7/12/2010

2010 Diemersfontein Dinee







Wat 'n wonderlike ervaring om jou ervaring met die res van die challengers te kan deel. Dit was beslis die moeite werd om die dinee by te woon.
Ons het strategiee uitgedeel, foute gemaak bespreek, wat ons volgende jaar gaan doen en verseker nie gaan doen nie.
Ons het bevestig dat dit wel moontlik is om die Freedom in 'n sub 13 dae te kon voltooi, daar sal wel fyn beplan moet word, baie geskaaf moet word, 'n plan A, B ,C en D gereed moet hê vir wanneer alles nie volgens jou beplanning verloop nie.
Glenn Harrison die Gentle Giant soos hy ook genoem word bly 'n yster, eintlik 'n tungsten met 'n hart van goud. Ek het my gat af gery om hom te vang, hy is altyd goeie geselskap en dis net 'n plesier om saam met hom te ry, en om voor die boeretrein te bly wil gedoen wees.
Van ons almal het Glenn verseker die minste slaap gekry, hy het letterlik tot laat in die middernag gery en ek glo tussen 2 en 4 ure slaap gekry, voor hy weer met sy nuwe aanslag begin het. Soos dit vir my klink het die hoofspelers almal na 'n hoër rat oorgeskakel nadat die gerig bekend geword het dat ons oor Lehana's in die nag is.
Dis nogal verbasend wat inligting oor die race aan deelnemers doen, Commander Crous wat volgens homself nie rekenaar vaardig is nie, alhowel ek dit nie glo nie, het iewers 'n baie akkurate informant gehad wat hom die presiese doen en late van Alex Harris deurgegee het. Ons het tot op die minuut geweet hoe laat hy op die verskillende plekke was. Ek glo elkeen van die hoofspelers het so informant of informante gehad, want skielik was ons in 'n wilde jaagtog vasgevang.
Alex was vir my die slimste deelnemer, en ek glo uit sy vorige ervarings uit ekspedisies regoor die wêreld, het hy geleer dat jy nie langer as 18 ure moet ry nie, hy het inderdaad 'n baie slim race gery. Ek aan die anderkant het 'n goeie beplanning ingesit vir 'n 13 dae ervaring, op 'n staduim was ons goed opkoers, ek het tot 'n plan B gehad, maar o wee, jy moet meer as 4 planne hê veral as die elemente begin inskop.
My hoofplan indien ek weer deelneem, en dit in 13 dae wil klaarmaak bygesê, sal wees om alleen te ry, dis soos Tim sê : "Enigiemand is welkom om saam te ry, maar ek stop wanneer ek stop."
Ek het die alleen ding al gedoen, dis glad nie so lekker soos wat dit klink nie, heelwat vinniger wel, nie dat ek ooit my ervaring die jaar saam met August en Carl sal verruil nie. Die groot voorwaarde om alleen te ry is dat jy die roete deeglik ken en dat jy 'n redelik baie harde tungsten kop moet hê. 'n Tungsten kop soos Commander Crous, glo vir my as die man iets besluit het sal hy dit maak gebeur, soms te koste van homself, maar gebeur sal dit gebeur. Sy planne is nie altyd die beste nie, maar soos ek al gesê het :" The body goes where the mind goes " en glo vir my hy het volle beheer oor wat hy doen en wat hy wil doen.
Dit was ook vir my lekker om met al die ander deelnemers te kon gesels en hulle ervarings te kon deel. Ek het 'n skuldgevoel gehad teenoor Gerda, ek het haar die eerste keer ontmoet by Malekholonyane, waar sy en Errol vir ons gewag het om in te kom. Ek kon sien sy was lus om net bietjie te gesels en te hoor hoe dit met ons gaan, sy het my ook meegedeel dat ek met my verspotte rubrieke haar geïnspireer het om aan die Freedom deel te neem. Ek het my lyf race snake gehou en die gesprek kort geknip, moes nog gaan stort en eet. Die race snake houding het my baie gepla na die tyd, dis nie wie ek is nie en glad nie wat ek wil wees nie, en ek is baie spyt oor my gebrek aan goeie maniere, mag ek dit nooit weer doen nie.
Gerda het egter net haar nederige self gebly en ek is baie bly dat ek die geleentheid kon kry om haar geluk te kon wens met haar uitsonderlike prestasie, ek sien haar prestasie in dieselfde lig as Glenn s'n. Dis soos David tereg sê die eintlike wenners is nie noodwendig die wat op die poduim staan nie.
Dit was vir my 'n wonderlike voorreg om die geleentheid saam met al die tungstens te kon deel, dankie dat julle al julle ervarings en slim planne met my gedeel het.
Met die regte borg sal ek julle planne hopelik volgende jaar met julle kan deel, anders maak ek stokkie koffie vir julle langs die pad !

7/07/2010

2010 Freedom Terugblik


Foute gemaak.

“ Fout” Die nare woord wat ek nie gou weer wil hoor nie, maar willekeurig of onwillekeurig dit gebeur. Ek het die volgende formule tydens vanjaar se Freedom geformuleer :

Fout = Frustrasie = Geheue = Ervaring = Minder Foute en Frustrasies in die volgende Freedom Challenge.

Die eerste moerse fout wat ons gemaak het was sommer die eerste aand oppad na Centocow, kyk hulle sê ‘n donkie stamp sy kop net eenkeer, nou wel ek het dit twee keer gedoen, presies dieselfde fout. Indien ek ooit my derde Challenge ry sal die roete hopelik verander het, maar ek sal verseker nie dieselfde fout weer maak nie, al huur ek vir Tim om vir my roetemerkers uit te sit. Die fout het weereens veroorsaak dat ek nie Ntsikeni haal nie, dalk ook maar goed ek kon dalk iewers in die volgende plantasie geslaap het.

