6/12/2017

Dag 1 PMB tot Centocow

Blybaar nie 'n dag vir foto's nie, ook nie vir 'n vet seuntjie nie, gelukkig dink ek daar is nou net 6kg oor van die spekkies liquid energy. Wonder bo wonder het ek ook nie gekramp nie, dis 'n eerste vir my. Ek het gedink ek gaan soos 'n riet bewe wat die rittel dans doen.....

Maar dat ek vandag gesuffer het is 'n feit soos 'n koei, dit het maar baie moeilik gegaan, was ook nie baie lekker om heel agter, en ek bedoel baie ver agter almal te ry nie. Die krummels en die spore wat die manne vir my gelos het is lakal toegewaai en om die tog vir my swaarder te maak het my seat post clamp besluit om my saal stadig te laat sak, dink toe maar 'n Boerepatent uit so in die sakkery, sy 'n lee coke bottel en maak vir my 'n spacer en siedaar bly die saal bo.

Die Umkomaas is weer in vloed, ek wil nie omry nie, dis teen my beginsels, die koue water is goed vir my moë spiere en vandag is weer vrek warm, niemand is nog deur nie en ek soek 'n plek, maar dit lyk nie goed nie. Ek kry sulke terugflitse van 2011 toe die rivier my amper vrek gemaak het toe die waters my onder 'n doringboom vasdruk en besluit toe maar op die ompad, al soekend na 'n deurkom plek sonder sukses. Maak my water vol by Hela-Hela want ek weet dit gaan 'n lang tog wees tot bo en bloed sweet gaan daar baie wees, wonder bo wonder ry ek nogal 'n groot deel, maaaar toe ek begin stoot toe stoot ek bloed tot bo.

Na 16h00 val ek by Dana van Allandale in, baie later as gewoonlik maar ek is daar sonder krampe, spietwit van die salpeter uitgeslaan, heel aan die tam kant, ek wonder so vlugtig of ek nie dalk moet oorslaap nie, gelukkig net vlugtig. Ek val weer in die pad netso voor donker, dit het al met die tandem gebeur toe ons ook in die donker weggetrek het, gelukkig is my kennis van die roete goed en die sterre lei my in die regte rigting, met so klein draaitjie natuurlik, maar in die regte rigting.

By Donnybrook koop ek vir my 'n coke en 'n melkie en toe 'n pakkie Pieter Stywestaan, ek rook gewoonlik nie op die Challenge nie, maar gewoonlik is ek fiks en vinniger, en gewoonlik rus ek nie so baie nie en nou soek ek sommer net verskonings om die pakkie twak te gekoop het, feit is ek is verslaaf, swak en lus vir 'n sigaret en ek het nou 20 van die pyle....

Met 'n pyl in die hand loer ek die sterre en die liggies van Centocow in die verte, regtig nie gedink ek gaan die liggies op die eerste dag sien nie, maar nouja daar staan ek en loer vir hulle en net so voor 10 val ek by die deur in, die hele plek net vir myself.

Die feit dat ek nie gekramp het nie kan ek seker toe skruif aan die goeie raad wat ek gekry het, pace jouself,  wel my pace het baie loop en stoot ingesluit, Hela Hela se 1000m klim bly 'n bliksem en ek het vandag amper die hele helse ding uitgestoot.

More is nog 'n spekkie brand dag, hopelik brand ek al die spekkies op voor Rhodes, dan kan ek dalk begin race....

No comments:

Post a Comment