7/07/2010

2010 Freedom Terugblik


Foute gemaak.

“ Fout” Die nare woord wat ek nie gou weer wil hoor nie, maar willekeurig of onwillekeurig dit gebeur. Ek het die volgende formule tydens vanjaar se Freedom geformuleer :

Fout = Frustrasie = Geheue = Ervaring = Minder Foute en Frustrasies in die volgende Freedom Challenge.

Die eerste moerse fout wat ons gemaak het was sommer die eerste aand oppad na Centocow, kyk hulle sê ‘n donkie stamp sy kop net eenkeer, nou wel ek het dit twee keer gedoen, presies dieselfde fout. Indien ek ooit my derde Challenge ry sal die roete hopelik verander het, maar ek sal verseker nie dieselfde fout weer maak nie, al huur ek vir Tim om vir my roetemerkers uit te sit. Die fout het weereens veroorsaak dat ek nie Ntsikeni haal nie, dalk ook maar goed ek kon dalk iewers in die volgende plantasie geslaap het.

Die tweede fout was oppad na die Schufteberg afdraai, toe ons links moes draai maar toe regs opeindig, dis nie ‘n ver verdwaal aksie gewees nie, maar dit het ons baie tyd gekos, ek glo so 2 ure, die 2 ure wat ons daglig nodig gehad het om die regte roete na De Doorns in die dag te kry. Die tweede fout was die oorsaak tot Carl se derde fout, wat aanleiding gegee het tot die onsporing van die boere trein. Ook maar goed, want ek glo ons sou onself tot die dood toe gery het, of verder op ‘n lelike manier ontspoor het.

Ons derde fout was die fout om nie onder Struisbergpas te slaap by Oom David en Tannie Verity nie, die tafel was reeds gedek en hulle het die hele nag vir ons gewag, maar ek kon nie aangaan sonder om te weet Carl is ok nie, en as jy eers gemaklik raak by ‘n plek kom jy moeilik daar weg. Die afstand na Bucklands sou net meer haalbaar gewees het sonder die ekstreme uitputting.

Die vierde en laaste fout, was die 295 km 26 ure van De Doorns na Bucklands, dit was net te veel, die moegheid het my oorval en by Draaifontein maak ek die ooglopende fout om aan te ry en die afdraai regs te soek, tewyl dit ‘n kilometer terug was. Dit kos ons twee en ‘n half ure, twee en ‘n half ure van slaap of ‘n volle dag na Cambria.

Die rusdag by Bucklands sien ek nie as ‘n fout nie, ons was nie instaat om aan te karring nie, dit lyk net baie koddig op my Polar kalender, so asof daar iets moes gebeur het.

August se kaarte.

Daar is berig dat die Jongman geen kaarte vooruit gestuur het nie, en met tye liederlik uitgevaar teen die waansinnigheid. August het nie kaarte vooruit gestuur nie, hy het die twee beste kaarte aan sy, sy gehad, ryende praatende kaarte, wat jou die links- en die regsom na ‘n bestemming kon wys en ter selfder tyd nog jou woordeskat ook kon verbreed. Soos ek voorheen vermeld het is hy ‘n baie dinamiese ingeligte Jongman, hy het al sy kaarte saam met hom gery, ons het wel per geleenteheid van sy kaarte gebruik gemaak om die boere trein weer op koers te kry. Wie het nou in elk geval kaarte nodig as jy so goeie roete beskrywing het ……..

Carl my Beste Freedom pel.

Carl is ‘n baie op die man af sonder om doekies om te draai uitgesproke pel, nie almal hou altyd van hom tot hulle hom verstaan nie. Wanneer die man egter jou pel word is dit deur dik en dun, middernag of middel van die dag hy sal altyd daar wees om jou behulpsaam te wees. Dis die man wat jy saam wil neem oorlog of Freedom Challenge toe, hy laat jou dadelik weet wat hy dink en daar bestaan geen dubbelsinnigheid in sy gevoelens nie.

Die boeretrein was ‘n groot bedreiging vir deelnemers en die gehoor, soveel so dat daar gehoop is dat ons welslae ontspoor. Uit gesprekke lei ek af dat daar die Pro boere manne was en dan die anti boere manne, hoe ookal ons het vir baie opslae en insiggewende materiaal gesorg waaroor daar in die toekoms nog lang gepraat sal word.

Ou Commander Crous bly nogsteeds my beste Freedom pel, en met of sonder jou 12 uur penalty bly jy nogsteeds in my oë ‘n wenner !!!!! Jy is soos Michael Schumager selfs met ‘n baksteen as ryding bly jy ‘n wenner. Hoe sal die Freedom wees sonder jou bulderende stem ? Hoe kan ek gaan deelneem sonder my kompiterende ou pel, watter uitdaging sal daar vir my wees ? Dit sal net nie dieselfde wees sonder jou nie.

Oorlog letsels.

Ek het toe nie die jaar na afloop van die Freedom soos ‘n pofmuis geswel nie, lyk my die ou lyf word nou gewoond aan die punishment.

Die prostaat werk ook weer, heelwat vinneger as verlede jaar, dalk die drie dae wat ek korter gery het, of dalk die verlange na die Engelsman, mens sal nooit weet nie…….