Die tweede fout was oppad na die Schufteberg afdraai, toe ons links moes draai maar toe regs opeindig, dis nie ‘n ver verdwaal aksie gewees nie, maar dit het ons baie tyd gekos, ek glo so 2 ure, die 2 ure wat ons daglig nodig gehad het om die regte roete na De Doorns in die dag te kry. Die tweede fout was die oorsaak tot Carl se derde fout, wat aanleiding gegee het tot die onsporing van die boere trein. Ook maar goed, want ek glo ons sou onself tot die dood toe gery het, of verder op ‘n lelike manier ontspoor het.

Ons derde fout was die fout om nie onder Struisbergpas te slaap by Oom David en Tannie Verity nie, die tafel was reeds gedek en hulle het die hele nag vir ons gewag, maar ek kon nie aangaan sonder om te weet Carl is ok nie, en as jy eers gemaklik raak by ‘n plek kom jy moeilik daar weg. Die afstand na Bucklands sou net meer haalbaar gewees het sonder die ekstreme uitputting.

Die vierde en laaste fout, was die 295 km 26 ure van De Doorns na Bucklands, dit was net te veel, die moegheid het my oorval en by Draaifontein maak ek die ooglopende fout om aan te ry en die afdraai regs te soek, tewyl dit ‘n kilometer terug was. Dit kos ons twee en ‘n half ure, twee en ‘n half ure van slaap of ‘n volle dag na Cambria.

Die rusdag by Bucklands sien ek nie as ‘n fout nie, ons was nie instaat om aan te karring nie, dit lyk net baie koddig op my Polar kalender, so asof daar iets moes gebeur het.

August se kaarte.

Daar is berig dat die Jongman geen kaarte vooruit gestuur het nie, en met tye liederlik uitgevaar teen die waansinnigheid. August het nie kaarte vooruit gestuur nie, hy het die twee beste kaarte aan sy, sy gehad, ryende praatende kaarte, wat jou die links- en die regsom na ‘n bestemming kon wys en ter selfder tyd nog jou woordeskat ook kon verbreed. Soos ek voorheen vermeld het is hy ‘n baie dinamiese ingeligte Jongman, hy het al sy kaarte saam met hom gery, ons het wel per geleenteheid van sy kaarte gebruik gemaak om die boere trein weer op koers te kry. Wie het nou in elk geval kaarte nodig as jy so goeie roete beskrywing het ……..

Carl my Beste Freedom pel.

Carl is ‘n baie op die man af sonder om doekies om te draai uitgesproke pel, nie almal hou altyd van hom tot hulle hom verstaan nie. Wanneer die man egter jou pel word is dit deur dik en dun, middernag of middel van die dag hy sal altyd daar wees om jou behulpsaam te wees. Dis die man wat jy saam wil neem oorlog of Freedom Challenge toe, hy laat jou dadelik weet wat hy dink en daar bestaan geen dubbelsinnigheid in sy gevoelens nie.

Die boeretrein was ‘n groot bedreiging vir deelnemers en die gehoor, soveel so dat daar gehoop is dat ons welslae ontspoor. Uit gesprekke lei ek af dat daar die Pro boere manne was en dan die anti boere manne, hoe ookal ons het vir baie opslae en insiggewende materiaal gesorg waaroor daar in die toekoms nog lang gepraat sal word.

Ou Commander Crous bly nogsteeds my beste Freedom pel, en met of sonder jou 12 uur penalty bly jy nogsteeds in my oë ‘n wenner !!!!! Jy is soos Michael Schumager selfs met ‘n baksteen as ryding bly jy ‘n wenner. Hoe sal die Freedom wees sonder jou bulderende stem ? Hoe kan ek gaan deelneem sonder my kompiterende ou pel, watter uitdaging sal daar vir my wees ? Dit sal net nie dieselfde wees sonder jou nie.

Oorlog letsels.

Ek het toe nie die jaar na afloop van die Freedom soos ‘n pofmuis geswel nie, lyk my die ou lyf word nou gewoond aan die punishment.

Die prostaat werk ook weer, heelwat vinneger as verlede jaar, dalk die drie dae wat ek korter gery het, of dalk die verlange na die Engelsman, mens sal nooit weet nie…….

Vraag : Hoe weet jy, jy is amper klaar ? Antwoord : Jy pee al nader aan jou skoene, en as die wind kwaai waai, amper op jou skoene.

My Anysberg enkel, ek het hom so bietjie ernstig geswik in die sand in Anysberg, gelukkig nie erg genoeg dat ek nie deur Stetteynskloof kon kom nie, die het ook reeds herstel.

Soos Jongman sê, die nuwe vriende op jou ali. Man ek het nie geweet ek het soveel vriende nie, die kneusplekke, gelukkig nie sere, is toegedien deur ‘n aantal faktore, waaroder die hoofoorsaak die Gobi saal was. Glad nie die saal se skuld nie, ek dink dit het meer te doen met die terrein, die F@$%^n graspolle, die F*&^%n sinkplaat pad, die F*#$@n klippe en die gewone lang ure op die saal. Ek was op ‘n staduim so gelukkig dat ek elke nou en dan ‘n nuwe vriend gekry het langs die pad. Stetteyns is net lank genoeg om jou van al jou vriende te laat vergeet en dan breek die laaste stukkie pad aan en al jou vriende is daar om jou die laaste styptrekkings deur te sien.
Die Freedom Drome, ek word nou nog wakker, wil my sak pak en in die pad val, die roete rol maal in my drome, ek het selfs nou die nag Stetteyns in die donker klaar gemaak.

Die slak sweet, ek dink dis die ergste, jy word wakker papnat gesweet, lyk en voel kompleet of jy in ‘n bad water geval het en niemand wil aan jou vat nie, gelukkig is dit ook nou verby.

Die Waarom vrae ?

Waarom doen ek dit weer, en hoekom doen ek dit weer ? Die vrae het val aan die begin van die race baie in my kop gemaal sonder antwoord. Die antwoord is eintlik baie eenvoudig, jy het betaal om jou so te straf, maak nie saak of jy ‘n race snake of ‘n pofadder is nie. Inteendeel ek dink jy straf jouself meer hoe langer jy ry.

