7/05/2010

15 Dae 11 ure met 'n Rusdag !!!


Wednesday, 07 July 2010

Min Challengers kan sê hulle het die Freedom Challenge in 15 dae met ‘n rusdag voltooi, ja die eens magtige boeretrein het ontspoor en met die swaai van die Freedom towerstaffie is twee van hulle in Sleeping Beauties verander.Die hele wêreld het na ons gesoek, daar is nie selfoonopvangs nie , die trackers werk nie op Bucklands nie. Ons het in ‘n skynaanval ingegaan en ‘n hinderlaag gelê, tot 15H00 baie laag gelê en niemand gehinder nie. Die welverdiende rus was nodig vir die aanslag wat voorgelê het.

Die Geheime Wapen.

Baie het gewonder oor die " Geheime Wapen " dit self gevrees, soos julle die boere generaals nou al ken is hulle baie kompiterend van aard. Saam kompiteer ons teen die Engelse en enigiemand wat die uitdaging wil aanvaar. Vra maar vir Jongman August, dis baie beter om saam met ons te veg as teen ons......Soos August tereg gesê het die twee Generaals is uit eenderse tungsten gebeitel, ewe hardegat hardkoppig, ewe kompiterend, net die kleur van hul hare en hul name verskil, en wanneer die onafwendbare skeiding plaasvind verander die kompiterende aard van die Challenge, nou word daar op mekaar gefokus en in die proses word die ander mededingers uitgestof. Ons jaag mekaar soos twee fris jong Jack Russels oor berge en in dale, selfs in ons slaap, en Jongman August moet vasbyt vir lewe en dood. Die Geheime Wapen jaag Carl in die kloof in, waar die Freedom towerstaf ook sy werk doen en die ou Rusland ook in ‘n Sleeping Beauty verander. Die voëls verwek Carl vroeg die volgende oggend in die kloof waar hy nesgeskop het langs die wrak van die Schakelton vliegtuig, en ek worry my gat af oor my kameraad, hy moes al net na 5H00 uit die kloof gewees het en daar is nog gee nuus van hom nie. Selfs David en die ander begin worry oor die man, dis luiperd wêreld hierdie, dis ‘n gevreesde kloof en glad nie maklik nie. 14H00 kry ek die boodskap my groot vriend is klaar en hy het voor Alex ingekom, met ‘n geruilde fiets of nie, dit wil gedoen wees. Crous is ‘n gewone boer van die Vrystaat en dit sit nie in enige man se gat om so te ry nie. Met die beauty slaap agter die rug, het ons van Bucklands ongeveer 900 km gery met 12 ure slaap, die laaste 400 km na Trouthaven was daar net 2 ure slaap in ons wille jaagtog om die generaal dalk te vang, dit was my nie te beskore nie.

Jongman August

‘n Baie dinamiese hoogs inteliggente jongman, hoe kon so intelligente jongman so groot fout maak om hom saam met die twee hardegat generaals op te saal ? Sy oorspronklike 21 dag plan het ons gou - gou opgedonner in ‘n 15 dag jarelange vriendskap. Ek het baie gewonder oor sy besluit, tot ek die foto's begin deurkyk het en gemerk het dat Jongman hom reeds by die begin langs ons geskaar het. Hy het homself met ‘n oop gemoed in ons binnekring ingeslinger, ek glo hy het homself vooraf baie goed van ons ,vergewis van al ons gyte en dinge, ons kompiterende aard, ons hardegatgyt en hoe ons soos wildehonde meedoonloos kan jaag as ons spoorgevat het. Ek glo die 15 dae ervarings sal nog vir jare te kom by hom bly, soos die ewige band tussen ons sal bly, net die wat saam gesuffer het kan saam daaroor praat en die gevoelens deel. Ja daar was die tye wat een van ons lekker amps getrek het, maar dis wanneer die sterker ryer deur positiewe of negatiewe intervensies die ander beïnvloed het om aan te hou ry. Daar was die keer diep in die nag in die Baviaans toe Jongman vir my sê dat indien hy my weer terughou ek hom moet los en aangaan, ek stoot toe sy fiets die pas uit, bo gekom wag ek vir hom en dring aan op sy selnommer, net sodat ek weet hy het veilig by sy bestemming aangekom en hoe dit met hom gaan. Hy gee sy nommer en vandaar moes ek vasbyt om by te bly, die negatiewe motivering het gewerk ! Dan was daar die keer skaars ‘n kilometer voor Trouthaven toe ek langs die pad wou slaap, ek was fisies nie meer instaat om regop op die fiets te bly nie. Jongman het my eers die helling uitgestoot, tot ek hom gewaarsku het, dat indien ek met my pikante lyfie sou omval, ek ons albei in die afgrond sou laat afdonner, en hoe sou ons dan daaruit kom ? Hy vat toe my fiets, deel sy laaste Milobar met my met die belofte dat die kraggies wat ek so brood nodig het nou-nou sal terugkom, dis nog net ‘n klein entjie. Ek strompel toe maar soos ‘n gans wat ver weerlig sien die donker in, en daar verskyn Trouthaven om die volgende draai, ‘n Hemelse gesig.

