6/18/2013

Dag 3 Die Blou trein ontspoor...

So gebeur elke ding met 'n doel en dis die Liewe Vader se doel gewees om die trein vandag te stop.

Ons staan eers laat op, baie later as wat enige Freedom Challenger veronderstel is om op te staan, Ons mikpunt vandag : net Masakala, ek moet Werrie kans gee om te herstel, Rome is nie in een dag gebou nie en die Freedom Challenge word ook nie in een dag oorwin nie. Die kwelling in my is besig om te groei, hopelik kry Werner se knie kans om te herstel, al probleem is dat elke dag op die Freedom Challenge moer hard is en al vat jy dit stadig dit bly moer hard. Stadig bekruip ons die opdraandes, ek werk so bietjie harder om die lading van Werner se knie af te haal, al moet ek bloed sweet maar die ding gaan ons albei klaar maak. Ek dink dis die ekstra bloed sweet wat my konsentrasie tap en ek maak 'n foutjie in helder daglig, eintlik 'n moerse foutjie wat ons 'n hele paar ure terugsit. Ek draai te vroeg regs nadat ons die Mzimvubu rivier kruis, seker maar die stadige klim wat my vroeër laat draai, ek weet wragtig nie hoekom ek die foutjie begaan het nie. Terwyl ons besig is met die klim word ek onseker oor die pad en met ons aankoms bo, bevestig ek aan Werner dat ons te vroeg gedraai het, ons het 'n keuse om om te draai, of om links te draai en dan deur die veld te ploeter, ons behoort darem op dieselfde kontoer te bly en Werner se knie te spaar. Ons besluit op die tweede keuse en allles verloop goed tot die aarde voor ons oopskeur en ons teen die kranse moet afdonner en annerkant weer moet bobbejaan klim om bo te kom, ek neem beheer van die tandem en my gemoed word briesend vir myself en my dom fout. Dis nie hoe mens jou boet se knie spaar nie, hierdie is meer soos 'n army opfok, ek stoei die tandem teen die kranse uit,  Werner klim uit, bogekom sê Werrie vir my hy weet nie meer nie en voor hy verder kan praat prop ek hom vol pynpille en vertel hom die Freedom is met pyn besaai. Almal het pyn op die Freedom, dalk nie dieselfde graad nie, maar pyn sal daar altyd wees en om die pyn te oorwin moet jy nie net vasbyt nie, jy moet deurbyt en dis nou tyd om deur te byt.....

Werner byt vas en ons vorder goed, op die trein is hy okay maar wanneer ons moet stap is hy glad nie lekker nie, ek kan sien die man verduur baie pyn alhoewel hy dit probeer deurbyt. By die cooka shop net voor Gnolintaba koop ek 'n coke en 'n pakkie slegte sigarette, ek rook nooit op die Freedom nie, seker drie maande gelede al opgehou, maar die kwelling in my laat my toegee. Werrie vra my wat maak ek en ek sê dis nou tyd vir rook.......

Werner stoei Gnolintaba uit, eintlik kruip hy dit uit, teen die slakke pas kan ek nou al die trein baie gemaklik uitstoot, ons vang 'n blaaskans net voor die grondpad, ek teug aan 'n slegte sigaretjie en Werner staar die verte in en ek wonder wanneer gaan hy my sê, hy's nou klaar, gelukkig is Masakala nie ver nie en ons behoort 'n goeie rus vir more in te kry.

Op die laaste opdraande oppad na Masakala stoot ek die rook en al my frustasies uit die tandem tewyl Werner die opdraande uitstoei, 'n groot ou mamma prwel iets van Aikona en Werner besluit net daar en dan hy het genoeg gehad. Wat de moer nou ? Ek kan die tandem alleen ry, maar daar lê nog 'n paar berge voor en hulle gaan verseker hulle tol eis, ek bel vir Glenn in Rhodes om te hoor of ek sy fiets kan leun, geen probleem nie ek moet net daar uitkom oor Lehana's met die tandem.......

Met 'n somber hart ry ons die laaste stuk na Masakala, dit was 'n groot droom vir my om die Freedom saam met my boet te kon ervaar, die kwelling in my hart maak plek vir 'n skuldgevoel, dalk het ek my boet te hard gedruk, dalk moes ons dit rustiger vat, al wat ek weet is my droom lê aan skerwe. Ek bel vir David om hom in te lig van my situasie en sommer om die daglig straf te bespreek. Dis 15H00 by Masakala en ek kry 'n daglig straf van 6 ure wat betekin dat ek vandag 3ure moet uitsit en more van 6h00 tot 9H00 die oorblywende 3ure moet uitsit indien ek 'n ander fiets kry. Ek oorweeg my opsies, Glenn se single speed by Rhodes en dan 'n 6ure daglig straf, of Werner leun vir my, my ou fiets en hy reël iemand om dit te bring na Masakala en ek begin solank met my tydstraf. Ek maak die wyse besluit om vir my ou fiets te wag, op die stoep rook ek die een sigaret na die ander in afwagtig vir die son om te sak en my eerste 3 ure klaar te maak. Robbie sluit weer by ons aan, later die aand sluit Scott James en sy span by ons aan, en al wat ek kan doen is wag, Werner het gereël dat iemand  my ou Cannondale Rush vir my bring, hy behoort more vroeg hiet te wees. Werner is moedeloos moeg en seer en lê hinderlaag tewyl ek die Blou Trein ontspoor en ontneem van al sy parte wat ek gaan benodig vir die Rush, al wat oorbly is om die geveg more na 9H00 moedig voor te sit.

Dis nooit lekker om hard te werk vir 'n doel en dit dan nie te bereik nie, gelukkig het ek en Werrie nou 3 ekstra spesiale dae om oor te kan praat. Die Freedom Challenge is 'n harde race en dit het al klaar 'n paar groot manne in hulle spore gestop in die verlede. Werner het hard geoefen en sy voorbereiding was goed, hy het ons in 'n B seeding op die Sani ingery en glo my as hy kon aangaan sou hy.

Ek en hy het saam besluit om die race op 'n tandem aan te pak om geld in te samel vir 'n skool vir kinders met outisme. Die rede vir die tandem was om dit juis moeilik te maak vir ons, in 'n poging om te probeer ervaar wat 'n kind met outisme elke dag ervaar. En ek dink ons het 'n smakie daarvan gehad. Enigeen wat 'n donsie wil maak kan dit doen op www.ablecenre.org.z

En nou, wat maak ek nou ???

No comments:

Post a Comment