Die vrae vervaag wanneer jy verby Slaapkranz beweeg, ek glo omdat jy meer gewoond raak aan die hammering. Dit verdwyn egter heeltemal in die Baviaans home straight, wanneer jy oorskakel in erge race mode, dan vra jy nie meer hoekom en waarom nie, nee dan race jy na mamma toe. Dit voel vir my of ons letterlik in twee dae van Cambria na Trouthaven gerace het, 250 km met 2 ure slaap word die norm en die roete flits verby en jy vra nie meer waarom nie.

Dankie Here !!!!

Dis waarom en hoekom jy ry, om : “ Dankie Here !!!! “ te kan sê. Die Freedom het nogal ‘n geneigdheid om jy nederig op jou knieë te maak, dis ‘n wonderlike ervaring, jy waardeer weer die nietige dinge wat gewoonlik in ons geharwar mis gekyk word. Jy mis jou familie en jy pelle meer as ooit. Jy sê weer “ Dankie Here !!!” Dankie Here vir die feit dat jy op die regte roete is, “Dankie Here” vir die asemrowende sonsondergang, “Dankie Here” dat jy die fisieke en geestelike gesonheid geniet om aan die wonderlike ervaring deel te kan neem. “ Dankie Here “ laat my pel dit in die nag in Stetteyns gemaak het, “ Dankie Here “ vir die wonderlike mense langs die pad en die lewenslange vriende wat ek kon maak !!!!

Statistiek

1Ste dag Pietermaritzburg – Centocow 183 km 13 564 Kcal

Laaste dag Trouthaven – Diemersfontein 65 km 4 541 Kcal

My max heartrate 194 b/min Resting Heartrate 41 b/min

Hoogste gemiddelde 152 b/min Pietermaritzburg – Allandale

Laagste gemiddelde 99 b/min Kasra – Trouthaven

Kortste David Mile - Die afdraai na Trouthaven van die Brandvleidam - 1 km op roete en op die aanwysings is dit 4 km.

Die langste David Mile - Die 3 km na Bucklands wat eintlik 7 km is.

Die langste dag – 26 ure 296 km De Doorns na Bucklands

Die langste trek – 400 km Die Hel na Trouthaven met 2 ure slaap.

Die minste slaap – 2 ure Anysberg

Die meeste slaap – 7 ure Sleeping Beauty slaap Bucklands.

Inspirasie.

Die moerse goeie pelle en familie tuis, die Miles for Smiles projek, die lesers en die botterspaan stirrers.

Dit was vir my lekker om te hoor dat ek ander mense kon inspireer om aan die race deel te neem, mense soos Gerda, welldone vir daai klaarmaak, ek glo jou lewe het ook radikaal verander.

Dan is dit ook vir my lekker om mense soos Mathys my groot pel van Durban te inspireer om deel te gaan neem, mense soos my bergklim broer Werner wat begin fietsry het as addisionele oefening vir die bergklim en nou vir hom ‘n ordentlike fiets gekoop het om in die toekoms aan die Freedom deel te kan neem. Ek hoop van harte ek kan deel wees van julle ervaring………

7/05/2010

15 Dae 11 ure met 'n Rusdag !!!


Wednesday, 07 July 2010

Min Challengers kan sê hulle het die Freedom Challenge in 15 dae met ‘n rusdag voltooi, ja die eens magtige boeretrein het ontspoor en met die swaai van die Freedom towerstaffie is twee van hulle in Sleeping Beauties verander.Die hele wêreld het na ons gesoek, daar is nie selfoonopvangs nie , die trackers werk nie op Bucklands nie. Ons het in ‘n skynaanval ingegaan en ‘n hinderlaag gelê, tot 15H00 baie laag gelê en niemand gehinder nie. Die welverdiende rus was nodig vir die aanslag wat voorgelê het.

Die Geheime Wapen.

Baie het gewonder oor die " Geheime Wapen " dit self gevrees, soos julle die boere generaals nou al ken is hulle baie kompiterend van aard. Saam kompiteer ons teen die Engelse en enigiemand wat die uitdaging wil aanvaar. Vra maar vir Jongman August, dis baie beter om saam met ons te veg as teen ons......Soos August tereg gesê het die twee Generaals is uit eenderse tungsten gebeitel, ewe hardegat hardkoppig, ewe kompiterend, net die kleur van hul hare en hul name verskil, en wanneer die onafwendbare skeiding plaasvind verander die kompiterende aard van die Challenge, nou word daar op mekaar gefokus en in die proses word die ander mededingers uitgestof. Ons jaag mekaar soos twee fris jong Jack Russels oor berge en in dale, selfs in ons slaap, en Jongman August moet vasbyt vir lewe en dood. Die Geheime Wapen jaag Carl in die kloof in, waar die Freedom towerstaf ook sy werk doen en die ou Rusland ook in ‘n Sleeping Beauty verander. Die voëls verwek Carl vroeg die volgende oggend in die kloof waar hy nesgeskop het langs die wrak van die Schakelton vliegtuig, en ek worry my gat af oor my kameraad, hy moes al net na 5H00 uit die kloof gewees het en daar is nog gee nuus van hom nie. Selfs David en die ander begin worry oor die man, dis luiperd wêreld hierdie, dis ‘n gevreesde kloof en glad nie maklik nie. 14H00 kry ek die boodskap my groot vriend is klaar en hy het voor Alex ingekom, met ‘n geruilde fiets of nie, dit wil gedoen wees. Crous is ‘n gewone boer van die Vrystaat en dit sit nie in enige man se gat om so te ry nie. Met die beauty slaap agter die rug, het ons van Bucklands ongeveer 900 km gery met 12 ure slaap, die laaste 400 km na Trouthaven was daar net 2 ure slaap in ons wille jaagtog om die generaal dalk te vang, dit was my nie te beskore nie.

