6/22/2011

Dag 6 n baie siek Dag

Was veronderstel om 3H00 saam met Glen te vertrek, toe al my planne 1H00 verander met n maagontploffing, 15 minute later 'n erger ontploffing. Teen 3H00 is ek 'n gekwalifiseerde spraypainter, ek het al die gang en die hele badkamer geverf, maak dit nou al met die tweede spray slag tot by die toilet. Nogal snaaks hoe vinnig rehidrate van kleur kan verander. Glen en Andrew wil hê ek moet saam, maar ek dink nie so nie, om 'n bib teen die spoed van weerlig af te kry gaan nie werk nie. Val maar toe terug in die bed, waar ek die heeldag spandeer het, kry myself baie jammer, oorweeg dit self om tou op te gooi, al my beplanning en oefening in 'n oogwink opgedonner, indien ek wil aangaan sal ek eers gesond moet word.

Ek was lanklaas so siek, het eenmaal voedselvergiftinging opgedoen tydens 'n 12 uur oefen sessie waar ek met kabanossie ge-eksperimenteer het, dit was die vinnigste wat ek nog ooit 5kg verloor het..... en die gevoel wat ek nou het voel dieselfde, ek is besig om 'n padjie deur te trap na die badkamer. Andrè se arme kinders help al om die oom se gemors skoon te maak, die oom se enigste krag lê nou in sy maag ontploffings. Niks wil binne bly nie en ek besluit toe maar om die kiem uit te honger en eet niks nie, lê net en probeer die kiem dood honger. Elke keer as ek poog om op te staan, gee my maag 'n wille draai en vel my weer op die bed neer, ek baklei nie meer nie, lê maar net.

August daag op en praat my moed in, so ook Estelle en Errol en daar daag Tim op en sy beplanning werk ook nie lekker nie. En ek besluit hierdie ding gaan ek klaar maak al is dit net vir die Miles for Smiles kinders, maar klaarmaak gaan ek klaarmaak al grom my maag nogsteeds vir my, dit bly darem nou al binne.

Andrè maak vir my swart gebrande rooster brood, 'n ou boere raad vir 'n omgekrapte maak, die aanbrandsel verdryf die klieme met elke happie en stadig kry ek weer kleur, nog nie krag nie, maar kleur en lewe. Met aandete besluit ek om 'n klein bakkie yougurt aan te vat, net om die nodige bakterie terug in my maag te kry om die kieme finaal te oorwin. Gedihidreer en pap val ek in die bed, ek, Tim en August gaan more vroeg in die pad val, wel eintlik gaan ek 'n poging aanwend en hoop vir die beste.......

Dag 5 Rhodes Slaapkranz

Die beplanning was Moordenaarspoort, maar my fiets het alles kom omkrap. 'n Moerse lekker dag sonder die Duiwel se wind, trek 7H30 weg uit Rhodes met baie min slaap, ry goed tot in Chesneyworld, Christo reël gou spanners om alles op die frame vas te maak wat los geworstel is.

Glenn kry my daar en in 'n oogwink is hy weg, ek maak seker my fiets is weer in een stuk en val in die pad om Glenn te vang in die hoop dat ons saam kan ry. Glenn  is rateltaai op sy singlespeed, ek moet trap om hom te vang, ek vang hom by die ingang na Kappok kraal, sy maag is omgekrap en hy gaan 'n blaaskans vat. Singlespeed is geen grappies nie en nog minder op die Freedom Challenge, Glenn is 'n ware heer, 'n stil sagte man, altyd tyd vir sy medemens, 'n regte ambasadeur vir die Freedom Challenge, ek hoop regtig om tyd saam met hom op die freedom te kan spandeer en van sy kwaliteite aan te leer.

