6/25/2017

Anysberg - Trouthaven


Net na een val ons weer in die pad Tim nog nie heel lekker nie, ek so ent voor hom, sy liggie so ent terug vol my, by die Touws rivier herenig ons weer en so ent aan is dit weer tyd vir my vir 'n visgraat maneuver, wat nou 'n heel irriterende beweging word, ek moet die enjin voer, maar sodra ek iets sensitief voer wat blykbaar omtrent alles is moet dit uit. Tim nogsteeds net met sy voorbriek is bietjie versigtig vir Oubergpas, dis weer 2.Moer koud en net voor die pas begin vat ek 'n vinnige catnap net om die slaapmonsters te verjaag sodat ek wakker kan wees teen die afdraande.

Na so 25 minute in die snerpende koue vlieg ek op, my lyf opsoek na hitte, ek ry my soort van warm teen die laaste paar opdraandes en met 'n slaapmonster op die rug bevlieg ek die pas, slaap slaap snel ek verby Tim, dis 'n 30 kilometer afdraande waarvan die eerste 15 kilometer redelik steil af is. Traantjies vries weer op my gesig en asof dit nie genoeg is nie ry die slaapmonsters my ook bloots, die koppie knak en netso voor elke skep draai skrik ek myself wakker in die sewende hemel in, gooi 'n slaapmonster af, net om plek te maak vir die volgende een. Hierdie keer is ek gewapen met al my klere aan, reënjas galore, maar die koue, nou my vriend wat die slaapmonsters weghou, byt in my siel in, op 'n stadium weet ek nie wat erger is nie, die slaapmonsters of die koue wat my vingers weer heel van vooraf vries. Al wat oorbly is om te trap om by Mantagu uit te kom en net na 6 val ek by die Bath Hotel in waar ek vermoed ons bly. Ek vra uit oor waar die ander manne se fietse staan en dit tref my dat ons nie daar slaap nie, ons is stop is by die Bos so ent af in die straat. Ek kort Barone's vir energie en 'n pakkie twak om my vingers warm te maak en hulle beduie my na 'n kafee op in die straat en ek vat pad, los die fiets eers daar, en so dwaal ek van die een kafee na die volgende tot ek in die Spar eindig en my aankope maak.

Ek kry vir Tim in die straat en so herenig ons weer saam met die ander manne by die Bos, hulle is haastig oppad Trouthaven toe, ek moet batterye laai en spring eers onder 'n warm stort in net om lewe in die gebeendere te kry, so halfuur later val ek weer in die pad. Die huimwee pak my beet, is hierdie werklik my laaste Freedom Challenge en ek probeer elke laaste krieseltjie ervaring opraap.

Net na die rooibrug pak die moegheid my weer, daar's 'n lappie groen gras langs 'n huis en ek sak neer vir nog 'n catnap, sommer so langs die besige pad. Kyk as 'n man moeg is, is jy moeg en slaap kom maklik, dis soos 'n skakelaar wat jy afsit, jy hoor sommer hoe raak jy aan die slaap. Baie van die ander vra altyd hoe kry ons dit reg om so vinnig aan die slaap te raak, baie maklik as jy werklik moeg is maak jy net jou oë toe en slaap. So slaap ek vir 'n halfuurtjie of wat, tot 'n bakkie met 'n bekommerde vrou my wakker maak, is ek oraait, ja antwoord ek, rus net bietjie......

Dis toe sommer ook my que om in die pad te val, by McGregor aangekom word die batterye eerste gelaai, ek maak vir my 'n lekker boere ontbyt, die selfoon word ook gelaai, ek bel vir Melanie, hulle is al by Diemersfontein, wag vir my en ek sit en top of ek Stetteyns in die nag gaan aanval, om daarvoor te voorsien moet die batterye vol gelaai word en ek vat so 40 minute breek op die bed in die sonnetjie.

Dis nog 108 km na Trouthaven en 'n nuwe pad, gelukkig het ek myself bewapen met 'n gevalle makker se kaarte en aanwysings, Boet werrie het my verseker die pad is nie te moeilik nie, moet sê die nuwe deel is nogal mooi seker omdat dit 'n nuwe roete insluit. Net voor die Villiers pad stop 'n boer my en vra my of ek aan die Freedom Challenge, ene Els as ek reg kan onthou, ons raak aan die gesels oor die race, hy baie belangstellend, sê hy's te oud, 50 jaar is glad nie te oud nie antwoord ek dis net die regte ouderdom om te begin, hy bied koffie aan by sy huis so entjie terug, maar ek wil klaarmaak en val weer in die pad die donker nag in.

Naby Brandvlei bel Boet Werrie weer, kry wer die versekering dat ek goed doen, die ander manne het nou net by trouthaven ingetrek, gaan ek Stetteyns die nag aanval ? Ek is nog nie seker nie, Trouthaven sal bepaal, ek gaan of my waterval roete of Theo se roete vol die hakia roete wat Martin gevang het gaan ek te alle kostes vermy, al probleem is ek het eenmaal 'n handgetennde kaart van Theo onder oë gehad en ek is nie heeltemal seker oor die roete nie, die waterval roete is moerse steil en nie vir die nag bedoel nie. Ek kan die kans met Theo se roete vat, maar dan het ek ook al vir Tim sien rond dwaal in die nag op die roete, Trouthaven sal bepaal, dit en die hoeveelheid lig wat ek het, glad nie lus om sonder lig in die kloof gevang te word.

22H10 stap ek by Trouthaven se deur in, my gewone slaap plek op die bank is gereserveer, ek eet iets, drink twee koppies koffie en gee toe aan my bank, more maak ons klaar.......

No comments:

Post a Comment