Jongman August

‘n Baie dinamiese hoogs inteliggente jongman, hoe kon so intelligente jongman so groot fout maak om hom saam met die twee hardegat generaals op te saal ? Sy oorspronklike 21 dag plan het ons gou - gou opgedonner in ‘n 15 dag jarelange vriendskap. Ek het baie gewonder oor sy besluit, tot ek die foto's begin deurkyk het en gemerk het dat Jongman hom reeds by die begin langs ons geskaar het. Hy het homself met ‘n oop gemoed in ons binnekring ingeslinger, ek glo hy het homself vooraf baie goed van ons ,vergewis van al ons gyte en dinge, ons kompiterende aard, ons hardegatgyt en hoe ons soos wildehonde meedoonloos kan jaag as ons spoorgevat het. Ek glo die 15 dae ervarings sal nog vir jare te kom by hom bly, soos die ewige band tussen ons sal bly, net die wat saam gesuffer het kan saam daaroor praat en die gevoelens deel. Ja daar was die tye wat een van ons lekker amps getrek het, maar dis wanneer die sterker ryer deur positiewe of negatiewe intervensies die ander beïnvloed het om aan te hou ry. Daar was die keer diep in die nag in die Baviaans toe Jongman vir my sê dat indien hy my weer terughou ek hom moet los en aangaan, ek stoot toe sy fiets die pas uit, bo gekom wag ek vir hom en dring aan op sy selnommer, net sodat ek weet hy het veilig by sy bestemming aangekom en hoe dit met hom gaan. Hy gee sy nommer en vandaar moes ek vasbyt om by te bly, die negatiewe motivering het gewerk ! Dan was daar die keer skaars ‘n kilometer voor Trouthaven toe ek langs die pad wou slaap, ek was fisies nie meer instaat om regop op die fiets te bly nie. Jongman het my eers die helling uitgestoot, tot ek hom gewaarsku het, dat indien ek met my pikante lyfie sou omval, ek ons albei in die afgrond sou laat afdonner, en hoe sou ons dan daaruit kom ? Hy vat toe my fiets, deel sy laaste Milobar met my met die belofte dat die kraggies wat ek so brood nodig het nou-nou sal terugkom, dis nog net ‘n klein entjie. Ek strompel toe maar soos ‘n gans wat ver weerlig sien die donker in, en daar verskyn Trouthaven om die volgende draai, ‘n Hemelse gesig.

Kop Race

Moet nooit iemand op sy baadjie takseer nie, ek met my pikante lyfie lyk glad nie soos iemand wat die race in 15 dae met ‘n rusdag kan voltooi nie. Tot in Rhodes is dit ‘n fisiese race, vandaar is almal redelik baie fiks en verander dit in ‘n kop race, die een wie se kop die hardste is wen die race. Die kruk van die race lê in die verwydering van frustrasies, moenie koud kry nie, moenie verdwaal nie, eet genoeg, slaap genoeg, vermy die negatiewe en soek altyd die positiewe al gaan dit hoe kak. My Engelsman het vir my ‘n klein stelletjie gelamineerde foto's gegee wat ek op my rugsak saam gepikkel het, wanneer die verlange nou regig groot geword het, of wanneer ek nou regtig gatvol was, het ek die foto's van my geliefdes en pelle deurgeblaai. Op een van die foto's was die volgende vers aangebring : " Skep vandag geluk. ‘n Mens is self verantwoordelik vir die skep daarvan - jy kom nie sommer per ongeluk daarop af nie ! " Psalm 119 vers 135 en die ander " Waar jy ook al vandag is en waar jy ook al kyk - God is daar ! " Psalm 106 vers 2. Dis veral in die laaste deel van die race wat jou kop moeg word, die vlees is bereidwillig maar die gees is onwillig. Dis wanneer jy die Geheime wapen benodig asook die botterspaan manne langs die pad en by die huis wat elke beweging van jou dophou, die manne wat jou inlig dat Crous gesê het hier is twee manne warm op sy spoor. Dis die middernag Tracker manne wat rekenaarvasgenaal inligting per sms aan jou oordra en tot groot vermaak hul verlustig in die jaagtog.

Beskerm Engele.

Ons support station engele, die manne en vroue wat ons frustrasies verwyder, ons ‘n warm bord kos en ‘n bed gee, die nodige liefde en ondersteuning. Hulle is ‘n goeie bron van inligting oor die doen en late van die Engelse en die ander. Die mense word jou vriende, hulle onthou jou van die vorige jaagtog, was jou klere, pak jou saalsakke vol lekker kos. Ek dink aan Rinie van Bucklands wat sommer my broek gestop het na ‘n wille valslag op Lehana's, ek dink aan tannie Ronel van Rouxpos se yskoffie wat my deur Anysberg reservaat wakkergehou het en aan al die nader wat ons so onbaatsugting in hul huise en lewens ingenooit het, sonder julle sou ons dit nie kom maak nie.

Dan ons ander beskerm engel, Tim James, Michelle en Murray wat in die bibberkoue middernagtelike ure vir ons stokkie koffie bring, net voor ons die doodsgevaarlike pas in die Hel afdaal. Ek dog ek halusineer met die vreemde ligte wat die donker nag voor my verhelder, is dit dat ons nou net te veel gehap het, kom haal die Engele ons ?
Dan verskyn Tim en Murray in die helder ligte, wil julle manne ‘n bietjie koffie hê ? Met ‘n stokkie vars langs die pad gepluk word daar vir ons koffie gemaak, die vriendskap en die koffie verwarm vlees en gees en ons sak veilig die Hel af waar iemand ‘n helse vrieskas oop vergeet het. Ek dink dis ons beskerm Engel Tim wat al die vure met sy onbaatsugtige vriendskap en ondersteuning geblus het. Met ‘n :" Indien julle more ontbyt nodig het klop ons op, verdwyn ons beskerm engel in die donker nag". Tot op die been gevries val ons 4H30 in die pad, ons ontbyt bestaande uit ‘n gevriesde appel, peer en piesang maak plek vir Tim se warm goedhartigheid, hy steek vir ons ‘n vuur op, maak pap en koffie en ons gesels asof ons jarelange vriende is, daglig vertrek ons, ‘n hele paar uur later as beplan, maar met ‘n ervaring wat niemand ons ooit kan wegneem nie.

