6/17/2013

Dag 2 Klim klim klim Centocow - Banchory

Kom 2H00 by Centocow aan, dis -2 lekker koud, eet en slaap net om 7H30 weg te met die eerste klim. Die stoomtrein het nog nie lekker stoom opgebou nie, maar ek is vol vertroue !!

Maak 'n lekker koffie by die waterval net voor Ntsikeni, Werrie se knie is bietjie seer, maar hy se hy sal oorleef. Dis harde werk, die tandem maak dit nie maklik nie en ons stoei voort. Ons het vir Robbie McIntosh gisteraand in die donker verby gesteek en stil stil sluit hy by ons aan waar ons 'n koppie boeretroos by die waterval geniet. 16H00 by Ntsikeni eet en laat waai, wil graag die nuwe deel doen in die lig, hou nie van kringe in 'n bos nie. Al ooit probeer om 'n 200 kg + tandem in 'n toegegroeide jeeptrack in die nag regop te hou ? Faaaak dis moeilik.

Werrie raak moeg, sy knie raak seer en hy verander in 'n ventertjie en my bene raak moeg. Werrie se ek moenie worry nie want hy weet hy het vir King Kong voor op die trein.... Wanneer 'n man moeg raak maak jy maklik foute, net na Politiuqe ploeter ons in die donker rond opsoek na die jeep track, Werrie klim met sy seer knie amper oor die berg, ek vind die pad en roep hom terug vir die laaste tog na Banchory, hy is poegaai verby en wonder seker ernstig wat hom begewe het om toe te gee tot my malligheid.

Stadig bekruip ons Banchory is die donker, Werrie is doodstil, sy knie is vrek seer en hy verval in 'n diep slaap agter op die trein, die laaste opdraande is net te veel vir my en ek besluit dis tyd om liewer te stoot. Met die stopslag kap kleinboet se kop homself wakker teen my rugsak, Werrie is naby moertoe......

Sy knie is nou verskriklik seer, en ek prop hom vol pynpille in die hoop dat hy gou sal herstel, diep binne my ontwikkel daar 'n kwelling, gaan my boet dit maak ?  Ek besluit om more maar af te sien van my beplanning en dit rustig te vat sodat Werrie kan moed skep vir die res van die tog, as ons net Rhodes kan maak sal hy fine wees. So laat ons weer vir Robbie by Ntsikeni agter en sluit ons weer aan by ons begin groepie van Charles Mansfield en Christo van den Heever aan.......

Gaan maar bietjie inlê sodat boet se knie kan herstel en dan maar more mik vir Masakala......

1 comment:

  1. Lekker man, I see blue skies over there.....something I have not seen for many years....

    Kleinboet from Grey England

    ReplyDelete