Oppad na Slaapkranz koop ek vir my 'n moerse plaas, my derailer het mos besluit om kabels te eet, en as jy singlespeed wil ry moet jy die momentum hou. Kyk my lyf is mos gebou vir n afdraande en so vang ek moerse spoed teen die afdraande, ek dog nog ek kruis 'n waterstroom toe sien ek net "sparks" vlieg. Ek moer nie neer nie, ek bliksem sommer neer toe my voorwiel onder die water wegraak en ek doodstil stop teen die oorblywende semet. Nodeloos om te sê vlieg ek kop eerste die grond in, 'n lekker knop op die linkeroog en 'n tweede knie op my linkerbeen en 'n moerse seer linker skouer. My goed lê die wereld gesaai, ek sien net sterre en hoor 'n sisgeluid uit my voorwiel kom. Ek vlieg op om te kyk of alles nog werk, spin die voorwiel om die slym hulle ding te laat doen en kry my gesaaide bagasie bymekaar, karring toe maar aan met die half pap voorwiel na Slaapkranz.

Wat 'n mens nie alles sal doen om glimlaggies op die kinders van www.milesforsmiles.co.za sal sit nie.

Andrè en Joyce van Slaapkranz is my tipe aardse mense, hier word nog gebid  voor ons die kos aanval en dis lewendige smul lekker krag kos, ons sit aan groot eetkamer tafel en ruil planne uit. Marten en Andrew daag daar op, Andrew se fiets se raam het gekraak en sy pa is oppad met 'n ander fiets, daar word oorleg gepleeg met David en 'n tyd straf van 6 daglig ure gaan by die volgende support station uitgedien moet word.
Die beste plan wat gemaak kan word is om Slaapkranz 2H00 te verlaat en dan 6 daglig straf ure by Moordenaarspoort uit te dien en dan weer in die pad te val. Andrew vra ek moet saam met hulle in die pad val en dit klink na 'n bak plan vir my, moet net eers my fiets fix, dan kan ons drie saam die verwoesting van die Freedom Challenge trotseer, en ek het die opsie om weer alleen aan te gaan wanneer Andrew die tydstraf uitdien.......

6/20/2011

Dag 4 Die Duiwelse wind en Lehanas pas

Teen 3H00 verlaat ek die parafien liggies van Malekholonyane, in die stuk donker vorder ek goed deur die donker donga, breek my ketting en buig die derailer in die proses, maak 'n boere plan met die goed, gaan nie vandag big blade nodig hê nie. Dis snaak hoe goed skeef loop wanneer alles reg loop, dis 'n spik splinter nuwe ketting, nuwe derailers en tog breek die goed om 'n duistere rede, seker maar die Freedom Challenge wat so bietjie wil brieke aandraai.....

Met met nuwe lig is ek by Blackfountain, my ontbyt, 'n blikkie sardiens, krag vir die oggend skof en vir die wind wat begin waai. Oppad na Tinana besluit die nou baie ernstige wind hy is lus vir my kaarte en roete aanwysings en met een teug sluk hy alles in, ek poog nie eers om die kaarte agterna te sit nie, so waai die wind, gelukkig ken ek die pad. Op pad na Vuvu versterk die wind sy aanslag op my, alleen veg ek, niemand om te praat nie, net ek en die wind en ons albei praat baie duidelik hoorbaar met mekaar, teen 6km/h stoei ek om die beskerming wat die Vuvu vallei bied te haal.

Windverwaai kom ek  14H30 in Vuvu aan, ek praat nie meer terug met die wind nie, ek gaan nie oorgee nie, alleen sal ek die wind oorwin. Ek weet op Lehana's gaan ek gekasty word en in stilligheid berei ek my voor op die geveg, dit gaan 'n gesukkel wees om die berg te klim met die Duiwelse wind. Teen 15H10 sit ek my geveg voort, gelukkig weet ek elke Freedom Challenger stoei teen die wind, dit neem my 45 min om 8 km na die begin van die pas te ry, moes toe al geweet het dit gaan hel wees. Ek troos my met die gedagte dat die wind maar more ook so kan waai, die bliksemse duiwelse wind waai my en my fiets in die hoogvoor telkemale van my voete af, ek begin woorde gebruik, lelike woorde terwyl die wind net met meer mening die verwoestende geveg teen my voortsit. Ek en my fiets veg die geveg alleen teen die wind, dis 'n helse kopwind en daar is nie tyd vir rus nie, ek poog om die skaapkraal in daglig te haal, maar die wind het ander planne met my, hy probeer in my kop inklim in die aleennigheid, in die proses fokus die wind my meer.

