6/20/2017

Gegun - Hadley

Middernag val ons in die pad, dis snaaks warm, ons het skaars 'n paar kilometers gery toe begin ons uittrek, snaakse weer wat ons het. Ek en Tim maak goeie vordering en in 'n oogwink groet die klipperige Jeeptrack van Karoopoort ons, dis 'n steil klim en dan 'n moerse gevaarlike klipperige afdraande, iets wat jy nie met kaal hande aanvat nie. Ek en die die 29er verstaan mekaar nog nie heel so goed nie, gewoond aan my klein nippie 26er, maar ek moet sê op die plat is die 29er 'n sneltrein.

My wiel het 'n klip opgegooi terwyl Tim in my slip gesit het oppad Kranskop toe, die moedswillige klip het sy agterbriek se brakeline heel onnodiglik morsaf geslaan, nodeloos om te sê, van daar het Tim geen agterbrieke nie en ek is nogal gespanne of Tim dit net met die voor briek heel op die fiets gaan afmaak tot onder, stap sal seker die beter opsie wees....

Ek dink nog so aan Tim toe donner ek die eerste keer neer op die klippe, staan heel verbaas op oor my sleg hantering en ry toe verder net om vir 'n tweede keer ordentlik neer te donner, amper so geval toe Ivor laas saam my gery het en ek 'n stuk aarde in Koedoeskop net so kilometer of wat verder gekoop het. Ek lê onder die getroue Rush wat bo op sy Baas tot stilstand gekom het teen 'n skuinste. Ek skop my ysterperd van my af, nou glad nie meer tevrede met my hantering nie, van onder vra Tim of ek okay is en ek antwoord in Spaans, Tim antwoord terug Aah no man.

Onder gekom draai ons links, Tim vertel myiemand het die grond gekoop en is aan die regmaak, ons vind 'n vreemde hek wat ons van geen kant ken nie, draai om want ons moes die afdraai na JD Ross gemis het, ry te ver terug, draai weer om, ek kan iets onthou van 'n kilometer in die pad af en ons soek die pad waar ons ingekom het wat nou net spoorloos in die donker nag verdwyn het, na 'n moerse gesoek kry ons die pad en ek met 'n kilo af, kom weer voor die vreemde hek te staan, klim bo oor en vind die afdraai na JD Ross nie eers 200m verder nie.

5H10 stap ons by Toekomst se deur in en 'n halfuur later weer daar uit, kry van die anner manne oppad uit wat by Koedoeskop geslaap het, op die lang entonige pad na Darlingtondam vat ons 'n vinnige 25 minute catnap en ligdag val ons die Gwaas aan, dit wil wil reën, snaakse weer. Ek los weer vir Tim die vinniger klimmer, ek weet die plan is Hadley vir my, Tim wil eintlik in die stikdonker nag Modor betree, maar ek is nie so lus vir sukkel nie. By Koffielaagte gewaar ek 'n paar fietse wat seker kom koffie drink het, ek is nie baie lus vir gesels en tydmors nie en hou verby tot ek skuiling van die wind kry oppad na Perdepoort, stop vir 'n rukkie, nuttig 'n pyl en 'n broodjie en val weer in die pad.

Met die afgaan slag gewaar ek iemand wat 'n catnap vat, lyk vir my soos Tim, wat beteken dat ek nou voor hom is en iewers ook 'n catnap kan nuttig, wat waarheid word by die Kleinpoort afdraai, nie te lank nie toe daag Tim op, sy plan nogsteeds Modor in die stik donker en ek laat hom gaan, die ander manne kom ook al laggend verby, baie snaaks die racing snakes wat verby jaag en dan onder 'n bos neerdonner, 'n rukkie slaap en dan weer verby donner.

Die pad van Kleinpoort na Bucklands is belaglik swak, ek en my Rush is die hele pad vol opsoek na 'n gelyk stukkie, om dit te vererger is daar 'n hewige headwind wat dinge verder vertraag, Bucklands soos Rhodes, Willomore en nog 'n paar plekkies is een van daai plekkies wat ook nooit nader kom nie, jy gee jou alles maar die plek kom net nie nader nie. 15H40 val ek by Bucklands se deur in, Hannes is nie daar nie, maar ek en sy wederhelf gesels lekker, haar dogter is bevriend met 'n jongman wat ek baie goed ken, so tussen die gesels deur hap ek aan iets om net 'n halfuur later weer die tog aan te pak na Hadley, 'n plekkie waar ek nog nooit 'n voet neergesit het, ek het 'n idee waar dit is maar die onsekerheid wel op in my, waqt gebeur as ek verby donner, wel dan donner ek maar aan tot in Modor sal seker vir Tim iewers daar vind.

'n Bakkie kom verby, toevallig 'n buurman van Oom Bennie, dis soo plus minus11km aan, afdraai regs die berg in en ek ploeter voort tot ek die afdraai kry, snaaks ek het die plek altyd voorgestel as 'n rondawel met 'n kers en hier bevind ek my by die vriendelikste mense, by 'n huis met krag omring met die mooiste sterre en Tim se fiets op die stoep. Tim het besluit om Modor is in die nag te los, ons kan 3H00 ry en dan behoort ons dit te maak, wat 'n welkome gedagte !!!!

No comments:

Post a Comment