Vraag : Hoe weet jy, jy is amper klaar ? Antwoord : Jy pee al nader aan jou skoene, en as die wind kwaai waai, amper op jou skoene.

My Anysberg enkel, ek het hom so bietjie ernstig geswik in die sand in Anysberg, gelukkig nie erg genoeg dat ek nie deur Stetteynskloof kon kom nie, die het ook reeds herstel.

Soos Jongman sê, die nuwe vriende op jou ali. Man ek het nie geweet ek het soveel vriende nie, die kneusplekke, gelukkig nie sere, is toegedien deur ‘n aantal faktore, waaroder die hoofoorsaak die Gobi saal was. Glad nie die saal se skuld nie, ek dink dit het meer te doen met die terrein, die F@$%^n graspolle, die F*&^%n sinkplaat pad, die F*#$@n klippe en die gewone lang ure op die saal. Ek was op ‘n staduim so gelukkig dat ek elke nou en dan ‘n nuwe vriend gekry het langs die pad. Stetteyns is net lank genoeg om jou van al jou vriende te laat vergeet en dan breek die laaste stukkie pad aan en al jou vriende is daar om jou die laaste styptrekkings deur te sien.
Die Freedom Drome, ek word nou nog wakker, wil my sak pak en in die pad val, die roete rol maal in my drome, ek het selfs nou die nag Stetteyns in die donker klaar gemaak.

Die slak sweet, ek dink dis die ergste, jy word wakker papnat gesweet, lyk en voel kompleet of jy in ‘n bad water geval het en niemand wil aan jou vat nie, gelukkig is dit ook nou verby.

Die Waarom vrae ?

Waarom doen ek dit weer, en hoekom doen ek dit weer ? Die vrae het val aan die begin van die race baie in my kop gemaal sonder antwoord. Die antwoord is eintlik baie eenvoudig, jy het betaal om jou so te straf, maak nie saak of jy ‘n race snake of ‘n pofadder is nie. Inteendeel ek dink jy straf jouself meer hoe langer jy ry.

Die vrae vervaag wanneer jy verby Slaapkranz beweeg, ek glo omdat jy meer gewoond raak aan die hammering. Dit verdwyn egter heeltemal in die Baviaans home straight, wanneer jy oorskakel in erge race mode, dan vra jy nie meer hoekom en waarom nie, nee dan race jy na mamma toe. Dit voel vir my of ons letterlik in twee dae van Cambria na Trouthaven gerace het, 250 km met 2 ure slaap word die norm en die roete flits verby en jy vra nie meer waarom nie.

Dankie Here !!!!

Dis waarom en hoekom jy ry, om : “ Dankie Here !!!! “ te kan sê. Die Freedom het nogal ‘n geneigdheid om jy nederig op jou knieë te maak, dis ‘n wonderlike ervaring, jy waardeer weer die nietige dinge wat gewoonlik in ons geharwar mis gekyk word. Jy mis jou familie en jy pelle meer as ooit. Jy sê weer “ Dankie Here !!!” Dankie Here vir die feit dat jy op die regte roete is, “Dankie Here” vir die asemrowende sonsondergang, “Dankie Here” dat jy die fisieke en geestelike gesonheid geniet om aan die wonderlike ervaring deel te kan neem. “ Dankie Here “ laat my pel dit in die nag in Stetteyns gemaak het, “ Dankie Here “ vir die wonderlike mense langs die pad en die lewenslange vriende wat ek kon maak !!!!

Statistiek

1Ste dag Pietermaritzburg – Centocow 183 km 13 564 Kcal

Laaste dag Trouthaven – Diemersfontein 65 km 4 541 Kcal

My max heartrate 194 b/min Resting Heartrate 41 b/min

Hoogste gemiddelde 152 b/min Pietermaritzburg – Allandale

Laagste gemiddelde 99 b/min Kasra – Trouthaven

Kortste David Mile - Die afdraai na Trouthaven van die Brandvleidam - 1 km op roete en op die aanwysings is dit 4 km.

Die langste David Mile - Die 3 km na Bucklands wat eintlik 7 km is.

Die langste dag – 26 ure 296 km De Doorns na Bucklands

Die langste trek – 400 km Die Hel na Trouthaven met 2 ure slaap.

Die minste slaap – 2 ure Anysberg

Die meeste slaap – 7 ure Sleeping Beauty slaap Bucklands.

Inspirasie.

Die moerse goeie pelle en familie tuis, die Miles for Smiles projek, die lesers en die botterspaan stirrers.

Dit was vir my lekker om te hoor dat ek ander mense kon inspireer om aan die race deel te neem, mense soos Gerda, welldone vir daai klaarmaak, ek glo jou lewe het ook radikaal verander.

Dan is dit ook vir my lekker om mense soos Mathys my groot pel van Durban te inspireer om deel te gaan neem, mense soos my bergklim broer Werner wat begin fietsry het as addisionele oefening vir die bergklim en nou vir hom ‘n ordentlike fiets gekoop het om in die toekoms aan die Freedom deel te kan neem. Ek hoop van harte ek kan deel wees van julle ervaring………

No comments:

Post a Comment