6/18/2017

Brostelea - Elandsberg



In die snerpende koue val ek 2H00 weer in die pad, die sinkplaatpad help darem vir ekstra warmte met die geskuttery, ek wonder hoe koud dit is, want ek voel die koue wil byt, vandag het ek darem sommer my reënjas ook aan, iets wat ek nou die dag in my koue nag vergeet het. Ek wonder oor waar Tim is, het hy by Pierre Cloete gaan slaap, ek het Pierre se nommer vir hom gegee, Pierre het my laas ingenooi vir 'n braai en 'n paar biere en amper oorrompel om te slaap, dalk het Tim in die Blokhuis gaan slaap of dalk iewers in 'n ou murasie, my oë al soekend in die donker nag na Tim. Moet sê ek en Tim geniet mekaar se geselskap en dis altyd lekker om saam te ry, ons stop gewoonlik op dieselfde tyd, mors nie mekaar se tyd nie, praat nie wanneer dit nie nodig is nie en motiveer mekaar om aan te hou wanneer dit nodig is.

My gedagtes bly dwaal in die stikdonker maanlose nag, ek verlang na Melanie en die kinders, Danielle se borrelende laggie, nog 'n opgewende hopballetjie soos Martin, ek verlang na Alison wat my elke dag motiveer met 'n dagstukkie en Melanie se warmte wat my dryf na hoër prestasies. Die verlange wel in my op, ek wil graag bel, maar MTN is dood, so dood soos my vingers, dit lyk werklik of hulle ontrek het. My gedagte woel oor die boere oorlog, jy weet geskiedenis op skool is mos 'n onding, wat wil ons nou weet van wat ons voorvaders aangevang het, en dan ry jy die Freedom Challenge deur Stormberg, en jy slaap in die Ingelse Blokhuis en jy koop 'n boek oor die Boereoorlog en jy lees Denys Reitz se storie oor 'n bitter koue nag in die reën, Boere geklee in streepsakke of wat hul kon vind, perde dooi van die koue, manne bibber en beef van die koue, Ingelse op hul spoor beur hul voor die koue in en dan ervaar jy dit.........Dit bly donners koud, nie dat dit in die winter nie iets anners is in die geweste word nie, en ek die Boer, die Boer is altyd op 'n Ingelsman se spoor, of daar is 'n Ingelsman op my spoor.........

Ek het nog nooit by die Ingelse monument gestop by Vegkoppies waar die Boere die Ingelse op hul moer gegee het nie, ek het al gelees en gegoogle oor waar dit is, die lig breek net betyds en in die verte sien ek iets wat vir my soos 'n monument lyk en ek vind die pad en ek gaan kyk en ek beleef die hele slag weer, van die Ingelse wat die verkeerde pad vat, by die opstal amok maak en hul posisie verraai en die Boere gereed maak vir die aanslag en ek is bly ek het die boek gelees...

Die geruipte pad vertel 'n storie, Tim is agter my of ver voor my, want dis net my spoor wat ek los, die verlange woel weer op in my en ek wonder of Molteno se MTN nog bestaan, daar altyd sein op die teerpad. Selfoon in die hand snel ek die teerpad op soekende na sein, 'n bakkie kom in die mistigheid verby, my moeë oë wil nie lekker fokus nie, lyk vir my soos Glenn se bakkie.

Die bakkie stop, dit is Glenn, hy vra my hoe dit gaan, neem 'n foto van my heel meer stream line karkas, ek vra oor sein en Glenn sê daar is gewoonlik by die afdraai, maar lyk my nie vandag nie, die koue val my weer aan en ek val in die pad en wonder bo wonder kom die boodskappe op my foon deur, sein Haluluja !!!!

Ek bel vir Mel gesels 'n hond uit 'n bos uit, die verlange is groot, Danielle verlang ook en sê ek moet roer, die koue byt, Tim is voor my, nou-nou net by Romansfontein aangekom en ek is bly ek het nie die ysige koue nag aangedurf nie. Vol nuwe krag en warmte jaag ek Romansfontein toe vir 'n blitsige stop ek wil graag vir Tim vang ek sien weer sy Maxxis Crossmark spoor voor my, hy het ook amper verkluim, 6 bakkies yogurt ge eet en toe weer in die pad geval.

Onder Aasvoëlberg moet brieke ruil, die langpad Vlekvlakte is 'n eentonige klim en ek jaag om ligdag Elandsberg te haal, met laaste lig land ek in Hofmeyer, koop vir my 'n Coke, Asyn Simba chippies, twee Barones en 'n vars pakkie pyle, hulle hou nie my smaak aan nie, maar na bykans 4 dae van niks sal enigiets doen en Kent is die ding. By Karoobos neem ek stelling in, pyl in die hand, coke in die ander hand wat afwissel met 'n asyn chippie, Boet Werrie bel, Mike Potgieter is besig om rond te neuk in die Elandsberg en ek wonder so vir 'n oomblik of ek dit ook gaan doen.

So uur of wat later vind ek myself voor dieselfde kruispad, jy volg 'n jeeptrack tot by 'n draad, klim die draad en mik dan vir 'n nek tussen Elandsberg aan die linkerkant en drie koppies aan die regterkant en tel dan 'n jeeptrack op wat jou na Elandsberg lei. Die truuk is daar is twee jeeptracks, die eerste een neuk die berg in en die tweede een is die pad na Elandsberg, in die dag heel maklik herkenbaar maar nie in 'n maanlose donkernag nie. Ek vind 'n jeeptrack, weet nie of dit die regte een is nie, maar albei begin dieselfde en na so ent weet ek dis die verkeerde een en al wat oorbly is om die kompas wat ek vir my aangeskaf het by Malekholonyane uit te haal, Suid-Oos te bepaal omdat ek nie die Suiderkruis kan sien nie en oor die klippe aan te donner tot ek die regte jeeptrack kry.

Vind die regte jeeptrack en netso na 10 val ek by Elandsberg se deur in, en ek wonder of ek nou moet aanploeter na Newlands en of ek moet slaap, met my tweede Freedom Challenge het ek die 26 uur aanmekaar ry fout gemaak, dis okay as dit in die laaste deel van die race gebeur, maar nie voor die Baviaans nie en ek besluit op 'n drie uur slaap sal more Tim probeer inhaal, hy slaap verseker in Newlands......


No comments:

Post a Comment