Die regte Beskerm Engele wat ons op die koers hou sonder om voet verkeerd te sit, ek glo ons was omring deur hulle op Lehana's pas. Hulle het die nag vir ons verhelder, soveel so dat ons sonder ‘n lig die berg uit is, sonder om ooit van koers af te dwaal. Dankie Liewe Vader dat U hulle vir ons gestuur het, om ons te beskerm, sonder hulle sou ons dit nooit gemaak het nie!

Die linksom - regsom roetes.

Jy kan linksom of regsom by die Kaap uitkom, die een roete is dalk net styler en korter en die ander langer en makliker, maar uitkom in die Kaap sal jy. Vat nou maar die linksom roete na Rhodes baie langer maar makliker, regsom moeiliker en korter, maar by Rhodes gaan jy uitkom tensy jy besluit om Leshotho toe te gaan. Ek en Carl het gereeld op 'n mooi manier oor linksom en regsom vasgehaak, ek glo die oorsaak daarvan was die verkillende roetes wat elkeen van ons geneem het om by dieselfde bestemming uit te kom tydens die vorige jaagtog waar ons alleen gery het. Linksom of regsom, dit het ons nogsteeds in ‘n baie goeie tyd in die Kaap uitgebring !!!!!

Die Highlights van die race.

Lehana's pas in die donker, toestande was ideaal, ‘n groot helder maan, hope Beskerm Engele, die wonderlike sterre prag en die sneeubestrooide aarde. Dit was Hemels om dit in die nag te kon doen en 'n moerse voorreg om dit reg te kom kry.

Oom David en Tannie Verity Hobson van Struispoort wat ons met ‘n baie spesiale bordjie pap saam met Tim James in hulle huis ingenooi het. Indien ek ooit weer die race doen sal ek verseker van hulle gasvryheid gebruik maak, ek is nou al twee keer genooi en sal dit verseker nie vir ‘n derde keer onsê nie.

Die Singer naaimasjien wat ons oppad Van De Venterskraal in ‘n rigting aanwyser verander het. Dis nou nie ‘n eland nie maar ek glo die res van die bende sou weet hulle is op die regte koers.

Die aand toe Jongman besluit het hy het genoeg gehad en dat hy by oom Theuns van Draaifontein gaan slaap, net om weer aan my sy te wees toe ek wegtrek. Saam is ek en die jongman, wat my om een of ander duistere rede as Oom aanspreek ( dalk te goeie maniere ) die donker in, eendag as ek 80 is en hy 63 sal ons nog lekker lag oor ons wedervaringe.

Tim James wat vir ons stokkie koffie maak in die Hel, dis te goed om waar te wees, ek hoop ek kan eendag die guns vir hom teruggee. Tim is ‘n sprekende voorbeeld van wat ek graag wil wees, ek wil nie sy rekord hê nie, maar ek koester sy goedgunstigheid en die manier hoe hy die race met sy familie deel. Hoe kan een mens soveel goedheid in hom hê ?

Die Engelsman bo-op Steteyns, ons sweet die berghang uit, my Anysberg enkel gee my hel, maar die vooruitsig van my Engelsman by Diemersfontein vuur my aan. Op ‘n rots ver bo die nou prentjie mooi Stetteynskoof is Andrew King besig om ‘n onderhoud met my te voer, toe ek ‘n bulderende stem my naam hoor skree. Ek vra sê aan David dat dit net my goeie pel Carl Crous kan wees wat so op my skree toe ek die Engelsman gewaar. Trane skiet my oë vol, ek wil huil van vreugde en verlange, die race het ons liefde vir mekaar weereens nog dieper inmekaar geweef. Melanie ondersteun my ‘n 1000 % in watter malligheid ek my mag begewe, en hoewel sy nie elke oomblik saammet my is nie, beleef sy alles saam met my, die goeie en die slegte. Sonder haar onbaatsugtige Liefde en Ondersteuning sou ek dit nooit gemaak het nie. Dankie my wonderlike vrou hierdie prestasie is deur jou moontlik gemaak en behoort eintlik aan jou !!!!!

Die bottels en bottels goeie Diemersfontein wyn wat ons na die verrigting met vriende en familie gedeel het, ek het self nie geweet dis nog moontlik om so baie wyn te geniet nie. Die uitruil van wedervaringe en Big Brother David wat hom verlustig in ons foute, hy sny dan vir ons ‘n highway en dan bosbreek ons tog maar ons eie roete.

Die Muis en die Olifant.

Jongman August is die muis wat heeltyd moet eet, die Freedom Challenge is ‘n regte endurance race en dis uiters noodsaaklik om op die regte tydintervalle die regte kos in te neem. Wanneer jy begin amps trek is dit te laat, dit neem ongeveer 2 ure om weer aan die gang te kom vandat jy ge-eet het. Dan kry jy die pikante lyf Olifante, wat ‘n bord kos in ‘n oogwink verorber, en hulle eie strandbal liquid energy in hul pens saam karwy, die diesel enjins van die race. Hulle is nie so vinnig nie maar so aanhoudend.
Die race word deur die man gewen wat die langste in die saal sit met die minste frustrasies. Dit sluit nie noodwendig die langste aaneenlopende ure in die saal in nie, die 26 ure na Buckland het ons gekos en ek dink in Trevor en Eugene se geval was dit dieselfde. Te lank in die saal veroorsaak foute, ry eerder bietjie korter met kwaliteit slaap tussen in, wanneer jy moeg is maak jy ongedwonge foute wat jou later duur te staan kan kom. Met die regte oefening kan jy jou lyf leer om ‘n olifant te word en vette oor te skakel in energie tewyl die kos rustig in jou pens verteer. Ek het so lekker ge- eet dat ek tydens die race net 2 kg verloor het.