Ek word telkemale deur die wind omgewaai, leopard crawl dan na die naaste beskutting, kry my kop in rat en veg dan voort, dit word donker en die wind se verwoestende aanslag bekruip my om elke hoek en draai, ek koes agter die kruine oppad na die skaapkraal sonder enige verslapping van die aanslag teen my, dit voel of ek van alle kante aangeval word. In my geveg met die duiwelse wind verloor ek fokus op my pad en skielik bevind ek my op 'n kruin wat te styl is om te klim, jy volg die kruin na die skaapkraal en swenk dan links, maar hier in die donker nag met die wind se aanslag uit alle hoeke bevind ek myself op onbekende terrein. Ek kan nie die container sien nie, dis stik donker en as jy jou kop lig in soeke na bekendheid dwing die wind jou op jou kniee. Ek kan onmoontlik nie reeds verby die skaapkraal wees nie, ek kan nie die kruin volg nie, dis heeltemal te styl, linksom wil ook nie werk nie en to beer ek maar regsom, dit voel of die wind my in die afgrond gaan afwaai, ek maak dit en kom so 100m van die skaapwagtershut uit. Dank Vader ek is nog op die regte spoor, die Berg behoort meer beskutting te bied teen die snerpende verwoestende wind, ek swenk links in die skaap padjie, die wind is matiger, maar dwing jou steeds tot oorgawe met 'n geboë hoof. Ek volg die kontoer, die beskutting teen wind laat my vergeet om stadig te klim na die container, ek doen 'n ekstra kilo of wat en weereens bevind ek myself op onbekende terrein in die stik donker met die wind wat my uit alle rigtings aanval, ek weet waaragtig nie waar ek is nie, ek is op die berg op die punt van 'n kruin. Ek kan nie verder links nie dan gaan ek af, in die verte aan my linkerkant sien ek helder ligte van 'n beskawing, aan my regterkant sien ek die rooi ligte van die selfoontoring in Vuvu, waar de moer is ek ???

Al genade is op, boontoe teen die verwoestende wind, die wind kom uit die weste en ek moet wes gaan teen die wind en boontoe tot ek iets bekend raak ploeter. Ek vind 'n heining wat vaagweg bekend lyk en ek volg die heining tot op 'n plato en steeds het ek nie 'n idee waar ek is nie, al gendade is maar om die heining te volg, die heining sal my een of ander tyd by 'n pad bring wat my na beskutting sal lei. Ek vermoed ek het dalk in die duister bo oor die container geploeter, dis dalk die plato aan die agterkant van die container, die rigting van die heining voel reg en 'n gerustheid sak oor my neer in die dolle geveg met die wind. Nog 'n kruin verskyn in my lig, wat de donner nou ? My gerustheid dat ek op die regte spoor was word eensklaps van my weggeskeur deur die donker duistere wind, al genade wat oorbly is maar om met die lewensaar van 'n heining aan te moer, die grensdraad beur links en neem my saam op die onbekende pad en in die duister verskyn 'n spoor in die sneeu, hier was mense !!!