Kop Race

Moet nooit iemand op sy baadjie takseer nie, ek met my pikante lyfie lyk glad nie soos iemand wat die race in 15 dae met ‘n rusdag kan voltooi nie. Tot in Rhodes is dit ‘n fisiese race, vandaar is almal redelik baie fiks en verander dit in ‘n kop race, die een wie se kop die hardste is wen die race. Die kruk van die race lê in die verwydering van frustrasies, moenie koud kry nie, moenie verdwaal nie, eet genoeg, slaap genoeg, vermy die negatiewe en soek altyd die positiewe al gaan dit hoe kak. My Engelsman het vir my ‘n klein stelletjie gelamineerde foto's gegee wat ek op my rugsak saam gepikkel het, wanneer die verlange nou regig groot geword het, of wanneer ek nou regtig gatvol was, het ek die foto's van my geliefdes en pelle deurgeblaai. Op een van die foto's was die volgende vers aangebring : " Skep vandag geluk. ‘n Mens is self verantwoordelik vir die skep daarvan - jy kom nie sommer per ongeluk daarop af nie ! " Psalm 119 vers 135 en die ander " Waar jy ook al vandag is en waar jy ook al kyk - God is daar ! " Psalm 106 vers 2. Dis veral in die laaste deel van die race wat jou kop moeg word, die vlees is bereidwillig maar die gees is onwillig. Dis wanneer jy die Geheime wapen benodig asook die botterspaan manne langs die pad en by die huis wat elke beweging van jou dophou, die manne wat jou inlig dat Crous gesê het hier is twee manne warm op sy spoor. Dis die middernag Tracker manne wat rekenaarvasgenaal inligting per sms aan jou oordra en tot groot vermaak hul verlustig in die jaagtog.

Beskerm Engele.

Ons support station engele, die manne en vroue wat ons frustrasies verwyder, ons ‘n warm bord kos en ‘n bed gee, die nodige liefde en ondersteuning. Hulle is ‘n goeie bron van inligting oor die doen en late van die Engelse en die ander. Die mense word jou vriende, hulle onthou jou van die vorige jaagtog, was jou klere, pak jou saalsakke vol lekker kos. Ek dink aan Rinie van Bucklands wat sommer my broek gestop het na ‘n wille valslag op Lehana's, ek dink aan tannie Ronel van Rouxpos se yskoffie wat my deur Anysberg reservaat wakkergehou het en aan al die nader wat ons so onbaatsugting in hul huise en lewens ingenooit het, sonder julle sou ons dit nie kom maak nie.

