne wat die Osseberg bietjie vir ons oopgetrap het, gewoonlik is die oorblyfsels van die jeeptrack so toegegroei dat jy meer teen die afdraande stoot as wat jy ry, ek is voor Tim met net sy voorbriek onder, ook maar net, sy handtering van 'n fiets met net 'n voorbriek spreek hoofstukke. oor die jare het ek al 'n weersin opgebou vir die stukkie aarde, die toegerankte oorblysels van 'n jeeptrack wat plek plek in 'n donga ontaard, die duisende dooie en lewendige doringbome wat die pad toegroei altyd gereed om jou 'n hou toe te dien, die riete soos die hakia in Stetteyns, altyd gereed om iets te gryp of te breek en die nuutste toevoeging die klou kaktus, die goedjies het die gewoonte om op te spring, jou 'n arsenaal brandende steke toe te dien en dan vir lewe en dood te klou, van die been na die hand na die anner hand en tussen dit alles ry jy tussen die wit beendere van Kudu karkasse wat seker van die kaktusse ge-eet het....
Onner gekom gaan sit ek op my gaai, pluk my laaste pyl uit en vat 'n lang teug, ek weet wat vir ons wag..... Ek en Tim bespreek die stukkie aarde en ja dis prentjie mooi as jy doodstil sit en nie 'n poging aanwend om enigsins te beweeg nie, ek wys vir Tim waar ek die vreesbevange Jill heel van koers tussen die riete gekry het, daai gesig die een van vrees wat oorskakel in blydskap sal ek nooit vergeet nie. Ons bespreek die uithaal van die lappie aarde en ek en Tim verskil, Tim wil die deel behou en sê dis uniek, noodsaaklik en deel van die race, waaroor praat jy wanneer jy eendag klaar is ? Ek moet toegee hy het 'n punt, maar dis nie 'n baie lekker deel nie, seker maar soos Stetteyns enigste verskil is by Stetteyns kan jy sien waar jy moet uit, dis net om daar te kom.......
Gelukkig en voordelig vir my en Tim weet ons waar om te gaan en 11H40 val ons in by Kudu Kaya, ons raak nou aan die voorkant van die race en die oorblyfsels wat die anner manne gelos het word al minder, ek maak vir my twee dik geroosterde kaas en heuning broodjies vir die pad, en ons deel die res van die oorblyfsels tussen ons. 13H00 is ons by die hek, Jacques moet ons begelei met 'n bakkie en ek en Tim moet bymekaar bly en ek weet dit gaan maar bars gaan teen die klimme, die sweet loop strome teen my af, ek werk nie net hard om by te bly nie, dis sommer ongehoort warm ook. Die salpeter slaan my uit en in 'n poging om die peanut af te koel hang ek my hemet op die handlebars, die nadeel is die sonnetjie brand my bollakop laat hy lyk soos cherry konfyt, en so ploeter ons voort tussen die kuku wrakke en die droë veld, smaak my die buffels vreet als op en al wat oorbly is verlate vlaktes. Jacques se bakkie hou my aan die beweeg ek moet voor die ding bly en hy moet agter my bly en al wat oorbly is om te trap om by die oorkantste hek.......
Laaste lig kom ons by die hek aan, dis nou ek en die agtervolger, Tim wat so ent voor my was het by die hekwagte se vuur homself wag gemaak, die son wat dooierus op ons gevat het maak nou dat ons skielik baie koud kry en ons vertoef so paar minute om die lekker vuur. Ek val in die pad na die volgende plekkie wat nooit naderkom nie, Damsedrift, dis moontlik die stikdonkerte en die moegheid wat veroorsaak dat Damsedrift nie nader wil kom nie. Dis 'n grenslose sinkplaatpad en die Rush soek weer alkant 'n gelyk stukkie aarde op die hobbelpad, ek is uit die saal uit, gatvol soekend vir Studis Polies Stasie se ligte, want as ek die ligte kan sien weet ek is ek amper daar.
21H40 is ek daar, Tim het besluit om eers so ent verby te ry op die eentonige pad, Runè het vir ons vuur gemaak, Estelle die lekkerste kos en ek raak aan die gesels, Tim praat iets van middernag ry, maar ek gesels te lekker, Hestelle moet eers 'n doring val 'n val seker twee dae gelede uit my duim verwyder. Lekker plek die Damsedrift, naby aan my hart, my pyle is op en ek vra wetend dat niemand hier rook nie vir 'n pyl en Runè kom te vore met 'n verlore pakkie wat een van sy vriende gelos het en pyl vir pyl gesels ons 'n hond uit 'n bos uit. Runè vra my op 'n stadium of ek nie moet slaap nie en ek antwoord : Ek en Tim het vandag besluit dis ons laaste Freedom en daarom gaan ek die kuier geniet, want volgende keer gaan dit nie met 'n fiets wees nie, ek klim na die lekker kuier na aan middernag in die bed in, ongeveer dieselfde tyd as wat Tim my weer verlaat.
My selfoon het ek moertoe geval in die dubbele plaaskoop aksie naby Koedoeskop en is onbruikbaar verklaar vir alarm doeleindes, ek stel dis my horlosie en hoop om 2h00 deur hom opgewek te word....
No comments:
Post a Comment