My Borge.

Dankie aan Eduard Herselman van PG Glass Klerksdorp my hoofborg, dankie ook aan Wally Jacobs van CMB online, Hein Raath van Indigo Signs en Martin van Rensburg van Global Hail wat ‘n bydrae gelewer het. Julle het my ter nouer nood op die laaste oomblik van die nodige fondse voorsien om deel te kon neem. My eintlike borg het op die laaste oomblik soos Carl oor die vlaktes verdwyn. Julle vertroue in my vermoëns was ‘n groot aansporing vir my en julle het dit moontlik gemaak om fondse vir Miles for Smiles in te samel.


My Jarelange vriend van 15 Dae

August jy is ‘n baie spesiale dinamiese jongman wat dit nog ver gaan vat in die lewe, ek hoop die spons wat jy is het alles opgesuig wat ek jou kon leer, die goeie en die slegte. Ek was ook ‘n rebel soos jy en het ook met my hele lyf teen dit wat verkeerd is ingedruis. Ek is nie foutloos nie, maar vol gyte en dinge veral wanneer die slaap min raak, ek glo die 15 dae junior army het jou ‘n baie sterker mens gemaak. Op ‘n keer het jy my gevra of ek ook so streng is met my kinders, ek glo so, jy tugtig mos die waarvoor jy lief is,daarom kon jy saammet my klaarmaak. Bly so spesiaal soos jy is en geniet die volgende challenge saam met jou pa, ek weet dit sal ‘n wonderlike 21 dag ervaring wees, pasop net as die generaals weer daar opdaag.......

Miles for Smiles.

Die organisasie wat fondse insamel om vir die operasie te betaal om kinders met ‘n gesplete verheumelte in stralende glimlaggies te verander. Dankie aan Pieter Cordier van Design Layout and Print wat ‘n challenge voor my deur gelê het, indien ek voor 17H00 op Saterdag 4 Julie sou klaarmaak sal hy ‘n donasie van R 5000 aan Miles for Smiles maak, my broer Werner Nienaber van die Power Property Group het sy voetspore gevolg met ‘n verdere R 5000 vir Miles for Smiles indien ek by Pieter se voorwaardes kon bly. Dit was toe so, met baie moed en durf en min slaap het ek en Jongman dit reggekry, ten minste weet ek darem van een glimlaggie wat ons op ‘n gelukkige kind se gesiggie kon plaas.
Ek doen daarom ‘n verdere beroep op my lesers om dieselfde te doen, enige donasie is welkom, donasies begin by R 125.00 en die grootte van jou glimlag is van jou afhanklik. Besoek gerus die webwerf http://www.milesforsmiles.co.za/ en maak jou donasie, al is dit net om dankie te sê vir al die lang ure wat ek ingesit het om hierdie nussbriewe vir julle te bring.

Ek sluit weereens af met die woorde van Nickelback - If Today Was Your Last Day

My best friend gave me the best adviceHe said each day's a gift and not a given rightLeave no stone unturned, leave your fears behindAnd try to take the path less traveled byThat first step you take is the longest stride
If today was your last dayand tomorrow was too lateCould you say goodbye to yesterday?Would you live each moment like your last?Leave old pictures in the pastDonate every dime you have?If today was your last day
Against the grain should be a way of lifeWhat's worth the prize is always worth the fightEvery second counts 'cause there's no second trySo live like you'll never live it twiceDon't take the free ride in your own life
If today was your last dayand tomorrow was too lateCould you say goodbye to yesterday?Would you live each moment like your last?Leave old pictures in the pastDonate every dime you have?Would you call old friends you never see?Reminisce of memoriesWould you forgive your enemies?Would you find that one you're dreamin' of?Swear up and down to God aboveThat you finally fall in loveIf today was your last day
If today was your last dayWould you make your mark by mending a broken heart?You know it's never too late to shoot for the starsRegardless of who you areSo do whatever it takes‘Cause you can't rewind a moment in this lifeLet nothin' stand in your wayCause the hands of time are never on your side
If today was your last dayand tomorrow was too lateCould you say goodbye to yesterday?
Would you live each moment like your last?Leave old pictures in the pastDonate every dime you have?Would you call old friends you never see?Reminisce of memoriesWould you forgive your enemies?Would you find that one you're dreamin' of?Swear up and down to God aboveThat you finally fall in loveIf today was your last day

O ja vir die wat gewonder het hoe ek dit regkry om my blog so gou op datum te kry, die antwoord is eenvoudig. Moerse goeie rekenaarvaardige pelle, ek skryf die sms tot laat in die nag, raak soms van moegheid aan die slaap tewyl ek dit doen, stuur dit dan met die beste en eerste gegewe posduif sein wat ek kan kry na my groot maat Rudi Koenig, wat dit dan teen die spoed van die Heilige Kameel op die webwerf kry. Hoe hy dit in die middernagtelike ure regkry is sy geheim. Dankie ou maat sonder jou sou ek nie my boodskap kon uitstuur nie, ek is heeltemal te vlak vir die tegnologie, gee my eerder 'n Miles for Smiles mountain bike.

Dankie aan my gehoor sien julle dalk volgende jaar mens weet nooit.........

7/04/2010

Trothaven - Diemersfontein Finish




Ek voel soos 'n nuwe sikspens na die lang slaap, die ander manne lyk bietjie gestres en wil graag hê, ek wat alewig links donner moet vir hulle die pad wys. Net na 6H00 by die dam, breek die fietse op en maak hul stewig vas op die rug, die ander vat die fietse sommer so in die hoogvoor, weet hulle wat vir hulle wag ? Die fietse opbreek en vasmaak vat maar so rukkie en die ander gaan solank, ons vorder goed ek weet daar is 'n padjie tot by die crash site, dan die ondeurdringbare vervloekte riete.

