7/02/2010

Dag 14 Hel - Anysberg







Op gevries staan ons 5H00 op, ek probeer 'n piesang eet, maar die is ook gevries. Tim het gesê hy sal ontbyt maak vir ons, my GT is so goed geleer dat hy weet wanneer om te breek. My agterste rat kabel breek mors af by die derailleur op pad na Tim, Tim voorsien my van 'n kabel en walla fixed up. Eet 'n lekker ontbyt en trek 'n uur later weg, iets waaroor ek nooit spyt sal wees nie. Wonderlike mense, dankie Tim, Michelle en Murry dat julle ons in jul lewens toegelaat het. Die res van die dag is 'n wille jaagtog, August probeer die spoedrekord breek op Horlosiekrans afdraande, maar die wind briek ons. 14H00 in Rouxpos  eet Tannie Ronel se lekker kerrie en rys en die smul lekker wafel en roomys vir ekstra krag en 'n uur later val ons weer in die pad. August stotter nie meer nie, ek dink hy is ook nou lus om die dolle jaagtog vaarwel te roep.

Ons jaag om die afdraai na Anysberg in die laaste lig te vind, die hele dag was eintlik 'n jaagtog net sodat ons die afdraai betyds kon kry, ek het August belowe ons sal 'n blaaskans vat na die afdraai. By die verlate hek na Anysberg neem ons die blaaskans, lê plat op ons rug en peusel aan 'n lemoen en Tannie Ronel se padkos . Ons lê en bewonder die sterre prag en net voor ons aan die slaap raak val ons in die Anysberg sandpad, ek swik my enkel op die sandpad, vermoed ek hoor 'n luiperd in die donker en swyg daaroor. 22H00 in Anysberg, en besluit dis baie wys om te slaap vir 2 ure. Middernag onder die sterre prag val ons weer in die pad, sprakeloos bewonderend oor die hemelruim jaag ons voort, ek weet die einde lê net 'n dag of twee weg en dis nou tyd om klaar te maak. Met dagbreek land ons  6H00 in Montagu, nog 238 km agter die blad, doodmoeg maar sal Trouthaven vandag maak.

No comments:

Post a Comment