7/01/2009

Dag 15 Willomore - Prince Albert


Ek en Steve het beplan om 5H30 in die lang pad te val. Ek wonder of Carl my gevang het, die wonder verdwyn gou toe ek sy Ibus langs my fiets gewaar, die ou Bliksem, dis net Carl wat dit kon doen.

Daar is dalk nog 'n kans as ek in die donker verdwyn, ek oorweeg dit, die pad is droog, die wind waai nie, ek is sterk Carl is nie in sig nie en hy moet baie moeg wees.

Voor ek verder kan wonder stap hy die onbytlokaal binne met die woorde " More Marnitz ek het jou mos gesê , ek het jou !" en my keuse word vir my opgemaak, ons gaan saam ry. Die jaagtog het Crous oud gemaak, hy het lekker gesuffer in die wilde jaagtog, met pap wiele gesukkel, by The Haven in Cambria ge-eindig en toe maar op die bank buite geslaap, alles aangetrek wat hy het en toe maar met sy hande in sy rugsak ge-eindig om te beskerm teen die koue.

Carl is op soos ou skoene, baie ou skoene, hy sukkel om by te bly, maar hy byt vas soos 'n bosluis vir lewe en dood, ons stop om te eet en hy verseker my :" Moenie worry nie, jy kan maar wegry, maar ek verseker jou maak nie saak waar jy vanaand slaap nie, ek slaap saam met jou..." Die wille jaagtog om my te vang, het Carl geëet, sy gesig verimppeld sy hande teer en sy gees van oorwinning vuurwarm, dit wil gedoen wees,dis lekker om weer  bekende geselskap te hê, die pad is sommer baie makliker en korter.

Die stuk is regig 'n eentonige, verlate sanderige sinkplaatpad, gelukkig word ons uit die eentonigheid geruk deur die Mirenski's se pampoenkoekies en gasvryheid, sien sommer weer kans vir die laaste 80 km sinkplaatpad. Carl is siek, voel glad nie goed nie, hy doen afstand van die lekker pampoen koekkies net voor ons die teer kruis, lê onder 'n bos om kragte op te beur en hy verseker my weereens, hy slaap saam met my onder dieselfde dak vannaand.

Ons pak die laaste kilo's aan na Prince Albert en net toe ons weer lekker gatvol is vir die sinkplaat sandpad en , verskyn Johann Rissik met lekker koffie en beskuit, ongelooflik, ek het al van die man en sy koffie gehoor en hier is hy nou in lewende lywe voor ons. Die laaste 40 km gebeur sommer net terwyl die son die lug vol rooi en oranje kleure tooi met die sonsondergang, ons betree die volgende wonderwerk Dennehof Gastehuis.

Carl soek 'n drup en ons maak 'n draai by die hospitaal, Carl is glad nie lekker nie, die dokter sê hy het baie rus nodig en weier botweg sy drup, dit sal 'n ekstra lading op sy hart plaas. Volgende is ek en my nou baie ernstige blaf aan die beurt, dit klink vir hom baie na aan longontsteking, ek het ook ernstige rus nodig anders gaan ek in die hospitaal eindig, hy stel voor ek begin dadelik met antibiotika, maar dan kan ek nie ry nie.

Terug by Dennehof het Ria vir ons 'n hemelse bord beesstert voorberei, die konings maal word afgesluk met 'n glas rooiwyn of twee en slaaptyd breek aan. Ek het net een probleem, hoe betree ek met my vuil sweetgat die spierwit dons duvet, hulle kan ons mos nie hier laat slaap nie, ons is heeltemal te vuil daarvoor. Johann Rissik was my fiets silwer skoon, en kry nuwe ratkabels, ek behoort nou weer die gebruik van al my ratte te hê.

Ek wonder oor wat die laaste paar dae vir ons gaan inhou, maar voor ek te veel kan wonder verval ek in 'n diep slaap onder sneeuwitjie se snoesige beddegoed.


No comments:

Post a Comment