6/26/2013

Dag 10 Bucklands - Cambria - Damsedrif

Nou wat sê 'n mens, dis 'n moerse lang trek, en die trek gaan deur modor, seker die kakste deel van die Freedom. Val laterig in die pad, weer min slaap gekry, die ou verhaal van die Freedom wanneer daar verskillende groepe is. ek kom middernag ingesluip soos 'n muis met slippers sodat ek nie die ander steur nie, die ander staan vroeg op en ek word onbewustelik wakker gemaak omdat hulle nie weet ek het in die middel van die nag ingesluip nie. Moeg en tam spring ek laat weg, sal tyd opmaak op die pad.

Vang die groep voor my met die afdraai na Osseberg, die groep van drie Anton, Colin en Avril bly voor my to by die eerste waterkruising. Avril Meterlekamp se brieke is op soos ou Freedom Challenge skoene, ek vra of ek kan help en sy verseker my daar is nie briekskoene oppad, sy sal dit by Cambria kry. Ek vang vir Anton en Colin onder by die waterkruising waar hulle naarstigtelik pad soek in die oorblyfsels van die verspoelde hel. Ek stop en verduidelik hulle die werking van modor, daar is darem nog genoeg tyd vir die drie om veilig uit die kloue van die hel te ontsnap. Maak gatskoon ek moet nog Damsedrif toe, 17H00 by Kudu Kaya.

Met die wegspringslag na Damsedrif daag Anton en Colin daar op sonder Avril, ek vra uit na haar welstand en hulle lig my in dat hulle nie weet waar sy is nie. Oopbek verstom val ek 18H30 in die pad na Damsedrif, August prewel iets van die Baviaans luiperds, en ek iets van luiperds eet nie vrot fietsryers nie. 1H30 bo op Baviaans Mother, ek voel goed en wil so vinnig moontlik by Damsedrif uitkom, het kwaliteit slaap nodig. Klaas Vakie oorval my so 40km voor Damsedrift, ek besluit om slaapplek te soek, die luiperds pla my so bietjie, sê nou hulle raak lus vir my.....

Besluit toe maar om by die hek nes te skop, so 3km voor die hek sien ek die 'n groot grys figuur in my lig en ek wonder wat soek die bees hier in die Baviaans? Ek verwonder my aan die groot grys bees wat al meer soos 'n renoster vir my begin lyk, ek weet die Baviaans huisves buffels en luipers maar renostes, nog nooit gesien nie, kan dit Klaas Vakie se werk wees ? Die ding beweeg en ek sien dis 'n regte renoster, hy gaan toe maar in die bos in en ek ry toe maar verby, en met die verbygaan slag besluit die renoster om saam te hol, ek gee Klaas Vakie 'n moerse klap, skrik wakker en sorg dat ek voor oom renoster bly.

Ek klap Klaas Vakie so hard dat daar niks van sy slaap plannetjies by die hek oorbly nie, dis nou Dam se Drift. 3H00 sak ek by Dam se Drift in, dis donker, geen siel of lig in sig nie, die stoep is toegemaak met tralies, seker om die bobbejane uit te hou wat hier word nie gesteel nie en ek sit voor dooiemans deur. Stap toe maar om die huis en ondek 'n oop agterkamer en 'n warm duvet van iemand wat nie te lank tevore die kooi nog warm gelê het nie en ek weet ek is vuurwarm op Scott en trawante se spoor. Slaap kom vinnig, more is nog 'n dag.......

No comments:

Post a Comment