6/19/2017

Elandsberg - Gegun


3H00 val ek weer in die pad, dis 'n lekker lang afdraande na die Visrivier, ek is agter my 2014 race, die keer het ek in 'n skaapstoor netvoor Tam Safari's getiep, het ook eers in die vroeë oggen ure daar uitgekom en toe in 'n paar Buffels by die oorkantste hek vasgeloop. Die bene voel goed maar die slaapmonsters pla en by dieslfde stoor sak ek weer op 'n paar skaapwolle neer vir 'n vinnige 25 minute catnap, in die donkernag vlieg ek weer op, ek moet inhaal op myself. Vir die dot watchers en buitestaanders lyk dit baie keer of ons iemand jaag, maar dis nie altyd die geval nie, meeste van die tyd jaag mens 'n persoonlike doelwit en soms jaag ek die odd Ingelsman veral as jy sy sweet kan ruik.
Moet eerlik sê ek sal daarvan hou as ek weer vir Tim kan vang, maar dan hunker Mike Potgieter vir my en dis goeie aansporing.

Ek hou die splits dop by Newlands, Mike, Fjord en Tim is net 'n paar ure voor my en ek is bykans op dieselfde tyd as 2014, moet nou net my gat roer dan kan ek dalk 13 dae doen, Boet werrie bel my op die lang opdraande na Newlands, vertel my ek lyk goed en moet netso aanhou dan vang ek hulle nou-nou. Ek vlieg verby Rockdale en Oom Gawie die Schufteberg uit, jaag na Jakkalsfontein en vat gelukkig die afdraai regs, as Boet Werrie my nie per toeval ingelig het van die regs swenk nie kon ek dalk 'n baie langer paaitjie links geneem het. Die Cannondale Rush is lus vir jaag, wil net vinniger en vinniger, ek is eindelik racefit en die pad is of plat of afdraande met 'n matige wind van voor, ek sê matig want in Vredendal waar ek bietjie ge-oefen het waai die wind bedonnerd. Die Rush sing die pad af ek hou hom bo 40km/h en spoedig klim ek die berg uit by Tollie's Safari's, die manne se spore lê nou vars in die grond, ek maak Struishoek ligdag en ek weet ek is voor my 2014 persoonlike beste.

Struishoek portage en dis presies wat dit is, 'n moerse lang klip besaaide afdraande waarteen jy afboender met jou fiets op jou rug terwyl jy die wit gekalkte klippe volg wat Oom David se volk vir ons geverf het volg sodat jy nie verdwaal nie. Laaste lig is ek onder en sonder om te aarsel klop ek aan Oom David en Tannie Verity se voordeur, hier moet 'n man groet, baie spesiale mense wat al baie spesiale dinge vir my gedoen het.

Ons groet soos lank verlore familie, vra mekaar uit oor hoe dit gaan, Tim soos ek hom ken het ook kom groet, ek tap vir my water gee 'n stywe handruk en boere druk en val weer in die pad, ek is nou amptelik voor my persoonlike beste, seker maar omdat ek afstand gedoen het van die oorblywende  pakkie pyle in Elandsberg. Ek vat die teerpad, my sweeties en choccies is op en ek wonder hoe Pearston lyk, net 'n kilometer verder van die afdraai en ek besluit om my nuuskierigheid te bevredig en te gaan kyk en wat sal ek vind ? 'n Raserige dorpie met 'n indringer kafee, koop vir my 'n pakkie Simba, 'n Coke en twee Barone's en so wragtig hulle het Pietie Stywestaan Blou, my smaak en daar swik ek en koop 'n pakkie, geniet 'n pyl op die voorstoep en sluk die simba af met 'n koue coke, terwyl ek die baie vrae antwoord : Wat's my naam, van waar kom ek, waantoe gaan ek en dan die beste : Is jy Mal ?

Dis so 35km of wat na Gegun en ek vang wrede spoed, die Rush soek pad, dan links, dan regs, dan in die middel, anders as die ander plekke werk MTN verbasend, maar hul padskrapers verseker nie, my nekspiere is gedaan en ek sukkel om die peanut bo te hou, loer maar so onder deur die hemet.

8H40 by Gegun  herenig ek weer met Tim, baie trots op myself, jaag gou iets deur die pens, sluk 'n koffie of twee en bewonder die sterre met 'n pyl in die hand, Tim wil middernag wegtrek en ek moet saam, hy sal my wakker maak, nie tyd vir stort nie net vir slaap en ek stem heelhartig in......

No comments:

Post a Comment