7/02/2009

Dag 17 Rouxpos - Montagu



Spring 6H00 met net 4 ure slaap weg by Rouxpos, die aarde is meer gelyk en ons vorder goed. Carl is amper weer 'n nuwe mens met nuwe probleme, sy fiets se shifters het die gees gegee, hy het sy fiets vlinters gejaag agter my aan, hopelik bly daar iets oor voor ons die einde bereik.

Ons stop by 'n opstal so 10 km weg van Tant Soekie, Carl wil sekermaak ons is op die regte pad, hy en Jaco Strydom het verlede jaar 'n wilde Kaapse draai gemaak oppad na Tant Soekie. So met die intrapslag bedel Cral sommer vir 'n koppie boeretroos, die jonge dame gee in aan sy versoek en ek besluit om sommer plan te maak met sy ratlose fiets, Montagu is no ver en die slakke pas waarteen ons aan karring gaan nie juis help nie.

Ek maak 'n plan met 'n kurkprop en siedaar Crous het weer ratte, nie almal nie, maar dis beter as niks.





Richard van die D4 Produksie kameraspan duik op en die geleentheid om dalk op die kassie te verskyn pomp nuwe bloed in ons are, die slakkepas van vroegdag verander in 'n wilde jaagtog, hoe dan anders, jy kan mos nie moeg en afgeleef op die kassie verskyn nie ?

Ons stop by Tant Soekie van Spreeufontein, Carl skenk sy Rouxpos vrugte rol en Tant Soekie dring aan om 'n koppie tee vir ons te maak, ek drink nie tee nie, dis vir die Ingelse, maar hoe wys mens sulke gasvryheid van die hand ? Tant Soekie stap al aan in die jare, sy bly alleen sonder kind of kraai op die plaas en sy is lus vir gesels, ons vra uit oor die roete en sy sê iets van ons wil nou gaan waar 'n bobbejaan met 'n kierie nie waag nie, en ek begin wonder oor wat vir ons wag ?

Richard van D4 Produksies vra of ek sal belangstel om kameraman te speel op die pad na Anysberg, en ek gryp die kans, nie aldag wat 'n man die geleentheid kry om 'n stukkie vir die kassie te skiet nie. Die pad na Anysberg is toe nie so erg soos Tant Soekie gemaak het nie, of dis dalk die Wes Tranvaal bobbejane wat veel erger gewoont is. Ons geniet middag ete by Anysberg en val sommer met nuwe krag in die pad na Montagu, ek lees iets van 'n 30 km afdraande.

Ons bereik die kruin van Ouberg Pas en ek kan dit nie glo nie, iewers het David se roete beskrywing 'n tikkie waarheid in, dis werklik 'n 30 km afdraande na Montagu, snaaks dat David ons nie teen die afdraande laat opry het nie, seker maar 'n foutjie begaan in sy roete beplanning. Carl praat iets van ek moet stadig, 'n man kan baie nerwe verloor as jy neerkom op die pas, maar dis 'n moerse afdraande en ek los die brieke en geniet die wind deur my hare.

Net na sewe val on my Montagu Hotel in Bath straat in, nogal 'n baie gepaste straat naam vir 'n paar vrot fietsryers, ek ontmoet vir Mike Woolnough en Glenn Harrison die tandem manne en ek wonder hoe op des aarde het hulle die tandem so ver gekry ? Ons besluit om saam met die manne in die pad te val op pad na die einde no so 200km ver, kan nie wag om Mel en die kinders weer te sien nie, en laat slaap, sommer baie laat slaap.



No comments:

Post a Comment