Dan ons ander beskerm engel, Tim James, Michelle en Murray wat in die bibberkoue middernagtelike ure vir ons stokkie koffie bring, net voor ons die doodsgevaarlike pas in die Hel afdaal. Ek dog ek halusineer met die vreemde ligte wat die donker nag voor my verhelder, is dit dat ons nou net te veel gehap het, kom haal die Engele ons ?
Dan verskyn Tim en Murray in die helder ligte, wil julle manne ‘n bietjie koffie hê ? Met ‘n stokkie vars langs die pad gepluk word daar vir ons koffie gemaak, die vriendskap en die koffie verwarm vlees en gees en ons sak veilig die Hel af waar iemand ‘n helse vrieskas oop vergeet het. Ek dink dis ons beskerm Engel Tim wat al die vure met sy onbaatsugtige vriendskap en ondersteuning geblus het. Met ‘n :" Indien julle more ontbyt nodig het klop ons op, verdwyn ons beskerm engel in die donker nag". Tot op die been gevries val ons 4H30 in die pad, ons ontbyt bestaande uit ‘n gevriesde appel, peer en piesang maak plek vir Tim se warm goedhartigheid, hy steek vir ons ‘n vuur op, maak pap en koffie en ons gesels asof ons jarelange vriende is, daglig vertrek ons, ‘n hele paar uur later as beplan, maar met ‘n ervaring wat niemand ons ooit kan wegneem nie.

Die regte Beskerm Engele wat ons op die koers hou sonder om voet verkeerd te sit, ek glo ons was omring deur hulle op Lehana's pas. Hulle het die nag vir ons verhelder, soveel so dat ons sonder ‘n lig die berg uit is, sonder om ooit van koers af te dwaal. Dankie Liewe Vader dat U hulle vir ons gestuur het, om ons te beskerm, sonder hulle sou ons dit nooit gemaak het nie!

Die linksom - regsom roetes.

Jy kan linksom of regsom by die Kaap uitkom, die een roete is dalk net styler en korter en die ander langer en makliker, maar uitkom in die Kaap sal jy. Vat nou maar die linksom roete na Rhodes baie langer maar makliker, regsom moeiliker en korter, maar by Rhodes gaan jy uitkom tensy jy besluit om Leshotho toe te gaan. Ek en Carl het gereeld op 'n mooi manier oor linksom en regsom vasgehaak, ek glo die oorsaak daarvan was die verkillende roetes wat elkeen van ons geneem het om by dieselfde bestemming uit te kom tydens die vorige jaagtog waar ons alleen gery het. Linksom of regsom, dit het ons nogsteeds in ‘n baie goeie tyd in die Kaap uitgebring !!!!!

Die Highlights van die race.

Lehana's pas in die donker, toestande was ideaal, ‘n groot helder maan, hope Beskerm Engele, die wonderlike sterre prag en die sneeubestrooide aarde. Dit was Hemels om dit in die nag te kon doen en 'n moerse voorreg om dit reg te kom kry.

Oom David en Tannie Verity Hobson van Struispoort wat ons met ‘n baie spesiale bordjie pap saam met Tim James in hulle huis ingenooi het. Indien ek ooit weer die race doen sal ek verseker van hulle gasvryheid gebruik maak, ek is nou al twee keer genooi en sal dit verseker nie vir ‘n derde keer onsê nie.

Die Singer naaimasjien wat ons oppad Van De Venterskraal in ‘n rigting aanwyser verander het. Dis nou nie ‘n eland nie maar ek glo die res van die bende sou weet hulle is op die regte koers.

Die aand toe Jongman besluit het hy het genoeg gehad en dat hy by oom Theuns van Draaifontein gaan slaap, net om weer aan my sy te wees toe ek wegtrek. Saam is ek en die jongman, wat my om een of ander duistere rede as Oom aanspreek ( dalk te goeie maniere ) die donker in, eendag as ek 80 is en hy 63 sal ons nog lekker lag oor ons wedervaringe.

Tim James wat vir ons stokkie koffie maak in die Hel, dis te goed om waar te wees, ek hoop ek kan eendag die guns vir hom teruggee. Tim is ‘n sprekende voorbeeld van wat ek graag wil wees, ek wil nie sy rekord hê nie, maar ek koester sy goedgunstigheid en die manier hoe hy die race met sy familie deel. Hoe kan een mens soveel goedheid in hom hê ?