Ek volg die sneeu spore langs die genslyn, 'n afdruk van 'n fietswiel verskyn en ek skeur my gerustheid terug uit die kake van die duisternis, ek weet waar ek is, ek bevind my in die gully agter die container, iewers het ek 'n baie wilde draai gemaak. Daar is niks soos die gevoel van gerustheid op die Freedom Challenge wat oor spoel en rtustigheid oor jou bring soos die wete dat jy op die regte pad is nie, ek dank die Here dat Hy my op die regte pad geplaas het, die verwoestende wind en die duisternis het plek gemaak vir vrede.

Wat 'n 70 km/h afdraande na Rhodes moet wees word 'n 11 km/h ry en stoot sessie, vat my amper 10 ure om net 50 km af te lê, die wind het geen genade nie, dit wil nie los nie, ek weet ek is op die regte pad, maar die wind probeer meet ten alle koste breek. Ek verloor dit amper in die laaste 10km na Rhodes, dis 'n meedoënlose geveg teen die wind en moegheid en dit voel of die beskutting van Rhodes net nie nader wil kom nie.1H00 die oggend bevind ek my in die snerpende koue voor dooiemans deur in Rhodes Hotel, moeg geveg teen die Duiwel se wind, gatvol gesukkel met niemand wat oopmaak en my na warm beslutting wil lei nie. Na 'n halfuur se gesukkel maak die opsigter vir my oop, ek verorber 'n bord lewelose kos warm gemaakte kos, vang 'n warm bad en sak soos 'n dooie os op die bed neer vir 3 ure slaap, ek nodig om kragte op te bou vir more se geveg, want die wind gaan nie maklik lê nie.

Dag 3 Banchory - Malekholonyane

Ek en August staan lekker uitegrus 4H00 op, dis weer vrek koud, August is die keer gewapen met ordentlik handskoene, vorige ervaring het hom geleer dat blou mediese rubber handskoene nie voldoende beskerming bied nie. Ons vorder goed, August se knie pla baie, maar die geselskap maak op vir die seer, ek en August vang 'n blaaskans op ons ou plek net na die Klein Umzimvubu rivier, hy weet nie of hy verder as Masakala gaan maak nie, maar ek glo ons gaan.

Die dag omvou tussen jaag en stotter, ek jaag om Malekholonyane te maak, en August met sy seer knie klu soos 'n bosluis om by te bly, stop vinnig my Masakala om vorraade aan te vul, nie tyd vir eet nie, ons moet malekholonyane vandag nog maak. August kry sy mediese voorraad en ons val in die pad, daren baie meer plat en nie te ver om te ry nie. Stop vir 'n vinnige Coke by Queens Mercy voor ons die tog hervat, wil so na as moontlik aan Malekholonyane  kom voor die donker ons vang.

In ligdag van die Mpharane kruin af net om vas te val in 'n gevreesde modderspul net voor die Gladstone opstal, August verloor sy skoen in kniediep modder, delf hom na 'n paar minute se gesukkel uit die modderskul uit en met laaste lig betree ons malekholonyane se stoepe. August se knie is gaar en ons tog van twee dae is klaar, hy gaan dit more stadiger vat en ek is weer op my eie. Hoor Andrew barnes en Martin Dreyer is op my spoor, sal heel moontlik laat nag die kamer saam met ons kom deel, hulle is iewers tussen Queens Mercy  en Mpharane. Ek sal my fokus moet opskerp en my gat roer as ek in my 12- 13 dae doel wil slaag, selfverseker met 'n nuwe plan raak ek aan die slaap. 1H00 word ek wakker, dis Andrew en Martin, hulle het vieslik verdwaal op die Mpharane kruin, vir 2 ure in die donker rond geploeter, eindelik die pad gevind en toe in dieselfde modderspul gaan vassit, Andrew is duidelik nie baie gelukkig met die stand van sake nie. My beplanning was om 3H00 weg te val in die pad, maar met Andrew en Martin op my hakke besluit ek dis 'n goeie tyd om sommer nou weg te spring, 'n ekstra uur slaap gaan nie 'n verkil maak nie, ek roep August vaarwel en val in die stuk donker nag so op my eie in die pad, nie eers 'n skaduwee om my te begelei nie.