Verlede jaar het dit 'n uur geneem om 70 meter te vorder deur die riete, ek stamp my kop net eenkeer, hierdie keer gaan ek regsom, Carl sal baie trots op my wees. Ons kry die crash site, wrakstukke die wêreld vol besaai, 'n scrapdealer se droom. Mike en Glenn is verlede jaar hier verby met die tandem, ek is sommer verheug want hulle was gou deur die bose riete, as die tandem hier kon uit moet ons ook, en baie vinniger.

Ons kry die bronsplaat en toe die gewraakte riete, gelukkig het August 'n goeie bosbreker in my, met die maak van 'n nuwe highway leer August 'n paar nuwe woorde. Self sit hy 'n paar keer liederlik vas, hy is nou bly die fiets is op die rug en nie in die hoogvoor nie. Anderkant uit is die De Decker broers voor ons, hoe is dit moontlik, hulle is dan deur die langer deel van die riete en dit moes hulle verseker langer geneem het ?

Toe sou ek die rede tot hulle vinnige vordering sien, David het 'n highway voetpad laat uitsny, die laaste deel sommer 'n 20 m wye brandpad, net om al die fun en games uit te haal, hy het wel soos die graf gewyg oor die highway. Wees nie bevrees nie ek en 'n paar oud stryders sal die highway kom toeplant, dis dan waaroor die hele Challenge gaan, hoe meer jy suffer hoe duideliker word dit in jou geheue ingebrand...........

Op die deuntjie van bobbejaan klim die berg, kruip en klouter ek die laaste deel van die berg uit, my sandverrekte Anysberg enkel praat in krutaal met my, die amperse loodregte hoek waarteen ons klouter staan my enkel glad nie aan nie. Al wat my nou aandryf is die Engelsman Melanie by die einde, ek kan nie wag om haar te sien nie. Bogekom hoor ek 'n bulderende stem my naam skree, ek sê vra David of dit Crous is en daar verskyn die engelsman. Crous het haar gebring, my oë skiet vol trane, die race is vervolmaak !!!!

Op 'n rots hoog bo die vallei omhels ek my 200 % sielsgenoot, die wonderlike oomblik word deur Stetteyns gesmee, verseel en ingebrand in my geheue vir ewig. Dit alles moontlik gemaak deur my groot pêl Carl Crous en David wat die nodig scenery voorsien het, die race is nou verby, dis net die bewegings tot die einde wat oorbly. Ek en my nuwe jarelange pêl van 15 dae en 'n paar ure, doen nabetragting oor die race, wat bly nou oor ?

Die Freedom Challenge in 12 dae sonder 'n rusdag, en ek glo dis moontlik in die perfekte weer wat ons gehad het. Nee ek dink ek gaan Tim se voorbeeld volg en die roete gemotoriseerd aan my familie wys, die wonderlike mense langs die pad aan hulle bekendstel. Stokkie koffie maak vir moeë ryers, lekker warm pap en die nodige morele ondersteuning gee, sommer net daar wees vir hulle.

Ek en August berkryp die eindstreep, 'n hele span mense wag ons in en ek is bly ek het met die jongman gestick, 'n hele nuwe lewens ervaring vasgebrand in ons geheue oor 'n paar vervoede dae.......

7/02/2010

Dag 15 'n Laaaang Dag Die Hel na Montagu

Kom doodmoeg en yskoud 6H20 by Montagu aan, ek het vuurhoudjies nodig om my ogies oop te hou, besluit op bioplus terwyl die winkel netnou oop maak. Vang 'n warm shower om die ysbere te verjaag en die skrefies ogies oop te maak en gefokus te kry.

Kry vir Andrew King van D4 Productions en sy kamera span by Montagu Hotel, Andrew vis uit na my planne, die plan is om Trouthaven te maak en dalk sommer klaar te maak afhangende van die slaapmonsters.
Jaag 'n lekker ontbyt deur en maak soos beesmis, val in die pad, die bioplus werk amper net so goed soos tannie Ronel van Anysberg se koffie. Hoor Carl het Stetteyns in die donker aangeval, nog nie uitgekom nie, seker maar daar iewers geslaap langs die wrak, of hy wag dalk voor die hek vir David om oop te maak< skielik voel ek baie spyt oor my besluit om die dag by Bucklands in te lê, moes dalk maar net deurgedruk het, maar dis nou gedane sake.

'n kameraspan doen darem wonderlike dinge vir 'n man se gemoed en energievlakke, kyk 'n man kan nie moeg en afgeleef op die kassie voorkom nie, August skuld net sy kop en lag in sy mou vir die dolle jaagtog waartoe die kameraspan my aanhuts. Laat middag val ons by Oestervanger Support Station in, dis altyd lekker om die laaste gasvryheid van die Freedom Challenge hier te geniet, gasvryheid en lekker kos en geselskap maak my lus vir die laaste jaagtog. Vroeg middag val ons in die pad en vorder goed, Trappieskraal tap die energie en stadig bekruip die slaapmonsters ons in die laaste lug, ek beplan om by die algemene handelaar te stop vir 'n lekker Coke. Die Algemene handerlaar is 'n miernes van bedrywigheid, dis naweek en die kaapsewyn vloei en daar heers groot joligheid en ek besluit dis 'n beter plan om in die stilligheid 5km verder eerder 'n lemoen onder die groot Bloekombomm te geniet. Ek gee my laaste Bioplus vir August, ek moet die man aan die gang hou, solank hy ry sal ek aan karring. Dis asof die slaapmonsters met elke trap nader aan die einde al groter word, hulle is besig om my te pak en stadig maar seker werk hulle my oë toe soos hulle die laaste energie van my tap.