Die Engelsman bo-op Steteyns, ons sweet die berghang uit, my Anysberg enkel gee my hel, maar die vooruitsig van my Engelsman by Diemersfontein vuur my aan. Op ‘n rots ver bo die nou prentjie mooi Stetteynskoof is Andrew King besig om ‘n onderhoud met my te voer, toe ek ‘n bulderende stem my naam hoor skree. Ek vra sê aan David dat dit net my goeie pel Carl Crous kan wees wat so op my skree toe ek die Engelsman gewaar. Trane skiet my oë vol, ek wil huil van vreugde en verlange, die race het ons liefde vir mekaar weereens nog dieper inmekaar geweef. Melanie ondersteun my ‘n 1000 % in watter malligheid ek my mag begewe, en hoewel sy nie elke oomblik saammet my is nie, beleef sy alles saam met my, die goeie en die slegte. Sonder haar onbaatsugtige Liefde en Ondersteuning sou ek dit nooit gemaak het nie. Dankie my wonderlike vrou hierdie prestasie is deur jou moontlik gemaak en behoort eintlik aan jou !!!!!

Die bottels en bottels goeie Diemersfontein wyn wat ons na die verrigting met vriende en familie gedeel het, ek het self nie geweet dis nog moontlik om so baie wyn te geniet nie. Die uitruil van wedervaringe en Big Brother David wat hom verlustig in ons foute, hy sny dan vir ons ‘n highway en dan bosbreek ons tog maar ons eie roete.

Die Muis en die Olifant.

Jongman August is die muis wat heeltyd moet eet, die Freedom Challenge is ‘n regte endurance race en dis uiters noodsaaklik om op die regte tydintervalle die regte kos in te neem. Wanneer jy begin amps trek is dit te laat, dit neem ongeveer 2 ure om weer aan die gang te kom vandat jy ge-eet het. Dan kry jy die pikante lyf Olifante, wat ‘n bord kos in ‘n oogwink verorber, en hulle eie strandbal liquid energy in hul pens saam karwy, die diesel enjins van die race. Hulle is nie so vinnig nie maar so aanhoudend.
Die race word deur die man gewen wat die langste in die saal sit met die minste frustrasies. Dit sluit nie noodwendig die langste aaneenlopende ure in die saal in nie, die 26 ure na Buckland het ons gekos en ek dink in Trevor en Eugene se geval was dit dieselfde. Te lank in die saal veroorsaak foute, ry eerder bietjie korter met kwaliteit slaap tussen in, wanneer jy moeg is maak jy ongedwonge foute wat jou later duur te staan kan kom. Met die regte oefening kan jy jou lyf leer om ‘n olifant te word en vette oor te skakel in energie tewyl die kos rustig in jou pens verteer. Ek het so lekker ge- eet dat ek tydens die race net 2 kg verloor het.

My Borge.

Dankie aan Eduard Herselman van PG Glass Klerksdorp my hoofborg, dankie ook aan Wally Jacobs van CMB online, Hein Raath van Indigo Signs en Martin van Rensburg van Global Hail wat ‘n bydrae gelewer het. Julle het my ter nouer nood op die laaste oomblik van die nodige fondse voorsien om deel te kon neem. My eintlike borg het op die laaste oomblik soos Carl oor die vlaktes verdwyn. Julle vertroue in my vermoëns was ‘n groot aansporing vir my en julle het dit moontlik gemaak om fondse vir Miles for Smiles in te samel.


My Jarelange vriend van 15 Dae

August jy is ‘n baie spesiale dinamiese jongman wat dit nog ver gaan vat in die lewe, ek hoop die spons wat jy is het alles opgesuig wat ek jou kon leer, die goeie en die slegte. Ek was ook ‘n rebel soos jy en het ook met my hele lyf teen dit wat verkeerd is ingedruis. Ek is nie foutloos nie, maar vol gyte en dinge veral wanneer die slaap min raak, ek glo die 15 dae junior army het jou ‘n baie sterker mens gemaak. Op ‘n keer het jy my gevra of ek ook so streng is met my kinders, ek glo so, jy tugtig mos die waarvoor jy lief is,daarom kon jy saammet my klaarmaak. Bly so spesiaal soos jy is en geniet die volgende challenge saam met jou pa, ek weet dit sal ‘n wonderlike 21 dag ervaring wees, pasop net as die generaals weer daar opdaag.......

