7/02/2010

Dag 15 'n Laaaang Dag Die Hel na Montagu

Kom doodmoeg en yskoud 6H20 by Montagu aan, ek het vuurhoudjies nodig om my ogies oop te hou, besluit op bioplus terwyl die winkel netnou oop maak. Vang 'n warm shower om die ysbere te verjaag en die skrefies ogies oop te maak en gefokus te kry.

Kry vir Andrew King van D4 Productions en sy kamera span by Montagu Hotel, Andrew vis uit na my planne, die plan is om Trouthaven te maak en dalk sommer klaar te maak afhangende van die slaapmonsters.
Jaag 'n lekker ontbyt deur en maak soos beesmis, val in die pad, die bioplus werk amper net so goed soos tannie Ronel van Anysberg se koffie. Hoor Carl het Stetteyns in die donker aangeval, nog nie uitgekom nie, seker maar daar iewers geslaap langs die wrak, of hy wag dalk voor die hek vir David om oop te maak< skielik voel ek baie spyt oor my besluit om die dag by Bucklands in te lê, moes dalk maar net deurgedruk het, maar dis nou gedane sake.

'n kameraspan doen darem wonderlike dinge vir 'n man se gemoed en energievlakke, kyk 'n man kan nie moeg en afgeleef op die kassie voorkom nie, August skuld net sy kop en lag in sy mou vir die dolle jaagtog waartoe die kameraspan my aanhuts. Laat middag val ons by Oestervanger Support Station in, dis altyd lekker om die laaste gasvryheid van die Freedom Challenge hier te geniet, gasvryheid en lekker kos en geselskap maak my lus vir die laaste jaagtog. Vroeg middag val ons in die pad en vorder goed, Trappieskraal tap die energie en stadig bekruip die slaapmonsters ons in die laaste lug, ek beplan om by die algemene handelaar te stop vir 'n lekker Coke. Die Algemene handerlaar is 'n miernes van bedrywigheid, dis naweek en die kaapsewyn vloei en daar heers groot joligheid en ek besluit dis 'n beter plan om in die stilligheid 5km verder eerder 'n lemoen onder die groot Bloekombomm te geniet. Ek gee my laaste Bioplus vir August, ek moet die man aan die gang hou, solank hy ry sal ek aan karring. Dis asof die slaapmonsters met elke trap nader aan die einde al groter word, hulle is besig om my te pak en stadig maar seker werk hulle my oë toe soos hulle die laaste energie van my tap.

Die laaste paar kilometer na Trouthaven raak amper te veel vir my, die Bioplus is uitgewerk en ek is moertoe met nog net so 5 kilometer of wat na trouthaven.August spook om my pikante lyfie regop te hou, dis glad nie maklik om 'n strompelende lyf  90 kg regop te hou wanneer die goed uitgewerk is nie. Ek loop soos 'n gans wat ver weerlig sien ses rye spore, ek is in my moer in, oorweeg dit om langs die pad te slaap, maar die Jongman weier volstrek. Hy voer my sy laaste Milobar en praat my krag in en so strompel ek voort tot Trouthaven voor ons verskyn, 'n hemelse gesig. Ons haal 4 dae se verlore slaap in 4 ure in, more gaan 'n harde dag wees......

No comments:

Post a Comment