Die laaste paar kilometer na Trouthaven raak amper te veel vir my, die Bioplus is uitgewerk en ek is moertoe met nog net so 5 kilometer of wat na trouthaven.August spook om my pikante lyfie regop te hou, dis glad nie maklik om 'n strompelende lyf  90 kg regop te hou wanneer die goed uitgewerk is nie. Ek loop soos 'n gans wat ver weerlig sien ses rye spore, ek is in my moer in, oorweeg dit om langs die pad te slaap, maar die Jongman weier volstrek. Hy voer my sy laaste Milobar en praat my krag in en so strompel ek voort tot Trouthaven voor ons verskyn, 'n hemelse gesig. Ons haal 4 dae se verlore slaap in 4 ure in, more gaan 'n harde dag wees......

Dag 14 Hel - Anysberg







Op gevries staan ons 5H00 op, ek probeer 'n piesang eet, maar die is ook gevries. Tim het gesê hy sal ontbyt maak vir ons, my GT is so goed geleer dat hy weet wanneer om te breek. My agterste rat kabel breek mors af by die derailleur op pad na Tim, Tim voorsien my van 'n kabel en walla fixed up. Eet 'n lekker ontbyt en trek 'n uur later weg, iets waaroor ek nooit spyt sal wees nie. Wonderlike mense, dankie Tim, Michelle en Murry dat julle ons in jul lewens toegelaat het. Die res van die dag is 'n wille jaagtog, August probeer die spoedrekord breek op Horlosiekrans afdraande, maar die wind briek ons. 14H00 in Rouxpos  eet Tannie Ronel se lekker kerrie en rys en die smul lekker wafel en roomys vir ekstra krag en 'n uur later val ons weer in die pad. August stotter nie meer nie, ek dink hy is ook nou lus om die dolle jaagtog vaarwel te roep.

Ons jaag om die afdraai na Anysberg in die laaste lig te vind, die hele dag was eintlik 'n jaagtog net sodat ons die afdraai betyds kon kry, ek het August belowe ons sal 'n blaaskans vat na die afdraai. By die verlate hek na Anysberg neem ons die blaaskans, lê plat op ons rug en peusel aan 'n lemoen en Tannie Ronel se padkos . Ons lê en bewonder die sterre prag en net voor ons aan die slaap raak val ons in die Anysberg sandpad, ek swik my enkel op die sandpad, vermoed ek hoor 'n luiperd in die donker en swyg daaroor. 22H00 in Anysberg, en besluit dis baie wys om te slaap vir 2 ure. Middernag onder die sterre prag val ons weer in die pad, sprakeloos bewonderend oor die hemelruim jaag ons voort, ek weet die einde lê net 'n dag of twee weg en dis nou tyd om klaar te maak. Met dagbreek land ons  6H00 in Montagu, nog 238 km agter die blad, doodmoeg maar sal Trouthaven vandag maak.

7/01/2010

Dag 13 Willomore - Hel







Willomore na die Hel in
 257 km  en 18 uur met 'n smile. Die wind waai nog maar jy kan ry, dis weer lekker om te ry.  So teen 1H00 trek ons weg uit Willomore, August is gecharge, ek is gecharge  en dis weer lekker om te ry. August wil afdraai na Rondawel, ons top vir water, die mense is nie daar nie as ons honger is vir die lekker pampoen koekkies moet ons afdraai na Visgat en dis 'n 14km draai. My hogerpyne verwyn eensklaps, August vol gedwee en ek verseker hom in Prince Albert wag 'n baie lekker bord kos vir hom.

Die sinkplaatpad  stamp een standaard gobi saal binne in my gat in, ek sukkel nou nog om my fiets van my agterstewe te skei. Ons eet gou iets by Ria en Lindsey en 16H00 is ons oppad Hel toe, die keer kan ek die asemrowende Swartbergpas in daglig geniet. Ria se krag kos pomp nuwe bloed in August se are, hy ry sommer die hele pas uit en ek is trots op die jongman se nuut gevonde krag. Met die afrdaai na die Hel het iemand 'n moerse vrieskas oop vergeet, vinnig word dit bitter koud. Ons volg die Hel se kronkelende paaie, die moegheid pak my beet en August begin weer amps trek. In die verte sien ek ligte, Lyk soos 'n vuurtoring wat sy ligte vir ons flits, maar hier is nie vuurtorings nie, drygende gevaar met die afdraande pad wel, maar verseker nie vuurtorings nie.

Dis laat nag en ek begin wonder of die flisende vuurtoring lig nie dalk 'n beskerm engel van die hemel is wat gestuur is om ons teen die baie gevaarlike afdraande te beskerm nie toe 'n Engel genaamd Tim James verskyn met lekker sterk stokkie koffie net om ons wakker te hou. Tim James is 'n groot naam op die Freedom Challenge, ek het baie respek vir die man en net sy omgee teenwoordigheid spoor my weer aan teen nuwe hoogtes. Dis 'n groot voorreg om net die man se hand te kan skud, wat nog van om twee keer deur hom op die Freedom Challenge bedien te kan word ?

Vriesend hou is nie die woord nie, dis moerse vriesende koud teen die pas af en dan moet 'n man nog met jou gevriese vingers die brieke beheer teen die styl pas af, 'n lekker afdraande is my kos en ek gebruik nie sommer brieke nie, maar die koue briek my en ek trek brieke vas om te voorkom dat ek vries.

Net om seker te maak ons is in die Hel slaap ons in 'n karavaan, dis so koud my wasem verander in sneeuvlokkies. Hierdie plek van suffering sal ons gou moet verlaat, selfs my ontbyt broodjie is al gevries, om ons gevriesede lywe te ontvries maak ek vuur, die warm stort in die rietafskorting het nie baie gehelp nie. Die vuur help ook nie baie nie, van voor is jy bietjie warm en van agter is jy kliphard gevries, al wat oorbly is slaap. Hoop ons kan slaap in die koue en hopelik word ons wakker uit die koue slaap......