Miles for Smiles.

Die organisasie wat fondse insamel om vir die operasie te betaal om kinders met ‘n gesplete verheumelte in stralende glimlaggies te verander. Dankie aan Pieter Cordier van Design Layout and Print wat ‘n challenge voor my deur gelê het, indien ek voor 17H00 op Saterdag 4 Julie sou klaarmaak sal hy ‘n donasie van R 5000 aan Miles for Smiles maak, my broer Werner Nienaber van die Power Property Group het sy voetspore gevolg met ‘n verdere R 5000 vir Miles for Smiles indien ek by Pieter se voorwaardes kon bly. Dit was toe so, met baie moed en durf en min slaap het ek en Jongman dit reggekry, ten minste weet ek darem van een glimlaggie wat ons op ‘n gelukkige kind se gesiggie kon plaas.
Ek doen daarom ‘n verdere beroep op my lesers om dieselfde te doen, enige donasie is welkom, donasies begin by R 125.00 en die grootte van jou glimlag is van jou afhanklik. Besoek gerus die webwerf http://www.milesforsmiles.co.za/ en maak jou donasie, al is dit net om dankie te sê vir al die lang ure wat ek ingesit het om hierdie nussbriewe vir julle te bring.

Ek sluit weereens af met die woorde van Nickelback - If Today Was Your Last Day

My best friend gave me the best adviceHe said each day's a gift and not a given rightLeave no stone unturned, leave your fears behindAnd try to take the path less traveled byThat first step you take is the longest stride
If today was your last dayand tomorrow was too lateCould you say goodbye to yesterday?Would you live each moment like your last?Leave old pictures in the pastDonate every dime you have?If today was your last day
Against the grain should be a way of lifeWhat's worth the prize is always worth the fightEvery second counts 'cause there's no second trySo live like you'll never live it twiceDon't take the free ride in your own life
If today was your last dayand tomorrow was too lateCould you say goodbye to yesterday?Would you live each moment like your last?Leave old pictures in the pastDonate every dime you have?Would you call old friends you never see?Reminisce of memoriesWould you forgive your enemies?Would you find that one you're dreamin' of?Swear up and down to God aboveThat you finally fall in loveIf today was your last day
If today was your last dayWould you make your mark by mending a broken heart?You know it's never too late to shoot for the starsRegardless of who you areSo do whatever it takes‘Cause you can't rewind a moment in this lifeLet nothin' stand in your wayCause the hands of time are never on your side
If today was your last dayand tomorrow was too lateCould you say goodbye to yesterday?
Would you live each moment like your last?Leave old pictures in the pastDonate every dime you have?Would you call old friends you never see?Reminisce of memoriesWould you forgive your enemies?Would you find that one you're dreamin' of?Swear up and down to God aboveThat you finally fall in loveIf today was your last day

O ja vir die wat gewonder het hoe ek dit regkry om my blog so gou op datum te kry, die antwoord is eenvoudig. Moerse goeie rekenaarvaardige pelle, ek skryf die sms tot laat in die nag, raak soms van moegheid aan die slaap tewyl ek dit doen, stuur dit dan met die beste en eerste gegewe posduif sein wat ek kan kry na my groot maat Rudi Koenig, wat dit dan teen die spoed van die Heilige Kameel op die webwerf kry. Hoe hy dit in die middernagtelike ure regkry is sy geheim. Dankie ou maat sonder jou sou ek nie my boodskap kon uitstuur nie, ek is heeltemal te vlak vir die tegnologie, gee my eerder 'n Miles for Smiles mountain bike.

Dankie aan my gehoor sien julle dalk volgende jaar mens weet nooit.........

No comments:

Post a Comment