6/14/2017

Dag 3 Glen Edward - Malekholonyane

Martin wil of kan nie slaap nie, ek hoor die man skarrel in die vroeë oggend ure, hy is soos 'n opgewende hop balletjie met rooimiere, kan nie stil nie. ek staan toe maar op terwyl hy so skarrel.
Hy moet ry vertel hy my, iets jaag hom, is opsoek na die sleutel van die hek, ons vind dit en hy val in die pad sonder dat ek 'n tree saam hom gestap het.......prewel iets van Alex, JT en Leon

Ek het self 'n belofte aan JT, my raadgewer gemaak, iets van hy kan my dalk sien of nie sien nie, ou grootbek en stellig na 'n boere breakfast val ek ook in die pad met 'n dringendheid, kyk heeltyd terug soekend na hul liggies in die donker nag.

weet nie of ek hallusineer nie, maar elke nou en dan gewwr ek liggies wat my agtervol en dan trap ek om voor te kom, vroeg oggend by Masakala, grou weer deur die oorblyfsels om iets voetsaams te vind, laai gou die ligte en die foon, nie dat dit nodig is om die foon te laai nie, want smaak my MTN het heeltemal ontrek uit die geweste. Jaag gou 'n bord marog en opgekookte hoender deur my keel en val in pad, ek moet voor die jaers bly.

So jaag ek tot by ons Coke stop net voor Mpharane, koop 'n coke, 'n melkie en dink 'n sleg verskoning uit vir 'n pakkie Stywestaan Rooi, hier gebruik die manne net sterk goed en dan nog sterker omkyk twakkies wat ek nie wil probeer nie. Die rokery pla my, en ek los die pakkie Stywestaan, het nog so pyl of wat oor, eintlik hou dit my terug, maar as 'n man verslaaf is dink jy mos altyd baie goeie redes uit hoekom jy moet aanhou......

Op Mparane ridge rook ek my laaste pyl, neem die besluit om op te hou, hopelik kan ek aanhou ophou, die tyd sal leer, eintlik is ek seker maar net baie vir Lehana's........

Ek ry lekker en is weer laaste lig op my merke op Malekholonyane se stoep, kry vir Anton Wood en makkers daar, grou weer deur die oorblyfsels vir iets om te eet en kom op 'n kompas af, nie die eet tipe nie, die rigting tipe en ek het nou mos al in my moer verdwaal omdat ek nie die belangrige item byderhand gehad het nie, neem hom toe maar saam met so hand vol neute en sweeties wat al die kinders soek. Nie te lank daarna nie daag JT en Leon op, hulle het my en lig my in dat Alex uitgeval het. Die race bly 'n bliksem, maak nie saak wie jy is nie, hy bekruip jou en sluk jou heel in as jy nie op jou hoede is nie, dit al te veel gesien in die verlede en ek wonder so by myself wanneer word ek gesluk.

JT en Leon voel goed, lyk goed en is lus vir jaar, hulle sal 'n kamer met my deel en more saam my in die pad val, dis nou te sê as ek nie snork nie, wat toe nou nie die geval was nie, JT was toe die snorker....


Die spekkies brand en dit wil wil voel of ek sterker word, gelukkig teen die tyd wat ek in Rhodes aankom, behoort ek weer so sterk soos die ou Rusland te wees, ek is agter op my beste tyd, moes vanaand in Tenana geslaap het, gelukkig nie baie ver agter nie


Melanie en die kinders, wil graag hê ek moet jaag, ek voel ook soms so, maar die bene nog nie heeltemal nie.

More mik ek vir Rhodes, laat ons maar sien hoe die geveg hom uitwoed.

No comments:

Post a Comment