Voel baie beter, August se knie nog nie heeltemal reg nie, ek verlaat my goeie vriend van 17 dae.

Nevermind  Generaal Crous my vrou het gepraat, iets van Alex is besig om vir my weg te jaag en dan is daar nog 'n spul wat my jaag ook. Voel heelwat beter, net die hoesie wat nog pla. Vandag was n baie voorbeeldige dag, Crous sou baie trots op ons gewees het, so reguit soos n naald na die plekke gery !!!

Dag 2 Centocow - Banchory


Baie vroeg oggend in die ysige koue val ek in die alleen in die pad, die Kruger broers dink ek is mal, maar ek weet alleen beweeg ek baie vinniger as saam met iemand, Marie het my laat weet August wag by Ntsikeni, sy kniee is nie lekker nie, maar my aansporing sal hom dalk motiveer om die dolle jaagtog voor te sit. Ek geniet middagete en August kom te voorskyn, hy het Ntsikeni amper in een haal gehaal maar betaal nou die prys met 'n baie seer knie. August is half moedeloos, maar ons jarelange vriedskap van 15 dae spoor hom aan, my plan was om Masakala te haal, maar Banchory saam met 'n lewenslange vriend sal doen, more voel hy beter en dan kan ons weer jaag.

Die pas is stadiger, maar die geselskap is uitstekend, ek verloor bietjie fokus, maar tyd saam met my bloedbroer is baie beter, in die stilligheid hoor ek op 'n spoedige herstel vir August, ek weet hy kan, maar ek sien ook die knie pla maar baie. Met laaste lig besluit my agterste ratkabel besluit om die gees te gee so 15 km van Banchory, 'n klippie om die derailer te spraq sodat ek die regte rat kan kry sal moet doen tot ek herstelling kan maak in die lig by Banchory. Die teespeod ry my, eers die duikboot sessie in die Umkomaas en nou sommer die gebreekte kabel op my tweede dag, Banchory sal maar moet doen.

Gelukkig het ek 'n spaar kabel en in die koue van die aandlug herstel ek gou die probleem, dalk beter vir August om 'n blaaskans te vat, klink my Alex beplan om in Masakala te slaap, darem nog nie te ver voor my nie. August het gereel vir medikasie in Masakala, nou vir lekker warm slaap en more kan ons uitgerus weer vir Alex jaag.



6/16/2011

Dag 1 Marnitz leer swem PMB - Centocow

Die 3de jaar wat die die Freedom Chellenge aanpak, die vorige twee jare het my baie geleer en groot gemaak vir die jaar, ek is amper oorgereed, ek weet ek kan dit in 12 dae doen. Die fiksheid soos nog nooit tevore bruis deur my are, ek is selfverseker en gewapen met 'n slaapsak, gereed vir die aanslag, die jaar is my jaar......

So trek ons weg, ek en Alex Harris, en dit met n moerse spoed, die longe is maar nog lekke toe van die verkoue van die vorige week, jy sien net snotbolle trek soos ek die landskap dekoreer. Besluit toe maar om terug te val, August het iets gepraat van ek's nog jonk en ek het nog groen koring op die land wat moet groot.

Soos ek gedink het maak Alex die pap dik aan en gou-gou vang ek die manne wat saam met hom weggejaag het. Ek los hulle by die sement afdraande oppad na die Umkomaas, soos gewoonlik probeer ek die rivier op ons gewone plek oorsteek, die rivier is in vloed, volgens David is daar blykbaar al 'n paar manne wat die rivier suksesvol vroeer die week oorgesteek het, daar is 'n alternatiewe langer roete wat David eerder voorstel. Ek is vol selfvertroue, my beker loop oor en 'n rivier in vloed gaan my nie stop nie, alles gaan goed kniediepte word heup diepte en die volgende oomblik verander ek in n duikboot met 'n fiets op my rug.

