6/24/2017

Gamkaskloof - Anysberg


Die nagrus was so lank ek droom ek's klaar en spring verward op toe my horlosie alarm afgaan, Gerhard het vir my 'n lekker koppie Boeretroos gemaak, toe ons by die ander manne kom slaap hulle nog heel snoesig, ons trek toe maar so bietjie later as die beplande 5H00 weg, eintlik goedso want dis 'n mooi deel van die aarde die. Met eerste lig kry ek die geleentheid om vir Gerhard die leer in daglig te kan wys, dis 'n steil klimmetjie wat ons so 45 minute neem tot bo, ook maar goedso want toe knak my kniee en raak ek dringend opsoek na 'n bos......

Gelukkig is ek vandag gewapen met 'n rol witgoud, die visgraat maneuvers het my lam gelaat, die kraggies is maar min en ek bly maar bang om iets te eet, sip sip maar so aan die Game, ek en Gerhard gesels lekker en ek geniet die visterman van die Baai, dis 'n voorreg om 'n man se eerste ervaring op die Freedom te deel. By die selfoon sein punt bel Boet Werrie my, ons doen goed sê hy, my mening is die 13 dae beplanning is besig om stadig uit my hand te glip, maar nouja ek kan dit nog doen, gaan net 'n nagmars wees op in die kloof..... Tim het by die ou murasie net voor Sewe weeks kloof geslaap en as ek roer kan ek hom by Rouxpos vang, die man se maag was heelblyklik nog nie gesond nie en het hom vermoedelik terug gehou in die koue nag. Ek bel sommer ook vir Mel en die kinders, gaan 'n lang trek wees voor ek weer met hulle kan praat, Alison land more in die Kaap en ek wil bitter graag Sondag klaarmaak, ek weet dit gaan maar bars gaan, as ek net my maag intoom kan kry en krag in die bene in kan pomp en nie onder die bosse in nie.......

Die Rush se wiele sing weer, dis 'n lekker grondpad en ek klim sommer uit die saal teen die opdraandes, Gerhard is so entjie voor my en ek vang hom op die laaste opdraande by Horlosiekrans, kyk my pikante lyfie is mos nie gebou vir opdraandes nie, maar vir die platpad en afdraandes is hy heel geskik en dis dan wanneer 'n kombinasie van krag en gewig inskop. Ek vlieg verby Gerhard, mens kan gemaklik 70 km/h + haal teen die afdraande, maar vandag waai daar 'n windjie wat my bietjie terughou en ek aanvaar die 64km/h openhartig. By die Rouxpos afdraai groet mense ons vriendelik by die eerste huis, wil weet wie's die Hyena, 'n bynaam wat ek so paar jaar gelede gekry het, kyk die Hyena kom mos van agter en eet al die scrapies langs die pad tot hy voorkom. Ek het nie bokse nie, nie roete aanwysings nie en ook nie kaarte nie, die enigste kaart wat ek het is die een wat oor die jare in my peanut in ge-ets is en so nou en dan wenk ek ook maar af van die kaart......

Ander byname wat ek al oor die jare gekry het is Kommandant van die Boere komando in 2009 toe ons vir Alex die Ingelsman tot by die wenpaal gejaag het, daarna het ek die Nagapie geword, seker maar oor my grootoog deurnag ryery, Ivor het my Korporaal gedoop, seker maar omdat ek so kwaai was......

Hierdie jaar is ek blykbaar al die name, soveel manne wat weer ry oor verskillende jare en elkeen onthou 'n ander bynaam.

By Rouxpos geniet ons weer Tannie Ronel se lekker kerrie en ry en daai wafel en roomys, hulle vra my of ek weer volgende jaar gaan ry en ek antwoord soos elke jaar plegtig nee, maar die keer dink ek is dit regtig so, ek vat so 25 winks terwyl Gerhard sy fiets nagaan, eintlik gaan Gerhard sy fiets na omdat ek 'n 25 winks wil vat.

Ek en Gerhard val weer in die pad en die man is heel in vervoering oor die mooi stuk aarde waarheen ons nou ry, hy is ook heel verbaas oor hoe ek sonder kaarte en aanwysings ry, my peanut werk in landmerke en ek verbind net die landmerke met padjies aanmekaar, so maklik soos dit. Ons gesels oor alles, my vorige challenges, dat jy die race nie alleen kan aanpak nie, jy nodig jou Skepper en dan jou geliefdes, oor foute wat ek in die verlede gemaak het, oor hoe nederig die roete jou maak, my spesiale support station familie en oor David Waddilove se geniale visie om die roete uit te lê. Ek geniet die klong se geselskap, hy is 'n harde werker, lief vir sy vrou en kinders en avontuursoeker wat deur Hestelle van Damsedrift oortuig is om die race te doen. Hy neem hordes foto's soos wat dit hoort te wees en ek voel sleg oor die paartjies wat ek geneem het, snaaks hoe jy oor die jare verander, ek het die eerste jaar seker 500+ foto's geneem, nou soek ek elke dag net daai een spesiale foto wat my vorentoe beur.

19H15 val ons by Anysberg in, Bugs en die ander manne mik vir Montagu, my maag grom nog, Tim s'n ook, hy gaan oorslaap na die koue nag eskapades oppad na Rouxpos en eensklaps voel ek verplig om agter te bly. Ek skerts met Tim of ons die dubbelbed gaan deel, daars 'n dubbelbed en twee banke, ek soek nog 'n kombers vir my bank toe sê Tim ons kan die bed deel op voorwaarde ek gesels nie die heel nag nie, en so oomlike later betree ons rug aan rug droomland, eintlik nie droomland nie, daar's nie tyd vir droom nie, ons skakel net af, 1H00 sal ons weer in die pad val.


No comments:

Post a Comment