Die spulletjie dryf nogal lekker en ek spoel toe maar weer aan die verkeerde kant uit, ek nat en my sak en my goed papnat. Ek weier volstrek om oor te gee en probeer weer met die selfde resultaat, steeds weier ek en probeer 'n derde keer en toe die rivier my onder die water in die takke van 'n doringboom vaskeer en ek vir lewe begin veg gee ek oor. Papsopnat stert tussen die bene klim ek die wal uit, die nat sak maak nogal n aardige verskil in rygerief, blykbaar heelwat stadiger, die ander manne het my weer verby gesteek, ek vang hulle by die Hela Hela brug en met my ekstra nat gewig bekruip ek die Hela hela pas. Hulle dink ek is mal om die rivier in vloed te trotseer, is seker maar bietjie mal, maar 'n mens moet seker maar bietjie mal wees om aan die Freedom Challenge deel te neem.

Gelukkig kon ek vir Glenn en Tim waarsku om nie my truuks te probeer nie. Vroeg lugdag by Allandale, en tewyl ek wag vir my slaapsak en klere om droog gemaak te word geniet ek Dana se lekker rooster broodjies. Die Kruger broers besluit om saam met my die tog aan te pak na Centocow, die verdwaal deel het ek gegoogle, gekaart en gedroom, August het die deel vir my verken en ek is seker ons gaan nie weer verdwaal nie. Maak Centocow teen middernag op die regte pad vir die eerste keer met net n klein detour, Alex se fiets wag ons in, hy was al 18H00 daar, ek weet nie wat sy planne is nie, kom ons kyk maar wat more oplewer.

6/12/2011

2011 Freedom Challenge met bottervlieë

 
Pieter Cordier van DP&L my borg vir vanjaar se FC

Verlede Donderdag klaar gemaak met die gevreesde antibiotika, man kyk dis net goed vir een ding en dis om jou gesond te maak, glad nie vir fiksheid nie. Saterdag weer vir die eerste keer gaan ry in twee weke, dit het gevoel of dit die eerste keer is wat ek fietsry, my hart jaag sommer as ek net 'n bult sien en dis maar baie plat hier by ons. Sondag beter gevoel maar nog nie reg nie, alles pla, my sak, my helmet, my skoene en ek sweet soos 'n vark, ek moes ernstig waak teen negatief raak.

Gelukkig het ek 'n voorryer alias Jongman August, hy het bietjie oorleg gaan pleeg met ons foutjie van verlede jaar voor Centocow, kan nie glo hoekom ons die fout begaan het nie, dis bykans alles afdraande na Centocow van ons foutjie. Hy gaan die pad vir my mooi merk met Milobars, hoop nie die anner manne eet dit nie. Jongman klink vir my baie fiks en gereed vir die race, hopelik raak ek gou weer gewoond aan die pas en kan ek hom dalk vang en weer so jaagsessie insit.

Today's Achievements are Tomorrow's Targets

En daar gaan Mike en sit 'n teiken op sy rug, ek praat net gister met Allan en sê ek sal maar kyk hoe ek voel, mik maar vir Centocow tewyl ek nog nie so lekker, lekker is nie en daar beplan Mike sommer my race vir my. Ek dink hy en die Commander is aan die konkel, ek kan al hoor wat die commander vir my gaan sê :
" As Mike dit kan doen moet jy net beter !!!!! "

Een ding is seker, my kop is reg, of is dit verkeerd ? Ek hoop net alles skop in en uit wat geskop moet word, en ek vertrou nou ernstig op daai muscle memory ding.

Hier kom 'n ding...........

Miles for Smiles DONASIES

http://www.milesforsmiles.co.za/component/content/article/101-freedom-challenge-.html

Ek sal die pyn op my dra, sit julle die Smiles op die Kinder gesiggies !!!!!!!